Jongste aktiwiteit:

Die linkse se stryd is werklik

Thea is links. Maar nie op die manier wat jy sou dink nie. Nie polities of ideologies nie. Nee, sy is net … links. Sy sal jou vertel dat hierdie wêreld so regshandig is soos tant Rina se Bybel met onderstreepte verse. Dit is ‘n stryd maar tog ‘n vindingryke stryd.

Van die begin af is sy al agter die klip.

Op laerskool moes sy leer skryf met haar hand in ’n akrobatiese semi-maanvorm, net om nie haar hele opstel soos ’n potloodgrys storm te laat lyk nie. Elke sin het geëindig met ’n sweetdruppel, ’n krom rug en ’n grys vlek op die palm. En dan was daar nog die boek met ’n spiraal aan die linkerkant, dit was ‘n marteling. Dis soos om jou hand deur ’n tuindraadhekkie te trek terwyl jy probeer om ‘n sin te voltooi. Dit was asof dit ontwerp was deur ‘n regshandige persoon wat kwaad was vir ‘n linkshandige persoon. Lekker aspris! En om die kersie op die koek te plaas, sal die onderwysers nog van haar verwag om dit netjieser te doen.

Ma het haar eenkeer probeer leer hoe om te brei. Thea het uiteindelik ’n wolstuk aan mekaar geslaan, maar die steke het so verward gelyk soos ’n tiener op Valentynsdag. Ma het haar aangekyk met daardie kyk van “ag shame tog, my arme kind.” Tog het Thea haarself oortuig dis ’n kunsprojek en dié een is ‘n wenner. Gelukkig het Ma innoverend geraak met die leerprosesse, soos toe sy haar geleer het om skoenveters vas te maak terwyl sy in die spieël kyk. Dít was darem ’n maklike leerpoging. Maar die res? Nie so maklik nie.

n Linkshandige skêr was so skaars soos parkeerplek voor Kersfees. En ’n regshandige skêr vir ’n linkshandige is soos ’n wipplank met net een kind op; daar is altyd ’n wanbalans. Ná genoeg geknip moes haar hand amper rehabilitasie toe gaan., want dit werk soos ou Auntie Stienie van Jan Bom se opinies, lekker halsstarrig en rebels. Die geknipper-affêre was vir Thea soos ’n duiwelse diagonale aborsie. Vandag bewaar sy haar linkshandige skêr soos ‘n jaloerse mamma-beer.

En dan die soplepels. Altyd verkeerd. Sy moes haar eie metode ontwikkel, so half links-in-die-lug, amper asof sy ’n boemerang vashou, want die tuit sit mos aan die verkeerde kant. Met elke skep het sy gewonder of daardie soplepel nie dalk deel is van ’n sameswering teen linkses nie. Hulle sê mos linkses is die slimmes van die samelewing. En vir daardie voorreg moet hulle uithaal en wys, elke alledaagse taak is ’n toets. Maar Thea het geleer: sy het geleer om lepels anders vas te hou, sopbakkies strategies te draai, en sop van regs af aan te val met haar linkerhand soos ’n ninja wat terugkeer uit ’n warm lensiesop-oorlog. Ja, sy het elke “toets” oorkom.

Al klink dit of linkses net deur ’n regshandige hel moet lewe, is daar tog ’n paar lekker voordele. Byvoorbeeld: Thea het netbal gespeel, en dan, kom sy met daai linkse draaibal, gooi dit sekuur verby haar verbaasde regshandige opponent vir ’n perfekte doel, en stap weg soos iemand wat ’n skaars Pokémon-kaart besit.

Maar kom ons wees eerlik: van deure oopmaak tot skottelgoed was, is amper alles ontwerp en geïnstalleer vir regshandiges. En in die lewe as ’n linkshandige? Jy moet elke dag kreatief dink en wees. Hulle leer om dinge te doen op maniere wat niemand behoort te doen nie. Hulle sny selfs appels met ’n draai, maak koffie met ’n slingerbeweging, draai boeke om, en doen dit alles met fyn beplanning.

En tog is links wees nie ’n fout nie. Dis nie ’n defek of ’n uitsondering waarvoor jy stil moet bly nie. Dis ’n liggaamlike herinnering dat om anders te wees nie beteken om minder te wees nie. Hulle is die ander hand, die een wat vashou wanneer almal los, die een wat begin waar die meeste eindig.

Links is die plek waar kreatiwiteit woon, waar drome geskryf word in ’n taal wat nie deur netheid of gemak gedefinieer word nie. Hulle is die spieëlbeelde van gewoontes. Hulle hou die wêreld vas; verkeerd om vir ons, maar reg vir hulle.

Linkshandiges is die Da Vinci-legendes van hul eie wêreld.

709 woorde

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed