Jongste aktiwiteit:

Goggas van die kunstefees

(Woordtelling : 753)

 

Dat ek nou so oud moes word voordat ek die KKNK vir die heel eerste keer sou kon bywoon. Die immer gewilde Klein Karoo Nasionale Kunstefees wat alreeds 20 jaar bestaan. Vriendinne het al hoeka vertel dat ons moet gaan kyk, maar daar was eers nie geld nie, en toe was die plek weer te ver. Om darem honderde kilometers te reis na ʼn plek wat iets aanbied waaraan ons maar langtand kou het nie vreeslik aanloklik geklink nie. Is die KKNK nie maar net soos al die ander feeste nie? Kos, honderde stalletjies en ʼn paar sangers wat lawaai maak. Of dit nou die Varkfees, Wildsfees, Nartjiefees, Boeregeesfees, Mampoerfees, Aarbeifees is, op die einde van die dag is hulle maar almal dieselfde. Dit is net die naam en die dorp waar dit aangebied word wat verskil.

Om darem so ver te reis net om ʼn opvoering of drie te sien, is debatteerbaar. Dis nou ook nie asof ons elke liewe kunstenaar wil sien nie en sedert ek ʼn ouderdomsbeperking-bloutjie by ʼn opvoering geloop het, is ek versigtig. Stilletjies word ek gewaarsku dat sekere kunstenaars se vertonings effens onder die belt kan raak, so kies maar versigtig waar jy jou geld wil spandeer.

Ek het een aand lekker snoesig in die bed gelê en lees toe die klanke van Rocco de Villiers se klavierspel my aandag trek. My opgewondenheid het geen perke geken toe ek hoor dat hy en Coenie de Villiers ʼn paar vertonings by die KKNK gaan lewer nie. Nog voor ons die ligte vir die aand afgeskakel het, was twee kaartjies bespreek. Nou moet ons nog net blyplek kry, maar dit is more se probleem.

Nou ja, ek het geweet dat die dorp seker van besoekers sou oorloop, maar het steeds gehoop dat daar darem nog ʼn lêplekkie vir twee mense iewers in die grote Oudtshoorn te vinde sal wees. Elke advertensie op Lekkerslaap is goed bekyk. Die foto’s en die mense se indrukke van die plek het gesorg dat ek navraag gedoen het, of dit doodeenvoudig afgekeur het. Niemand wil immers in ʼn murasie oorslaap nie, soos een kuiergas ʼn plek genoem het. Skynbaar was daar nie water beskikbaar nie, die kombuis was gemuf, en jou veiligheid was nie gewaarborg nie. As net een persoon sulke kommentaar gelos het, was dit miskien net ʼn slegte dag, maar wanneer daar meer mense oor min of meer dieselfde goed kla, moet jy maar luister. Moontlik het dit net in die laaste jare effens verval, wie sal weet?

Tannie Stienie se plekkie lyk soos ʼn kamer in ʼn ouetehuis en ons sal ʼn badkamer met ander mense moet deel. Ander beskikbare blyplekke se prys is so hoog dat ek eers ʼn paar aandele sou moes verkoop. Ons prysklas is blykbaar almal op redelik nabygeleë plase, maar ons wil nie in die nag kilometers ver in ʼn onbekende omgewing rondry nie. Ons enigste ander opsie was die hotel in die middel van die dorp. Was dit drie of vier sterre? Maak dit saak, want daar is darem nog ʼn leë kamer beskikbaar. Die bed is gemaklik, en die badkamer is bietjie donker. Tog het mens seker nie ʼn vreeslike skerp lig nodig wanneer jy stort nie. Teen hierdie tyd behoort jy al die plekke te kry wat geskrop moet word, met of sonder goeie lig.

Die feit dat ons sommer twee dubbelbeddens in die kamer gehad het, was wonderlik. Ek sorg dat ek vraatsig ʼn hele bed net vir myself opeis. So ʼn geleentheid doen homself immers selde genoeg voor, en ek hou daarvan om op my eie te slaap. Die probleem was net dat óf net die een bed het goggas ingehad, of hulle het nie van die Ouman se smaak gehou nie. Hy wil mos so baie knoffel eet, maar op hierdie oomblik blyk dit ʼn goeie ding te wees.

Soos gewoonlik staan die Ouman die volgende oggend op en gaan aan met sy lewe asof niks hom pla nie. Wel, niks hét hom gepla nie, maar hierdie Antie is letterlik van bo tot onder geproe en gevreet. Dit lyk asof ek die plaaslike buffet vir elke honger gogga in die hotel was. En dit jeuk.

ʼn Week later krap ek nog dat die velle waai. ʼn Maand later jeuk sommige van daai plekke nog steeds. Sal ek weer in Oudtshoorn gaan kuier? Miskien sal ek volgende keer net vroeër bespreek en seker maak dat ons ʼn skoon blyplek sal kry. Die groot Vlooi Hotel is ongelukkig nie goed genoeg nie!

 

© Susann Moolman, 2025

 

 




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed