Jongste aktiwiteit:

Vrees

Vrees

Anderdagmiddag staan ek buite, arms slap oor die draad, en kyk na ’n enkele hardegat wolkie wat fluks blits en in ’n dun gordyntjie uitsak. Sommer so op sy eie, maar hy sak iewers elders uit. Nie op ons plaas nie. Net ’n los wolk wat besluit het dis hier en nou waar ek my genadewater gaan gooi. Ek staan droëmond en nat-oog en probeer hom naderbid, maar hy bly net waar hy is. ’n Ou bekende knoop in my binnekant trek stywer saam. Vrees.

Hierdie gevoel van vrees is ’n gruwelike ding. Dit het lang tande wat jou binnekant opvreet. Wat knaag en kou. En eintlik is dit so sinneloos, want dit maak niks beter nie. Dit verander nie ’n enkele ding aan jou situasie nie. Inteendeel, dit maak jou siek en somber en hartseer. En hoewel ek al hierdie dinge weet, bly sit die knop daar – snaarstyf opgerol. Dis nie iets wat ek weg kan redeneer of weg wens nie. Dis deel van my soos my hartklop, my asem.

Vrees het ook sy eie persoonlikheid. Dit is ’n duiwelsadvokaat, ’n boelie, ’n regte bullebak. Ek is seker as ek hom moet teken, sal hy twee horings en ’n lang pylstert hê. Vrees is ook slim. Dit sit dinge in jou kop waaraan jy begin dink wat eerder nie gedink moet word nie. Dit laat jou vrae vra waarvoor daar nie antwoorde is nie. Dit bring twyfel en onsekerheid en donkerte presies daar waar jy jou liggie helder wil laat skyn. Maar dis maar hoe vrees is.

Daar is ’n grappie wat gaan oor ’n bankbestuurder wat vir ’n boer vra wanneer sy beste reënjaar op die plaas was, toe sê die boer: “Volgende jaar.” So glo ons ook elke jaar dat volgende jaar beslis beter sal wees, want dit is tog eenvoudig nie moontlik dat ons jaar in en jaar uit so min reën kan kry nie. Iewers moet dinge tog draai? Iewers moet die sisteme weer reg begin werk en die hoogdrukke en siklone weer gaan lê waar hulle moet lê en die winde moet waai soos hulle moet waai. Maar helaas.

Hierdie jaar lyk dinge maar beroerd. Weer beroerd. Ons veld is lankal klaar. Die geld ook. Laasjaar al, want dit was ook ‘n beroerde jaar. Ons buurman vertel ons nou die dag dat die ou boere geglo het dat as dit teen 15 Maart nog nie gereën het nie, moet jy van jou knieë af opstaan en weiding gaan soek. Die Here verwag tog van ons om self ook iets te doen? Dit los ons egter met ’n volgende probleem: waar kry jy weiding as meeste boere droogte het? Elke droogtejaar het sy groen kolle, maar hulle is te min. Daar is net eenvoudig te veel droë strepe tussen die groen kolle. Die vraag is groter as die aanbod.

Gelukkig is die res van Maart en April nog voor ons, en as daar nou een ding is wat ’n boer goed kan doen, dan is dit glo. Ons glo dat dit nog sal kom reën. Ons glo dat die veld dan, wanneer dit wel kom reën, nog genoeg tyd en hitte sal hê om te groei en ons glo dat daar vrede in ons binnekante sal kom waar die vrees nou soveel verwoesting saai. Ons glo dit.

As die reën dan wel wegbly, dan glo ons volgende jaar sal dit beter gaan, want wat anders?

© Hester Steenkamp




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed