Jongste aktiwiteit:

Skoonma se tong

(Woordtelling : 1223)

 

Skoonma draai verseker 365 grade in haar graf om as sy my nou kon sien! Die feit dat ek nog altyd graag kaalvoet geloop het, het haar glad nie aangestaan nie. Op my 30e verjaardag het sy my sonder seremonie vertel dat dit nou tyd geword het dat ek skoene moet dra. En nou, drie dekades later onthou ek nog steeds waarom ek nie geluister het nie.

Skoene dra is vir wanneer jy in die openbaar moet verskyn. Die res van die tyd mag ek doen wat vir my lekker is. Die tyd is verby dat ek ʼn ander toelaat om kritiek oor my doen en late te gee, nogal in my eie huis ook! Die meeste familie het al teen hierdie tyd gehoor dat die voordeur baie wyd oopstaan indien hulle nie van my gewoontes, denkwyse of gebrek aan kombuisvaardighede hou nie.

Dit is okei as jy nie van my hou nie, ek hoef ook nie om te gee nie, en ek verloor nie meer slaap daaroor nie. Dit is bevrydend om gelukkig te wees in die wete dat nie almal van almal hoef te hou nie. Soms is familie net daardie mense met wie jy teen wil en dank moet klaarkom.

Maar terug by die genot van kaalvoet loop. Wat is dan lekkerder om die heerlike, sagte, koeligheid van vars mos, of die druppels van vroegoggend dou onder jou voete te voel? Wanneer jy sommer so weg sink in die weligheid van ʼn goed gevestigde grasperk en die vars gesnyde gras aan jou nat tone klou.

So nou en dan kom spook skoonma by my, veral wanneer ek weet ek is met iets besig wat haar grensloos sou irriteer. Dit is maar moeilik om die ligte fladdering van uittartende vermakerigheid te keer! My eie moeder het hoeka gesê ek is ʼn rebel en moeilikheidmaker. Dan is dit mos gepas dat ek die mor-koppe en alewige kritici bietjie kan tart, al is hulle nie meer in vlees deel van ons lewens nie.

As dit nie die een ding was nie, dan was dit ʼn ander, maar daar was byna altyd iets om kritiek oor te lewer. Dit is debatteerbaar of die gebrek aan skoene dra, of die stof op die bokant van die gangdeur, die grootste irritasie veroorsaak het.

Aambeie gebeur wanneer jy op ʼn koue trap sit. Nat hare veroorsaak verkoue. ʼn Doodgewone lekker ou nies is die bewys dat jy dodelik siek is. Te veel rooivleis met aandete, en nagmerries is jou voorland.

Moet net nie in die son langs die swembad lê nie want… Ek kan nie eens meer onthou nie. My oë het heel waarskynlik so hard omgedop dat die oneindige stroom kritiek nie kon insink nie.

Om wasgoed op te hang terwyl jy swanger is sal die naelstring om die baba se nek draai. My geduld was byna vergete terwyl ek verduidelik het dat arms bo jou kop het geen uitwerking op dit wat in jou baarmoeder aan die gang is nie. En buitendien, watter slaaf gaan die wasgoed ophang as swanger mamma dit nie mag doen nie?

Sug.

En in elk geval, wie gee nog om vir die ouer geslag se ongestaafde gelofies waaraan hulle so vasgeklou het? 99% daarvan is in ieder geval net ʼn pot vol, uhm, twak. Die probleem is net dat wanneer mens hierdie goed saam met jou pap en melk ingekry het, en jy dit nie iewers in jou lewe begin bevraagteken nie, dan stel jy jouself bloot vir Ano se oog-rolle. Immers is daar nie pille vir onnosel nie. En mense wie se snert-metertjie nie werk nie, het nie sitplek in my lewe nie.

Die verandering in denke het met Generation X begin. Elke geslag word gebore met ʼn sterker intuïsie wat ou gewoontes en -sienswyses, ou maniere van doen en dink, net al hoe makliker bevraagteken. Hulle is oënskynlik baie meer wys as die ouer gardes.

Hoe jonger die geslag, hoe minder vatbaar is hulle vir die ou stories wat van geslag na geslag oorgedra was. Dit is asof hulle pasklaar met kritiese denke die lewe inkom. Dit is sommer-maar-net daar, tesame met ʼn ongelooflike vertroue vir die tegnologie wat die meeste ouer mense steeds laat sidder. Hoe nuwer die geslag, hoe minder word hulle geflous met allerhande oudmodiese idees.

Hulle is net anders. Byna ‘n heel nuwe spesie wat soos die res van die bevolking lyk, net om nie onnodig aandag te trek nie.

Jy kan ook nie meer vir ʼn kind sê, “omdat ek so sê” nie. Daardie ou ding geld nie meer in vandag se tyd nie. Kinders wil weet, en hulle skroom nie om te sê dat jy nou snert praat nie. Selfs my vyfjarige kleindogter aanvaar nie sommer alles wat ek haar vertel nie. Sy is verseker meer wys as toe ek vyf jaar oud was. Haar snert-metertjie is vlymskerp en sy sien alles raak. Alles.

Vandag se jong volwassenes steun ook nie meer so hard op ander se goedkeuring nie. Hulle het genoeg selfvertroue om hul pad met trots en waardigheid te stap. Hulle dra wat hulle wil, is openlik lief vir wie hulle lief is, en doen dinge net op ʼn ander manier. Dit is nogal verfrissend om te sien dat ʼn jong meisie weier om haar beenhare te skeer net omdat die res van die samelewing dit doen. Self sal ek dit nooit waag om my beenhare so lank te laat word dat dit gevleg kan word nie, maar al hoe meer jongmense het geen probleem daarmee nie. Dankie tog dat sy ʼn bloes met moue gedra het, anders… Jig.

Ek kan my gedagtes rondom baie goed verander, maar ʼn oormaat van pikswart hare op al die ontblote plekke van my lyf klink skrikwekkend. Dit is die soort goed wat my nagmerries gee, nie ‘n lekker ou stukkie half-gaar beeshaas nie.

Ewenwel, ek voel opgewonde oor die toekoms en hoe dit verander. Opgewonde omdat die nuwer geslagte minder gestrem word deur die voorskrifte van die samelewing. Al is goeie maniere nog steeds belangrik, het tannie Emsie Schoeman se onbuigsame voorskrifte saam met die gestyfde wit linne servette by die agterdeur uitgewaai. En toe ek haar onlangs ontmoet het, was ek maar dankbaar dat ons nie ʼn tafel gedeel het nie. Sy sou dalk nie so vriendelik gewees het toe ek my goeie maniere vergeet het en ken-in-die-hand en elmboë op die tafel die res van die geselskap sit en bekyk het nie.

Ja ou Moeder, vergewe my asseblief omdat ek vir die duisendste maal my maniere by die huis vergeet het. Nogal in die teenwoordigheid van ons groot etiket-dame!

Ek kan ook net hoop dat ek nie onbewustelik ongure gewoontes van kritiek oor my skoonseun (of enige ander persoon), soos weerligstrale laat neerkom nie. Maak nie saak waar en wie nie, ek probeer om my woorde versigtig te kies en nie als uit te blaker wat deur my gedagtes spoel nie. (My skrywende vingers hou egter selde by daardie reël.) Nie om iets voor te gee wat ek nie is nie, maar omdat ek ʼn groter bewustheid het van hoe mens se woorde ander beïnvloed en hopelik met sagter oë na ander se gewaande foute te kyk. “Foute” wat in elk geval net ʼn ander manier om dieselfde ding te gedoen te kry. Niks is immers verkeerd nie, dis net anders.

 

© Susann Moolman




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • HENN het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van inkhoringinkhoring is nou vriende

  • HENN het ‘n nuwe publikasie gemaak