vlegsel (Goud) 365 woorde
Ek en my sibbes het onlangs ons ouerhuis gaan leegmaak, nadat my ma ook oorlede is. Ek het in ‘n ander wêreld inbeweeg soos ons die een na die ander bekende voorwerp, foto en speelding ontdek het. As volwassenes, het almal van ons die meeste van die goed in ons kindertyd laas gesien en hanteer. Ons was dus ook op ‘n nostalgiese reis, as sulks.
Met ‘n bakkievrag ma-se-goed en my baba-album onder my arm het ek later by die huis aangekom en my aandpligte vinnig afgehandel. Daarna het ek gaan sit en my ou foto album oopgeslaan
My swart-en-wit babafoto’s, waarna ek bitter lanklaas gekyk het, het my geroer op ‘n ander vlak as vorige kere. Dit is dalk omdat ek raak aan sestig, wie weet?
Dit was en is steeds vreemd om aan myself te dink as ‘n brose baba, om te besef dat ek pap en weerloos en gedagteloos was. Soos ek ouer geword het, het my menswees begin ontwikkel, maar ek kan dit nie tree vir tree onthou nie. Dis asof ek maar sommer net vanself, ék geword het.
Nog iets wat my ma al die jare gebêre het, is ‘n vlegsel van my hare. Sy het my lang, blonde vlegsel laat afsny iewers in my Gr 1-jaar en dit sorgvuldig bo in haar kas gebêre. Die dag van die groot skoonmaak, het ek dié vlegsel gesoek, later koorsagtig, maar nie gevind nie. Ek wou vat en ruik aan die hare, dit koester teen my wang, die sysagtheid daarvan tussen my vingers voel. Dit sou my nader aan die dogtertjie-ek laat voel het as die foto’s. Dit was helaas nêrens te vinde nie en om die een of ander rede is daar nou ‘n klein-klein leegtetjie iewers hier binne my. Dalk wou ek dat my vlegsel alles waarvoor ‘n dogtertjie-vlegsel vir my staan, weer aan my terug besorg: onskuld, vreugde, sorgeloosheid, geluk en eindelose vertroue in die lewe?
Telkens wanneer ek net alleen wil wees met my gedagtes oor my lewe, vat ek my baba album en gaan nestel iewers. Ek het vrede gemaak daarmee dat die vlegsel en alles wat dit vir my vergestalt, vir altyd verlore is vir my.
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Maart 2025 – OOP projek