Jongste aktiwiteit:

Links of Regs jy is ‘n Wenner

Tema: Die Linkerhand se Lot

BRONS

(Kortverhaal – Woordtelling 1368)

Geskryf deur Theresa Janse van Vuuren

 

Links of Regs, jy is ‘n Wenner!

“Nee Max, neeee, neeee, moenie, asseblief Max, neeee, neeee, sit neer die hammer!” gil Ans angsbevange.

Max ‘n dwelm- en drank verslaafde, is egter soos ‘n redelose dier, verby die grens van normaliteit. Hy slaan onophoudelik todat Ans se stem stil word. Dan gryp hy die verwilderde tweejarige Winan wat agter die bank wegkruip… ‘n Enkele skoot klap

Aan die voet van Tafelberg is ‘n weeshuis met die naam: Hande na Bo.

Een van die seuns in die weeshuis, Winan, is ‘n slagoffer van huisgeweld. Hy was slegs twee jaar oud toe sy stiefpa sy ma met ‘n hammer voor sy oë doodgeslaan het. Winan wat vreesbevange was vir sy stiefpa, het ook onder sy woede uitbarsting deurgeloop. Hy het Winan se regterarm genadeloos met dieselfde hammer vergruis en homself daarna in die kop geskiet. Dit het Winan baie lank geneem om die angs en trauma te verwerk, veral omdat sy arm afgesit moes word.

Winan, wat geen ander familie gehad het nie, het by ‘Hande na Bo’ beland – uitgelewer aan ‘n wrede wêreld.

Winan, wat regshandig gebore was moes van vooraf leer om alles met sy linkerhand te doen. In ‘n wêreld waar regshandig die norm is, is hy van kleins af gespot met byname: ‘Lefty, Pumpkin, Dommie.’

“Los my uit!” sou Winan hulle toesnou, maar dit het hulle net aangespoor om nog ‘n hele paar ander afbrekende name by te voeg. Hy het dikwels nagmerries gekry en homself aan die slaap gehuil.

Die seerkry het hom in sy dop laat kruip. Hy het al minder met ander kinders gemeng. Arme Winan, hy het met groot moeite alles met sy linkerhand probeer doen. Hy kon egter nie altyd daarin slaag om alles perfek, soos hy dit graag sou wou doen, regkry nie. Dit het sy moed gebreek!

By die skool was die onderwysers ook glad nie genadig of simpatiek nie. Hulle sou Winan soms dwing om onmoontlike takies uit te voer, byvoorbeeld uitknipwerk met ‘n regshandige skêr. Die trane het in sy oë gehuiwer, maar hy het sy tandjies vasgebyt en nogtans sy bes probeer. Sy beste was egter nooit goed genoeg nie! Hulle wrede aanmerkings het hom rebels en opstandig gemaak.

Winan het ‘n minderwaardigheidskompleks ontwikkel. Hy het nutteloos gevoel: ‘n mislukking. Dit het daartoe bygedra dat hy self afknouerig begin word en het al sy woede en frustrasie op sy mede-skoliere uitgehaal. Hy het begin glo dat linkshandiges nie dieselfde sukses kan behaal as dié wat regshandig is nie. Winan was baie eensaam… Hy het niemand gehad by wie hy sy hart kan uitstort nie, ook niemand wat hy kan vertrou nie.

‘n Paar jaar later…

“Winan, Winan!” het die mense op die paviljoen hom staande toegejuig toe hy ‘n tenniswedstryd wen. Hy het ook uitgeblink as kortafstand naelloper. Sy vreugde was egter van korte duur. Kinders is wreed en jaloers… hulle hom nog steeds gespot: ‘Looser!’ Dit het sy minderwaardigheidskompleks gevoed. Die bietjie selfvertroue wat hy nog gehad het, het finaal geknak. Sy menseverhoudings het daardeur groot skade gely. Hy het homself aan alle aktiwiteite onttrek – dit was ook die einde van sy sportloopbaan.

Winan kon die vernedering nie meer langer verduur nie. Hy is vyftien jaar oud toe hy wegloop. Hy word egter telke male gevind en teruggeneem, maar dan het hy maar net weer weggeloop. So het hy in ‘n verbeteringskool beland. Daar het hy bevriend geraak met ‘n linkshandige meisie, Ceilan, wat gebonde was aan ‘n rystoel. Met baie geduld het dit haar lank geneem om sy vertroue te wen.

Winan het sy hart stadig maar seker oopgemaak vir Ceilan. Sy het hom geïnspireer met haar vasberadenheid en kreatiwiteit. Die feit dat sy in ‘n rolstoel was, het haar nie teruggehou om ‘n volle lewe te ly nie. Winan het haar bewonder vir haar pragtige skeppings- en uithouvermoë. Hy het haar beny vir die mooi beeldhouwerk wat sy met haar linkerhand doen.

Ceilan het Winan gehelp om sy selfvertroue te herwin. Sy het hom aangemoedig om weer in homself te glo.

“Winan, dit is tyd om selfondersoek te doen. Diep binne jouself sal jy iemand met ‘n sterk wildskrag vind.”

Ceilan se vertroue in hom het hom groter hoogtes laat bereik. Sy het hom laat glo dat hy suksesvol kan wees in alles wat hy aanpak. Hy het die wêreld met nuwe oë begin aanskou. Sy linkshandige kreatiwiteit het hom bo ander laat uitstyg!

Ceilan, ek is baie lief vir jou,” sê Winan eendag skaam-skaam uit die bloute!

“En ek vir jou ook Winan. Jy neem ook maar jou tyd om wakker te skrik om te sien hoe lief ek jou het,” skerts sy.

“Ceilan, my alles, my veilig hawe waar ek veilig voel. Vir die eerste keer in my lewe beleef ek wat liefde is en voel ek of ek iewers behoort. Ek was nog nóóit so gelukkig soos nou nie.”

Hy steek sy hand na haar uit en sê: “Sien jy, ek het nog my linkerhand, een waaraan jý ‘n trouring kan aansit?

“Bedoel jy ek moet joú vra om te trou?” vra sy verbaas.

“Hoekom dan nou nie?” hartlag hy. Tog met emosie in sy stem.

Ceilan se oë blink van vreugde toe sy antwoord: “Ja my liefling, ‘n duisend maal ja!, sal jy?”

Hulle liefde vir mekaar het geblom. Sy beker het oorgeloop van vreugde – hulle was absoluut onafskeidbaar. Sy het hom geleer van Jesus en van onvoorwaardelike liefde. Ceilan het Winan ten volle bygestaan toe hy ná skool op universiteit gaan studeer. Hy het sommer in die eerste jaar al uitgeblink onder sy medestudente. Sy kommunikasie- en probleemoplossingsvaardighede het met rasse skrede verbeter en hom geleer om in sy omgewing aan te pas.

Winan het sy graad as Professor met trots ontvang en vinnig bekendheid verwerf. Hy het met sy hotklou alle uitdagings baasgeraak en die hoogste sport bereik.

Met Ceilan, sy vrou as steunpilaar, het Winan ‘n bekende skrywer geword. Tydens sy eerste boekuitstalling vertel hy sy lewensverhaal:

“… Dit is hoe om jouself te aanvaar en nie terug te staan vir dié wat jou afkraak nie. Net omdat jy nog nie jou eie uniekheid ontdek en besef het nie, maak jou nie minderwaardig nie. Jy kan as linkshandige beduidende bydraes tot die wêreld maak sonder om anders as die res van die mense te voel.” Winan het ook beskryf hoe dit is om buite die boks te dink en onkonvensionele oplossings te verken.

“Deur jou linkshandigheid te omhels en te aanvaar, kan jy alle uitdagings in ‘n unieke voordeel verander. Kyk na bekende linkshandiges wat wêreldbekend geword het, Soos byvoorbeeld, Albert Einstein, die eerste fisikus. Die kunstenaar Leonardo da Vinci en selfs Jimi Hendrix, die legendariese musikant. Of jy nou linkshandig of regshandig gebore word, bepaal nie watter tipe mens jy is nie. Wat jy daarvan maak is al wat saak maak. Hoe jy uitdagings of struikelblokke wat oor jou pad kom hanteer, linkshandig of regshandig, hang van jouself af!”

Winan en sy vrou het ‘n slypskool begin vir linkshandiges. Een waar hulle hul eie kreatiwiteit kon uitleef en nuwe skeppings kon uitbeeld. ‘n Plek waar hulle hul eie waardes sal besef en aanvaar dat hul andersheid hul uniek maak.

‘n Paar maande later word Winan en Ceilan die trotse ouers van ‘n tweeling. ‘n Pragtige seun, Winston, en ‘n dogter, Cyda. Tot hul verbasing en blydskap is albei linkshandig.

Reeds van jongs af leer Winan hulle om te lees en navorsing te doen oor die struikelblokke wat linkshandiges in die gesig staar om hulle te beskerm teen mense wat neersien op linkshandiges. Hy doen alles in sy vermoë om hulle aan te spoor om hulle uniekheid ten volle uit te leef en om hulle van seerkry te vrywaar. Hy sal nie toelaat dat sy kinders dieselfde verwerping en trauma deurgaan wat hy as kind ervaar het nie!

Baie trots staan Winan en Ceilan langs Winston toe hy die Nobelprys vir sy boek: Links of regs, jy is ‘n wenner! ontvang.

Op haar beurt word Cyda ‘n tenniskampioen en afrigter vir linkshandige tennisspelers.

Vandag besef Winan dat dit nie jou uniekheid as linkshandige is wat jou groot hoogtes laat bereik nie, maar jou geloof in die Here wat jy heel bo-aan jou prioriteite moet stel.

©️theresajansevanvuuren

 

 

 




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed