Geloofsopvoeding in die skool
(Woordtelling : 852)
Die groot vraag waarmee ons al lankal besig is, is of christelike opvoeding in die skool toegelaat moet word of nie. Vir die toegewyde Christen is hierdie seker nie eens iets om oor te debatteer nie, tog is Christenskap nie die enigste geloof wat mense aanhang nie. Al sê 80% van ons land se burgers op die sensusvorm dat hulle Christene is, is dit ernstig debatteerbaar. Ons woorde en dade stem nie altyd saam met die verwagte gedrag van ʼn Christen nie. Ek sê maar net…
Ons kibbel nie met die Joodse- of Moslem ouer wat sy kind in ʼn skool inskryf waar hul spesifieke geloof en sienswyse aan die kinders oorgedra word nie. Indien jy jou kind in ʼn privaat Christen skool inskryf, is jy deeglik bewus van die opvoeding wat hulle daar sal ontvang. Dieselfde reël kan egter nie vir staatskole geld nie, want die grootste deel van die samelewing bestaan uit ʼn wye verskeidenheid van kultuur en verskillende gelowe. Dit is ook so dat die grootste deel van die samelewing nie privaat onderrig kan bekostig nie en noodgedwonge in ʼn skool beland waar hy “wie weet wat” sal leer wat jou dalk heeltemal dwars in die krop gaan steek.
Is dit dus regverdig dat die kind wat in ʼn Moslem huis opgroei en die naaste staatskool moet bywoon, gedwing word om teen sy sin ʼn christelike opvoeding ontvang? Persoonlik sal ek ongemaklik wees indien my kind op ʼn daaglikse basis in Shinto of Jainism onderrig word, terwyl ek tuis die boodskap van Christus probeer oordra.
Selfs onder die wye net van verskillende dominasies wat almal Christus aanbid, het elkeen tog maar sy spesifieke sieninge en oortuigings. Dit is dus bitter moeilik om ʼn goue middeweg te vind waar almal sal saamstem. Dit het veral in die laaste paar dekades baie duidelik geword dat ons dikwels geen verdraagsaamheid het ten opsigte van ander se sieninge nie. Daar is nie net ʼn hele spektrum maniere waarop mense aanbid nie, maar ook watter naam hulle vir hul Skepper gebruik. En gebruik nou net heel onskuldig die “verkeerde” naam en die hel bars oor jou kop los! Daar is selfs groepe in die Christengeloof wat hul eie weergawe van die Bybel gepubliseer het.
Uit watter Bybel gaan die skoolhoof Maandagoggend voorlees? Die 1933, 1953, 2020 vertaling, of daardie vreemde self-saamgestelde bybel wat ek na die lees van die eerste bladsy in die braaivleisvuur gegooi het?
Dus, op watter christelike siening gaan die skool hul onderrig nou baseer? Die Israel visie, Katoliek, Protestant, Gereformeerd? En in die lig van so ʼn geskilpunt, is dit dus nie uiteindelik meer gewens dat daar eerder geen christelike onderrig sal plaasvind, as wat jou kind onderrig word in ʼn dominasie waarmee jy dalk glad nie saamstem nie?
Dit is heeltemal moontlik om ʼn kind goeie waardes en respek vir ander te leer, maar sonder om die gebruike en sieninge van ʼn spesifieke geloof af te dwing. Moet die skool nie eerder fokus op die voorbereiding van ʼn kind se akademie, kritieke denkwyse, en sport onderrig nie?
Sekerlik word waardes soos sagmoedigheid, empatie, eerlikheid, nederigheid, integriteit en respek nie uitsluitlik onder Christene aangetref nie? Selfs iemand wat glad nie aan ʼn Opperwese glo nie, kan hierdie waardes leer en uitleef. M.a.w., goeie waardes en karaktereienskappe het niks te make met wie jy aanbid nie.
Ongelukkig word veroordeling en haat baie dikwels in so ʼn “heilige” omgewing openlik bespreek, subtiel aangemoedig of partymaal sommer doodgewoon aangehits. Geen kind word as rassis of homofoob gebore nie, dit word aangeleer – daardie einste plek waar julle elke naweek die stoele warm sit. Daarvandaan spoel dit oor na elke huishouding en ons pleit die onskuld self. Elke denominasie wil hê dat almal soos hy moet glo en dat sy siening die enigste ware een is. As iemand net bietjie van jou siening verskil, gebruike beoefen waarmee jy nie saamstem nie, of op ʼn ander manier of dag as jy aanbid, raak mense sommer kwaai met mekaar. Ons onverdraagsaamheid oor verskillende maniere van dink en glo is niks minder as skokkend nie. Almal hoef nie soos jy te dink en glo nie, en ons optrede teenoor mekaar se verskille is dikwels ontneem van alle liefde en verdraagsaamheid.
What would Jesus do? Wel, verseker nie optree soos wat ons dit deesdae doen nie!
En ten slotte, aan die einde van die dag is dit nie die skool se plig om jou kind ʼn opvoeding in enige spesifieke geloof te gee nie. Dit is iets wat hy saam met sy moedersmelk moet inkry en dit is tog die ouer se verantwoordelikheid en opvoedingstaak. Maar miskien het dit te maklik geword om ons verantwoordelikhede voor ʼn ander se deur te lê en dan kwaad te word omdat die regering geloofsonderrig uit skole wil wegneem.
Wanneer mens op die punt kom waar jy ander ten volle kan aanvaar, vratte, vetrolle en ander maniere van aanbid, of wat ookal, dan daal daar ʼn ongekende vrede oor jou siel. Leer eerder die kinders hoe om goeie en verdraagsame mense te wees en laat ander, moontlike plofbare onderwerpe en onderrig liewers tuis.
©Susann Moolman
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2025 - OOP projek