Jongste aktiwiteit:

Die Raad van Regshandiges

Tema: Die Linkerhand se Lot

BRONS

(Kortverhaal – Woordtelling 1292)

 

Die Raad van Regshandiges

Dit is die jaar 3000… Die wêreld is in rep en roer. ‘n Sekere tiran, Martinez, pas dieselfde metodes toe as die berugte Adolf Hitler, ‘n Duitse politikus en leier van die Nazi-party, om die regering stadig maar seker te beïnvloed om sy ideologieë aan te hang. Hy oortuig hulle dat linkshandigheid ‘n gebrek is, ‘n genetiese fout wat ‘reggestel’ moet word. Sedertdien broei ‘n diaboliese plan in sy kop… Sy motief daaragter is baie meer sinister!

Op Martinez se aandrang stig die regering ‘n ‘Raad van Regshandiges’ wat hy met ‘n ystervuis regeer. Linkshandiges word intens vervolg. Hy inisieer ‘n losprys wat in ‘n wrede en ondenkbare sitiuasie ontaard. Ouers, verblind deur geld, gee hul linkshandige kinders sonder enige wroeging net so oor in Martinez se kloue om ‘reggestel’ te word. Die Raad is ekstaties, maar hulle is egter nog steeds op die spoor van die ander wat wegkruip …

Dit is ook die jaar van uitstaande tegnologiese vooruitgang, waar robotte en kunsmatige intelligensie (KI) die meeste take oorgeneem het. Onder die blink oppervlak is daar egter ‘n onheilspellende komplot tussen die robotte en Martinez aan die brou. Martinez is ‘n voortreflike wetenskaplike, maar het ‘n afskuwelike plan bedink. Om sy onheilige eksperiment tot uitvoer te bring, dring hy daarop aan dat alle linkshandiges in sy kliniek opgeneem word om ‘n ‘regstellings-proses’ te ondergaan. Niemand weet egter van sy ander bisarre plan in sy ondergrondse laboratorium nie.

Adrie, ‘n briljante en vindingryke 17-jarige linkshandige, leef in voortdurende vrees om ontdek te word. Sy het vinnig geleer om aan te pas, om haar ware aard agter ‘n masker van regshandigheid weg te steek. Haar vriendin, Bets, se linkshandige beste vriendin, Marina, was egter nie so gelukkig nie. Sy is gou uitgesnuffel en deur Martinez ‘reggestel’ – gedwing om ‘n pynlike en aftakelende prosedure te ondergaan om haar brein te ‘herbedraad’!

Die prosedure was egter nie volkome geslaagd nie; Marina se linkshandigheid duik weer op. Sy vlug vreesbevange, maar daarmee saam met ‘n vurige vasberadenheid om terug te veg. Adrie sluit by Marina aan in haar soeke na geregtigheid. Saam kom hulle af op ‘n ondergrondse beweging van linkshandiges wat vasbeslote is om die Raad van Regshandiges omver te werp. Marina en Adrie bevind hulself gou aan die voorpunt van die rebelle wat wraak sweer.

Intussen is Martinez besig om voort te gaan met sy bose bedrywighede. Sy grootste begeerte is om hibriede robotte te skep wat mens- en KI-vermoëns besit. En dít het niks met linkshandiges te dóén nie. Hy het die Raad mislei deur hulle aandag op linkshandiges te vestig terwyl hy eintlik ‘n ander motief het!

Die embrio is amper gereed om ingeplant te word. Die meisie wat hy gekies het, het intussen ernstig siek geword … ook ‘n eksperiment wat skeefgeloop het. Hy het haar te veel steroïede ingespuit. Dit kan hom egter min skeel en beveel een van die robotte om van haar ontslae te raak.

Die linkshandiges wat Martinez se afgryslike metodes teenstaan, word gedreig: “Julle sál julle samewerking gee óf julle families ly daaronder!”

Terwyl die oorlog tussen links- en regshandiges steeds woed, ontdek Marina dat die eksperiment waaraan sy onderwerp was, haar met unieke vermoëns toegerus het. Sy kon met die robotte en KI-stelsels wat die stad beheer, inskakel, wat haar toegelaat het om die Raad se bedrywighede van binne te saboteer. Martinez het onwetend reeds bereik wat hy eintlik wou bereik het met sy hibriede embrio’s.

Die linkshandiges is verreweg in die minderheid. Hulle onttrek en skuil voorlopig in ‘n spelonk om hulle kragte te herwin. Marinda vermom haar en dwaal versigtig in die strate rond om nuus in te win. Deur middel van haar telepatiese vermoëns vind sy uit dat die regshandiges nog steeds daarop uit is om hulle uit te wis. Haar hart klop woes in haar keel. Sy koop proviand by ‘n straatverkoper om nie aandag op haar te vestig deur die hoeveelheid kos wat sy aankoop nie. Op pad terug hoor sy sagte geluide uit ‘n stegie langs haar. Dit klink soos ‘n hondjie wat beseer is. Toe sy nader stap vind sy die meisie waar die robot haar as dood agter gelaat het. Marinda draai haar saggies toe met haar tjalie en neem haar saam na hulle skuilplek.

Die meisie se naam is Riana. Sy was vir twee weke te siek gewees om op enige-iets te reageer. Toe sy uiteindelik weer kon praat, luister hulle stil na haar ontstellende mededeling. Sy vertel hulle alles van Martinez se bose planne – dat die oorlog tussen die regs- en linkshandiges net ‘n rookskerm is. Dit was in die begin wel deel van sy onheilsplanne gewees om mense bloot te stel aan sy wrede ‘regstellings-eksperiment’, máár sy eintlike missie is om mense in hibriede-aanhangers te omskep sodat hy die wêreld as heerser kan oorneem.

“Ons gaan die mense bevry en die duiwelse plek opblaas! Ek weet nog nie hoe nie, maar dit moet baie gou gebeur!” sis Mandro,

“As ons maar net met Die Raad van Regshandiges kon praat, verduidelik wat áángaan, maar hulle is so beïnvloed deur daardie monster dat hulle nie na ons sal luister nie!” roep Marinda uit. “Die enigste uitweg is om ons pad oop te baklei tot by die minister se kantoor.”

“Ek was die minister se bode gewees, ek weet presies waar sy kantoor is,” sê Riaan, een van die mans in die groep.

“Luister mense, ons baklei nie met gewere nie. Ons baklei met die Here aan ons kant. Die vorige skermutseling het nie veel vrugte afgewerp nie, want hier is ‘n paar onbeholpe linkshandiges wat regtig niks van verdediging af weet nie. Ek gaan julle almal ‘n paar tegnieke leer. As dit goed gaan kan ons vandag oor ‘n week gereed wees om die aanvallers ‘n les te leer,” sê Mandro met ‘n glimlaggie.

“Nou goed, Mandro. Ons maak staat op jou,” sê Adrie.

Die finale geveg vind in die hartjie van die regering se kompleks plaas. Adrie, Marinda en Mandro lei die aanval teen die Raad van Regshandiges se robotwagte. Met ‘n sinkende gevoel besef Mandro dat die robotte besig is om die oorhand te kry… Dan onthou Marinda dat sy haar unieke vermoëns kan gebruik om die robotte se programmering te deaktiveer. Die eksperiment waaraan sy onderwerp was omdat sy linkshandig is, het ‘n pad vir hulle oopgemaak!

Die Minister is so geskok toe Riana, Adrie en Marinda sy kantoor binnestorm, dat hy te lam is om op te staan of beswaar te maak. Hy luister intens na al drie se stories en gryp dan na sy rooi telefoon.

Dit is chaos. Die Raad van Regshandiges word onmiddellik ontbind en die linkshandiges word vrygelaat. Martinez en sy aanhangers word in hegtenis geneem. Die ouers wie hulle kinders verkoop het word ook in hegtenis geneem – vir mensehandel! Die robotte word met groot omsigtigheid hergeprogrammeer. Die hele regering is omvergewerp! Die minister en sy raadslede hou dringend vergadering om die orde te herstel.

Die bomme is gereed …

Mandro infiltreer die navorsingsentrum en plant bomme op strategiese plekke; gestel om na ‘n uur te ontplof. Hulle vlug na veiligheid en kyk met genot hoe die bomme die plek uitmekaar skud. Die minister weet baie goed wie se idee dit is, maar besluit om dit daar te laat.

Die kliniek is nie ver van die gevangenis af nie. Martinez hoor die ontploffings en skreeu uit sy sel: “Julle dwase! My navorsing sou die wêreld verander het!” Niemand steur hulle egter aan sy gebrabbel nie.

Dit is 13 Augustus… Dit word as ‘n Internasionale Linkshandige Dag gestig. Adrie, Marinda, Riana en Mandro word tot vandag toe nog erken as helde van die rebellie – wat geveg het vir die lot van linkshandiges! ’n Lot wat linkshandiges met trots dra.

© Elize Ehlers, 2025

 




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed