Heimwee in die donker #silwer
Heimwee in die donker
Ek lê en wag in die donker vir die daglig se verskyning. My lyf is moeg van die lê. Manlief lê rustig langs my en slaap terwyl hy ritmies asemhaal. My gedagtes kom en gaan soos die treine op Londen se stasie.
Die stilte raas soos ‘n duisend sonbesies. Dis tog te snaaks, want hier in die koue land is daar nie ‘n enkele sonbesie nie. Die son is nooit so warm soos in die Bosveld nie. Ek mis die bos. Die dorheid het ‘n bekoring van sy eie.
Nou en dan hoor ek die gehammer in die mure. Dit klink soos ‘n trein wat verbygaan. ‘n Paar dae gelede het hulle ‘n nuwe watermeter in ons huis kom insit. Van toe af kla die waterpype elke nou en dan met ‘n gedreun en gehammer. Gister was ek so ontsteld, net toe ek amper by die einde van die tien minute lange voordrag kom, dreun die trein deur die mure. Toe moet ek van vooraf begin.
Ver af hoor ek die gedoef-doef van ‘n kar wat oor die veebrug ry. Hier op die platteland loop die skape net waar hulle wil. Snags slaap hulle sommer op die warm teer, so as jy laat aand huis toe ry, koes-koes jy deur die wit bolle wol in die pad.
Die donker sluk my in. Dis so donker dat alles in die kamer dieselfde lyk. Ek kan nie onderskei tussen die kas en die kamerdeur nie. Soms hang my gemoed ook in die donker. Dis dan wanneer dankbaarheid net ‘n woord uit my verlede is.
Die slaap het my lankal ontwyk. My gedagtes swem deur gister se diep waters. Ek wonder hoe dit sou wees as ons nie groener weivelde kom soek het nie. Die ironie is, hier is dit letterlik groener anderkant die draad.
Ek gesels op my slimfoontjie met my nuwe intelligente vriend… of nie altyd my vriend nie. Hy luister geduldig na my opdragte. Skep vir my ‘n prentjie wat so en so lyk. Soms luister hy, ander kere gee hy vir my die vreemdste saamgeflanste kombinasies van foto’s. Maar ek bly geduldig, want ek is tog so afhanklik van die nuwe vriend. Dis seker een van die moeilikste dinge in die vreemde. Om ware vriende te maak…
Vroeër jare sou ek deur my ma se ou Huisgenote gesoek het vir die gepaste prentjies vir my projek. As ek gelukkig was, was daar selfs Rooi Rose of Sarie tydskrifte beskikbaar, maar weë my as ek my ma se nuwe ongeleesde Rooi Rose versnipper het. Dan was die gort behoorlik gaar.
Dit was goeie tye. Geen slimfoontjies wat ons aandag versnipper nie. Ek was lief vir lees en het weekliks ten minste tien boeke by die biblioteek uitgeneem en hulle deur die week verslind. Ek het my ingeleef in die lewe van fiktiewe ander mense en karakters. Daar was ‘n tyd toe ek ‘n aktrise wou word, maar my pa het gesê daar is nie geld in nie, behalwe as jy baie goed is. Ek dink nie hy het gedink ek sou ooit goed genoeg wees nie. Hy was ‘n syfermens en die wêreld van toneelspeel was vir hom ‘n vreemde ding.
Maar nou, nou lees ek maar op die ou skermpie van my foon. Ek maak seker my klank is af, want ek wil tog nie vir manlief uit sy soete slaap wakker maak nie. Ek blaai deur ander se salige vakansies in die sonskyn. Vir ‘n oomblik wil ek skree: “Here, wat maak ek in hierdie nat vreemde wêreld, ver van my geliefdes af.”
Daar is ‘n effense verandering in die donker. Ek reken die son begin nou sy kop uitsteek deur die grys grou wolke. Dit reën al dae lank, partykeer met fors ander kere net genoeg om jou bril te laat opwasem en jou hare in slierte te los. Ek noem dit sommer muggiepiepie. Ek worstel reeds met die donker, ek dan praat nie eers van die nat, koue donker wat mens wil verswelg nie.
Ek hoor die uil hoe-hoe roep in die bome. Hier is ‘n magdom voëls wat gereeld partytjie hou op my stoep. Hulle gesels en skaterlag. Die vet, uitgevrete duiwe kom vergryp hulself aan die saadjies wat ek uitgesit het. Die rooibors-robin kom skaam-skaam en baie versigtig deur die glasdeur loer, maar enige beweging binne laat hom wegspaander, net om van die veiligheid van die boomblare vir my te loer.
Ek hou van die lewe hier in die noorde, maar die alleenheid en eensaamheid en my mense wat so ver is, vang my baie dikwels onkant. Dit voel soms of ek myself tussen hier en daar verloor het. Ek sukkel om my te vereenselwig met ‘n lewe sonder geloof en morele standaarde.
Ek wens so ek kon soos die voëls kuier en saam lag. Om ‘n braaivleis vuur sit en nonsens praat. Agter op ‘n bakkie staan en deur die veld ry om ‘n koedoe of ‘n sebra raak te sien. ‘n Onverklaarbare vryheid.
Hier is nie eintlik wilde diere nie, net skape, perde en beeste. Die beeste se hare is so lank, dit lyk of hulle permanent ‘n jassie aan het. Ek gaan nêrens sonder my rooi jassie en rooi hoedjie; ek lyk amper soos Paddington-beer. Ek kry altyd koud.
Die trein kom weer verby en manlief skrik wakker met ‘n wekkerfanfare wat almal gelyk afgaan. Die lig het nog nie mooi sy weg in die kamer gevind nie, maar ek weet van nog lê is daar nie sprake nie.
Ek het gedink ek kan miskien nog ‘n uiltjie knip, maar manlief soek koffie.
Die son sukkel om deur die swanger wolke te beur, maar die dag wag nie vir heimwee en liries raak nie. Realiteit kom soos die trein… al kloppend deur die mure.
Die ketel kook… Die dagtaak roep.
Christa Diederiks ©
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir FEBRUARIE 2026 – OOP projek