Vir solank ek staan #silwer
Vir solank ek staan
Selfs in die eenvoud van ‘n boom, ‘n stam, ‘n skaduwee en ‘n gekartelde haredos, lê die spore van tyd. Soos die son oor die horison sy weg vind, en sy vier-en-twintig-uur reis aanpak, groei die skaduwee onder die boom.
In midsomer kom soek diere skuiling daar; ‘n lafenis teen skreeuende sonstrale. Maar as winter sy knersende kloue om murg en been vou, is die skadu nie meer ‘n toevlug nie. Dan is die koelte, koud, donker en ongenaakbaar.
Elke boom, klein of groot, bied ‘n skadukol solank die son skyn. Maar as die son onderdeur die aarde kruip, bied daardie selfde boom nie net skadu nie, maar beskerming teen wind en weer.
Soos elke seisoen sy eie unieke glorie ontvou, word die boom geroep tot opoffering. Hulle strooi hul blare vir ‘n lieflike rooi-oranje-geel herfstapyt. Of staan kaal en stil in wintergewaad, teen die oggendstond van die bosveldson en pryk as inspirasie vir ‘n skilder se doek.
Die meeste bome oorleef tyd; veral dié met wortels diep geanker in die aarde se kors. Skadu’s kom en gaan oor eeue heen.
Dan is daar die immergroen meesters; onaangeraak deur tyd. Jaar na jaar bied hul koelte, beskerming en standvastigheid.
Maar een ding is seker: daar is nie ‘n boom wat nie na hoër dinge reik nie. Hulle groei nie grond toe nie, hulle lig hul koppe op, boontoe. Tyd kan maar sy kringloop voltooi, maar die boom staan vas… en dien sy doel.
Ek en jy, ons is ook bome; iewers geplant met ‘n doel. Miskien is jy daardie koeltekol vir iemand wat brand in die wêreld se verblindende son. Of dalk is jy arms van beskerming teen die storms van hartseer en teleurstelling.
Aan elkeen is 24 uur gegee, sewe dae ‘n week, vir 52 weke ‘n jaar – om net dít te doen. Vind jou staanplek en leef jou doel. Maak seker jou wortels is goed geanker in die Waarheid van die Woord. Wees ‘n boom met jou eie unieke eienskappe.
Staan regop en fier, vir solank as wat die Skepper jou boompie regop hou.
Christa Diederiks ©
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek