Jongste aktiwiteit:

Die viooltjie

(1243 woorde)

Maryna sug verlig.  Dit was ‘n lang dag en sy is uitgeput.  Dit is elke dag se ding.  Smiddae voel sy soos ‘n pakesel wat van sy vrag verlig word.  Die viole wat op haar rug, oor haar skouers, elmboë, asook tussen die vingers van elke hand geryg was, is weggepak in die kattebak.  Sy wag ‘n wyle in haar motor sodat die maalstroom leerders en verkeer eers by die hek kan uitbeweeg.  ‘n Nuwe wêreld het destyds voor haar oopgevou. Alle kinderharte is dieselfde, vol van eenderse vreugde en hartseer.  Maar vandag krap daar ‘n vreemde onrustigheid aan haar gemoed.

Die hele dag al beweeg haar gedagtes na die kind op die muurtjie.  Die tenger figuurtjie met die twee slordige boksterte wat elke Woensdag daar sit.  Haar groen truitjie se moue uitgerafel op die punte en die hemp se kragie deurgeskif.  Slegs ‘n paar meter weg van haar klas se glas skuifdeur, sit sy altyd, week na week, soggens en pouses.  Dit het vir Maryna gevoel asof sy fyn dopgehou word, maar slegs met die kind se binne-oë.

“Wat is jou naam?” het Maryna destyds gevra, maar geen antwoord gekry nie.  Op ‘n dag het die groot blou oë op die drumpel van die glasdeur gestaan.

“My naam is Riekie en ek wil ook speel.”

“Sy is in die voedingskema, haar ma kan nie betaal nie.  Daar is nét ‘n ma,” het haar klasonderwyseres gesê en ‘n hand deur haar hare getrek, asof dit ‘n algemene verskynsel is, maar Maryna het geweet daar is gewóónlik net ‘n ma of ‘n ouma.

“Dit is nie ‘n probleem nie.  Ons is juis aangestel vir diesulkes.”

Die onderwyseres het na die bankie reg by haar lessenaar gewys. “Riekie is ánders.  Sy laat niemand aan haar raak nie en sy vaar nie goed met ‘n geraas of harde klanke nie.  Sy hoort nie eintlik in hoofstroomonderwys nie. Maar sy is baie intelligent en briljant in Wiskunde.  Ek het nie tyd om aandag te gee aan die behoeftes van ‘n enkele leerder nie.  Kýk waarmee sit ek hierdie jaar en dit in die grondslagfase!”  Die arme vrou het moedeloos geklink.  Klein leerdertjies het almal drie-drie by ‘n bankie gesit met hulle tasse in ‘n ry buite die klas.

 

Aan die begin het dit moeilik gegaan en Maryna het soos gewoonlik vir Job se geduld en Salomo se wysheid gevra.  Snags het sy gelê en dink aan probleemoplossings.  Sy leer so baie by haar leerders, meer as wat sy aan hulle kan leer.  Alle kinders kan leer viool te speel.  Na járe weet sy dit behels net aanhou, sonder om haastig te word.  Een tree vorentoe op ‘n slag.

 

Soos met elke eerste les, het Maryna vir Riekie vertel dat die viool nou soos haar baba is.  Dít is hoe mooi sy hom moet oppas.  Sy preek ook elke week vir al haar leerders dat hulle slegs op daardie dae wat hulle eet hoef te oefen.

Toe Riekie egter eers uit die blokke wegspring, was daar geen keer aan haar nie.  Sy het deur die leerplan gevlieg en was kort voor lank een van Maryna se beste leerders.  Sy het lief vir Riekie geword, die kind wat nie emosies kon wys nie.

Riekie en haar viooltjie het steeds elke Woensdag getrou op die muurtjie gesit.  Sy het hom styf vasgehou en geduldig gesit en sus.  Riekie neem alles letterlik op, het Maryna verbaas besef.

“Gaan jy nie pouses voedingskema toe nie?” wou Maryna weet.

“Nee, die kos is verkeerd.”

“Hoe bedoel jy nou, verkeerd?”

“Woensdae moet groen en rooi wees” het Riekie gesê.

“Rooi, soos in ‘baked beans?’” wou Maryna weet.

“Nee,” het haar boksterte heen en weer geskud.  “Groen soos ertjies.  En rooi soos tamatiesous.”

“En die ander dae?  Het dit ook kleure?”

Sy het gehoor dat Riekie op die wit en bruin dae broodjies kon eet.  Maryna het Woensdae ‘n blikkie ertjies en ‘n bottel tamatiesous skool toe gebring.

 

Riekie het deur die jare geleer hoe om saam met die ander in ‘n ensemble te speel.  Sy het steeds nie maatjies gehad nie, maar dit het haar nie gepla nie.  Hierdie jaar het sy selfs ingewillig om ‘n solo in die skoolkonsert te speel.  Dit is hoekom dit so vreemd was dat Riekie nie vandag op die muurtjie gesit het nie.

 

“Riekie is nie by die skool nie,” het haar onderwyseres gesê.  “Dit is ongewoon, want sy is nooit op ‘n Woensdag afwesig nie.”

 

Maryna skrik toe die veiligheidswag hard aan haar venster klop.

“Mevrou kan nie so alleen hier in die motor bly sit nie. Ek moet nou die hekke sluit.  Dit raak gevaarlik teen hierdie tyd van die dag.”

Maryna sien dat die skoolterrein verlate is.  ‘n Eensame plastieksakkie waai doelloos al saam met die Augustuswind heen en weer.  Sy tik die adres op haar foon in, sien dankbaar dat die huis ‘n paar blokke daarvandaan is.  Sy draai die motorsleutel en begin stadig ry, versigtig, om die gate in die pad te mis.  Daar waar die pad net grond en dongas word, ry sy eerder op die sypaadjie.  In sommige moedelose tuine het die natuur vanself weer oorgeneem en geword wat dit voorheen was.  Party werwe is netjies met ‘n besem gevee.  By Papegaaistraat 5 staan twee polisievoertuie in die oprit.

Maryna spring uit haar motor en stoomroller ‘n pad tussen die nuuskieriges deur.

“Waar dink u gaan u heen, dame?” kry iemand haar aan die arm beet. “Hierdie is ‘n ‘crime scene’ en niemand gaan verder as hierdie lyn nie.”

“Wa…wat het gebeur?  Waar is die kind? Ek móét die kind sien!  Is sy … is Riekie okei?”

“Lyk soos ‘n geval van geslagsgeweld.  Die kind sit daar binne in die kombuis.  Ons kan nie náby aan haar kom nie.  Selfs die vrouekonstabel kon niks uitgerig kry nie.  Sy begin net skree soos ‘n maer vark. Die maatskaplike werkster sal binnekort hier wees.”

“Ek …  ek is haar viooljuffrou.  Ek ken haar baie goed.  Kan ek asseblief net probeer?” smeek Maryna.  Die man trek sy skouers op en neem haar aan die arm na binne.

“U mag net hier in die kombuis by haar bly.  Ons soek nie nóg voete in die huis nie.”

 

Riekie sit by die kombuistafel, dun armpies om haar bolyfie gevrou. Sy sit net.  Wieg die heeltyd vorentoe en agtertoe terwyl sy die openingstema van haar vioolsolo saggies oor en oor neurie.   Maryna gaan sit ‘n entjie van haar af en begin saamneurie.  Tyd bestaan nie meer nie.  Oor en oor en oor neurie hulle, totdat Riekie stilbly en haar handies begin flap.

“My baba, my baba, mybabamybaba” begin sy aanhoudend in ‘n monotone stemmetjie kerm.

Maryna sien skielik die viooltjie in die hoek op die vloer raak.  Naak, verwronge sonder sy viooltas.  Die klankkas het versplinter en die nek is morsaf gebreek.

Sy wil die kind omhels en troos, maar weet sy kan dit nie waag nie.

Maryna raak bewus van haar omgewing.  Van die klein kombuisie waar sy sit.  Alles is netjies.  Eintlik té netjies.  Die kasdeurtjies hang effens oop.  Sy sien dat die rakke dolleeg is.  In die middel op die onderste rak staan ‘n leë bottel tamatiesous, onderstebo op sy prop gedraai.  Dit is Woensdag, onthou sy dan.  Groen en rooi kos!  Maryna voel asof haar hart wil breek.

 

Riekie het net één vioolreël nie letterlik geïnterpreteer nie.  Sy het op haar viooltjie geoefen, selfs op daardie dae wat sy nie kon eet nie.

 

Rika Gerryts




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed