Wees bedag op brandgevaar
Wees bedag op brandgevaar
“En blink in die dof-lig en kaal, so wyd as die Heer se genade, lê die velde in sterlig en skade. En hoog in die rande, versprei in die brande, is die grassaad aan roere soos winkende hande.”
Hierdie woordbeeld uit die ikoniese gedig “Winternag” van Eugene Marais, ontroer my steeds. Ek sien die skade, ek ruik die roet, ek hoor die treurige wysie van die ooswind.
Baie jare gelede is ‘n klein nedersetting in Botswana ons tuiste vir ‘n tydperk. Die lewe is sorgvry en idillies. Hierdie hoofstuk van my kinderjare is ingekleur deur die klanke en kleure van die ongerepte natuur. Nagapies, eekhorings, bosbessies, maroelabome en wuiwende grasvelde. Diere wat vroegaand kom water drink by die waterpan en die veraf klank van tromme laat in die nagte. Ons leef in vrede.
Dan ontstaan daar ‘n veldbrand agter ons huis teen die rant. Ons ruik dit voordat ons dit sien. Lekkende vlammetonge koggelend teen die swart nag! Ek onthou die grootmense met nat streepsakke, emmers water en sand.
Daardie nag rol en rol ek in my bed. Ek dink aan die liewensheerbesies, toktokkies, skilpadjies, krimpvarkies en hasies wat doodgebrand het. Al wat oorgebly het van die eens mooi landskap, ‘n swart kleed van stinkende roet.
“Bly warm hierdie winter!” klink dit oor die radio, basuin dit op plakkate in winkelvensters en op advertensies in tydskrifte. Trooskos, warm kaggel vure, verwarmers, snoesige klere en kleurvolle donskomberse.
Iewers elders sal die ysige winterwind egter ruk aan sinkplaat strukture. Dalk water drup-drup deur gate in die dak. Sal mense nader skuif aan ‘n donga of ‘n konka vol gloeiende kole. ‘n Primusstoof gepomp word om water te kook. ‘n Vuur gepak word om aandete te maak. ‘n Gasstofie oopgedraai word. ‘n Kragkabel dalk onwettig gekoppel word. ‘n Kers of ‘n lamp aangesteek word.
En iewers mag mense die slagoffers word van ‘n brand…
Vuur verskaf hitte, lig en energie. Vuur kan ook verniel, vermink en vernietig.
Dit is ‘n angswekkende realiteit. Daarvan getuig die statistiek van brandeenhede in hospitale en gereelde nuusberigte. Lank nadat die berig verskyn het of die nuusflits gehoor is, sal die pasiënt se lang en pynlike pad na herstel egter nog voortduur. Die gevaar van infeksie, orgaanversaking en letselvorming bly altyd groot risiko’s. Moderne mediese tegnieke en produkte kan verstommende resultate lewer, maar die rehabilitasie van die pasiënt en die effek op die familie het verrykende gevolge.
Die verwoestende brande in Knysna sal vir altyd in die geskiedenis van Suid-Afrika opgeskryf staan. Hier is egter verhale van hoop en dapperheid te midde van tragedie en lewensverlies gebore. Vir baie mense sou die lewe egter nooit weer dieselfde wees nie…
Die korrekte onmiddelike optrede in die geval van ‘n brand is lewensnoodsaaklik. Ken ons daardie noodmaatreëls? Is die brandblusser maklik bereikbaar? Wanneer laas is dit nagegaan? Is die noodpersoneel en brandweer se nommers bekend en sigbaar in jou woonplek?
Aniki Joseph 2025 ©
Woordtelling: 480
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2025 - OOP projek