Stil verlate #silwer
Ons leef in ’n tyd waar die strate soggens dreun van motors, waar restaurante saans gloei van lig en lag, en waar selfone onophoudelik vibreer met name en boodskappe. Tog, iewers tussen die geraas en die glans, stap daar iets stil saam met ons. ’n Onsigbare metgesel. ’n Hunkering om werklik raakgesien te word.
Ek sien dit in die man wat by die koffiewinkel sit en voorgee hy lees, maar eintlik net wag dat iemand hom moet herken. Hy is mos bekend op TikTok. Ek hoor dit in die vrou se lag agter die toonbank, helder en oortuigend, maar haar oë bly moeg. Eensaamheid sit nie net op bankies in parke nie. Dit sit langs jou in vergaderings. Dit glimlag breed in familiefoto’s. Dit lê saans wakker langs iemand wat jou naam ken, maar nie jou vrese nie.
Ons word grootgemaak met die idee dat ons sterk moet wees. Onafhanklik. Selfstandig. Ons word bewonder vir hoe goed ons “cope”, hoe min ons kla, hoe opgevoed ons ons laste dra. Maar min mense vra: Wie hou jóú vas wanneer jy moeg is vir sterk wees?
Ons word verbind deur WiFi en boodskappe, deur emojis en vinnige stemnotas. Tog ontkoppel ons in die stilte van die hart. Ons sê maklik: “Ek is fine,” terwyl die donker binne-in ons ‘n sagte sug gee.
Miskien is eensaamheid nie ’n gebrek aan mense nie, maar ’n gebrek aan veilige spasies, plekke waar harte kan oopvou sonder oordeel, sonder maskers.
Eindelik verlang elke mens, hoe hard of sag, hoe suksesvol of stukkend, na een eenvoudige wonderwerk: dat iemand sal bly. Sal luister. En nie sal wegkyk wanneer die maskers afval nie.
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir FEBRUARIE 2026 – OOP projek