Trapsuutjie tyd #silwer
Trapsuutjie tyd
Tyd trapsuutjie
ritmies om en om,
soos skadu’s van die son
skuifel van oos na wes –
tyd laat hom nie keer
of beheer nie.
Tyd transformeer
gly van gloed na grys,
holderstebolder
in homosapiens se hand,
in grou of geluk gevou.
Tyd trippel-trap
in Afrika en Londen tyd –
pole van ‘n wentelwêreld,
uurglas in doen en late,
staan of spoed stilletjies voort.
Tyd bly tyd –
onwrikbaar en oud.
Ons meet hom met môres,
of mors hom met min,
maak hom vinnig
of trapsuutjie stadig,
soos skadu’s wat stap
van oos na wes.
Christa Diederiks ©
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek