Jongste aktiwiteit:

Onrus op Nooitverdiend Goud

Die reuk van ou urine laat Miné na haar asem snak. Haar kop klop onophoudelik. Sy lig haar hande. Die riempies vreet aan haar polse. Sy voel hoe haar hartklop versnel. Albei haar hande is aan ʼn staalraamwerk vasgebind. ʼn Vae ligkolletjie skeur deur die dak bokant haar. Sy lig haar kop. Waar is sy? Sy spits haar ore. Doodse stilte. Sy moet baie ver van die plaas af wees. ʼn Growwe hand lig ‘n etergeweekte lappie en ʼn skor lag vul die vertrek. Onwillig sink sy weer in ʼn diep slaap weg. Sy voel nie hoe haar hande versigtig losgesny word nie. ‘n Beker koue water word versigtig langs haar neergesit. Dan sleep ‘n paar hande ‘n goiingsak sorgvuldig heen en weer oor die spore buite die deur.

”Sampie, gaan maak vas daardie verdomde esel. Netnou gaan loop vreet sy weer by ou-Koos se lande. En sluit die kraalhek met daai ketting wat ek jou gister al gegee het. Jy weet die boosdoeners loop met donkermaan op ons werwe rond. Toe-toe, roer jou!”

Lien ledig die melkemmer in die roomafskeier. Hierdie luigatbroer van haar beter vandag nog die heining langs die hoofgebou regmaak. Die honde het gisteraand weer laatnag tekere gegaan. Gelukkig het die nuwe voorman sy intrek in die buurhuisie geneem. Sy sal netnou oorloop om te gaan groet. Sy was nie bewus daarvan dat die hy ‘n dogter het nie. Sy het hulle deur die kombuisvenster dopgehou. Nie dat sy veel kon sien nie, aangesien hulle die motor aan die agterkant van die huis geparkeer het. Dit sal goed wees om weer nuwe asem hier op Nooitverdiend se werf te hê. Die plaas raak nou te veel vir haar, Sampie en Miné. Sy wonder juis waar Miné rondfoeter. Sy is altyd eerste by die melkstal. Seker weer met haar neus in die boeke. Ma en pa moes Miné eerder universiteit toe gestuur het. Nou is hulle al drie hier vasgevang op ‘n erfplaas in die boendoes. Sy het ma-hulle belowe dat sy op die plaas sou voortboer. Sampie sou die plaas in ‘n oogwink verruil vir die stad verruil.

 

Nooitverdiend lê weggesteek in ʼn kom tussen die digte bosse van die Magaliesberge. Die grondpad wat na die ou opstal lei, is vol kinkels en draaie. Besoekers moet teen slakkegang die sowat twee kilometer vanaf die teerpad aandurf. Nie dat hier veel besoekers is nie. Lien en Miné stuur maar altyd vir Sampie met die lorrie dorp of mark toe. Die plaas voorsien in meeste van hulle behoeftes. Lien steun saggies toe sy van die misvloer af opstaan. Miné was veronderstel om haar vanmôre met die roomafskeiery te help. Haar palms los vetterige afdrukke op haar voorskoot. Sy plaas die blikkie Dubbin terug op die vensterbank. Sy verkies om self die koeie se spene na ʼn melksessie te behandel. Dit hou haar hande sag.

Miné skuif ongemaklik vanaf die een boud na die ander. Die vloer is koud en klam. Sy knip haar oë. Haar polse brand plek-plek. Droë stukkies bloed klou aan haar handpalms vas. Haar vingers soek versigtig oor die vloer. Sy vou haar hande om die blikbeker wat langs haar staan. Sy ruik eers versigtig aan die beker se rand. Dan vlek sy haar lippe met die koel lafenis. Sy neem klein slukkies en rol dit in haar mond voor sy dorstig haar krapperige keel lawe. Die etersmaak klou aan haar verhemelte vas. Sy kan glad nie onthou dat iemand haar hande kom losmaak het nie. Die matras moes ook iewers deur die loop van die dag hier beland het. Sy skuif dit onder haar in. Repies maanlig skyn oral deur die dak van die vertrek. Miné knip haar oë ʼn paar keer. In die verte hoor sy honde blaf. Sy sukkel orent en skuifel voetjie vir voetjie nader aan die deur.

 

Daar vorm ʼn diep keep tussen Lien se oë. Miné is soek. Sy en Sampie het al die hele werf omgedop. Die honde lê sleeptong in die koelte van die waenhuis. Die spoor loop dood by die stroom aan die onderpunt van die opstal. Die boosdoeners het ʼn powere poging aangewend om die sleepmerke agter die melkstalle toe te vee. Sersant Malan het belowe om ligdag weer sy span die bos in te stuur. Sy gaan vannag nie ʼn oog toemaak nie. Hoekom het sy en Miné nie Sampie se raad gevolg nie? Die afgelope vyf jaar al kerm en kla hy oor die plaas. Hy wil sy gedeelte in ʼn onderdele-besigheid belê. Die plaas is nie in sy bloed nie. Na hul pa se dood moes Lien die rol van ouer oorneem. Sy het Nooitverdiend met ʼn ysterhand regeer. Sampie en Miné moes maar inval en self skoffel en graaf vir hulle brood en botter op die plaas. Lien se skouers hang. Waarom was sy so hardkoppig? Sy skrik toe daar ʼn skaduwee in die kring van die buitelig verskyn.

”Naand.”

Jaap lig sy hoed.

”Ek moes seker al vroeër kom groet het. Ek is jammer om te hoor van jou suster. Mariska slaap al. Ons was saam met die soekgeselskap uit. Ek is seker daarvan ons sal haar binnekort opspoor. Ongelukkig mag ons nie saam met die span met die honde uitgaan vanaand nie. Blykbaar gaan hulle dieper die bos in soek.”

”Naand Jaap. Sit. Dankie dat julle ingespring het om te help soek. Sersant Malan is baie streng wanneer dit by die hondespan kom. Ek wou jou vandag eers kans gee om uit te pak en te ontspan. Ek het nie gedink jou dogter sou saam met jou hier wou kom bly nie. Vandag se tieners hou hulself mos eerder besig met rekenaars en stadsjapies.”

”Ek het die keuse aan haar oorgelaat. Sy is oud genoeg om tussen my en haar ma te kies. Die plaaslewe was maar nog altyd ʼn droom. As jy nie omgee nie, kan sy dalk met ʼn paar los werkies inval. Geen vergoeding nodig nie. Dit sal haar besig hou en goed te pas kom wanneer sy volgende jaar hier na die landboukollege toe gaan. Hekpoort is darem om die draai en sy sal gereeld op die plaas kan kom uithelp om haar kennis te toets. Sy wil haar eie stukkie grond besit. Wie weet, miskien soek Nooitverdiend eendag ʼn nuwe baas.”

Jaap knipoog en skuif sy leë beker oor die tafel. Die stoel skraap oor die houtvloer. Jaap neem sy hoed en buig speels voor Lien.

”Dit word laat. Dankie vir die koffie Lien. Ek sal saam met die eerste soekgeselskap uit wees. Jy moet gaan rus.”

Miné stamp teen die houtdeur. Sy val hard op die klipperige sand neer toe die deur onder haar gewig meegee. Vir ʼn oomblik huiwer sy, dan vlieg sy orent en laat spaander in die rigting van die bosse voor haar. Sy struikel kort-kort oor ʼn boomwortel of ʼn gat tussen die gras. Dit is skielik pikdonker om haar. Die bome maak ‘n blaredak wat haar sig belemmer. Sy spits haar ore. In die donker kan sy die gekabbel van water hoor. Sy strek haar hande voor haar uit en skuifel stadig in die rigting van die geklots. Sy kan darem al buitelyne in die flou maanlig uitmaak. Die bootjie skommel heen en weer aan die dun nylontou wat om ʼn boomstomp gehaak is. Miné voel hoe die water deur haar skoene sypel. Dan val sy vooroor in die klein skuitjie in. Sy lê vir ‘n oomblik doodstil en wag dat die geskommel bedaar. Dan steek sy versigtig, voel-voel, haar hand oor die rand van die boot. Sy vou haar vingers om die nylontou en soek na die vashaakplek. Sy haak die tou los en sak in ʼn bondeltjie binne in die boot neer. Huilend raak sy aan die slaap terwyl die boot stroomaf dobber.

Miné ruk wakker toe die boot hard teen iets stamp. Die rooidag kruip al oor die rante. Alles is vreemd. Sy loer oor die rand van die boot. Dit het teen ʼn sandbank vasgedryf. Versigtig klouter sy uit. Die modder suig haar tekkies vas. Die water is yskoud en ‘n rilling trek deur haar hele lyf. Sê nou die skurk het agtergekom sy is weg? Sê nou hy lê hier iewers vir haar en wag? Hoekom? Hoekom? Voetjie vir voetjie skuifel sy deur die modder en riete totdat haar voete droëgrond raak. Sy sak op haar knieë neer. Dan herken sy die plaasopstal in die verte. Hemel, het sy so vêr gedryf. Sy weet sy sal hier veilig wees. Desperaat waai sy in die rigting van die opstal waar ʼn paar werkers vroegoggend beeste uit die kraal jaag.

 

Lien staan moedeloos voor die skaapkraal. Dis asof iemand vir haar ‘n boodskap wil stuur. Twee van haar beste ramme lê keelaf in die stof. Bloed lê die hele kraal vol. Reënstewelspore kan in die bloed gesien word, maar kan aan enige werker of skarminkel behoort. Die res van die spore is met ‘n wilgertak uitgevee en verdwyn in die sagte mos op die rand van die rivierbedding. Die honde kon ook geen verdere spoor optel nie. Hoekom het niemand iets gehoor nie? Die leë bierbottels by die werkershutte is seker ‘n goeie verduideliking vir die doofheid.

 

Lien sak haar kop teen Sampie se skouer.

”Hoeveel nog Sampie? Is dit nie genoeg dat Miné… ag hemel, hoekom klou ek so aan die verdomde plaas?”

Sampie plaas sy arm beskermend om sy ousus.

”Sy sal huis toe kom. Jy sal sien. Die soekgeselskap is vroegdag al uit. Hulle is stroomaf na die Bekkers se plaas toe. Daar is heelwat verlate hutte wat die boskappers destyds gebruik het. Blykbaar het een van die werkers gisteraand ‘n lig in die bosse daar opgemerk. Hopelik vind hulle ‘n spoor wat hulle kan volg. Ek sal sorg dat die skaap geslag word. Die vleis is darem nog bruikbaar. Net jammer dit was twee van die beste stoetramme.”

 

Lien skud haar kop. Sy is moeg. Sy sal met Jaap praat. Miskien kan hulle ʼn ooreenkoms bereik. Sy dogter se droom word dalk vinniger bewaarheid as wat sy dink. Dit het tyd geword dat die plaas nuwe eienaars kry. Daar sal genoeg geld wees sodat elkeen van hulle sy eie rigting kan ingaan. Miné kan universiteit toe gaan. Sy wat Lien is, kan gaan aftree en ‘n klein koffiewinkel open. Daar is heelwat geleenthede op die dorp en Sampie sal goed vaar met sy onderdele-besigheid. Daar sal hulle ten minste veilig tussen ander mense wees.

 

Sersant Malan krap sy kop. Die voetspore by die boshut lei reguit na die rivier toe. Die riempies om die staalraamwerk dui daarop dat hier wel iemand in aanhouding was. Hy snak na sy asem toe hy die gerafelde stuk lap met ʼn stokkie in die plastieksakkie druk. Die eterreuk klou nog baie sterk daaraan vas. Die blikbeker het ook duidelike vingerafdrukke op. Daar is ligte bloedspatsels aan die riempies. Verder is daar geen bewyse van ʼn stoeiery of verset nie. Die persoon was hierheen gedra. Tog is daar net een stel voetspore. Klein en smal soos die van ‘n vrou. Wie ook al haar hierheen gebring het, het sekergemaak hulle spore is uitgewis. Daar is onomwonde tekens dat die spore met ‘n sak of tak skoongevee is. Die een stel voetspore is duidelik sigbaar en lei direk na die bosse voor die hut. Hy volg die voetspore tot teen die stroom. ʼn Rafelstukkie groen tou hang aan ʼn boomstomp aan die kant van die water. Die sleepmerke lê nog vars in die modderigheid tussen die riete. Hier was definitief ʼn kleinerige boot vasgemeer. Malan hap bevele uit.

”Stroomaf! Nou! Kry die honde! Maak gou, die spoor is nog vars!”

 

Jaap vou sy hande om die beker voor hom. Lien stoot die papiere oor die tafel.

”Ek is moeg, Jaap. Sersant Malan het laat weet dat Miné veilig by die kliniek is. Hulle het haar spoor by die boshutte opgetel en toe stroomaf gevolg. Gelukkig kon sy ontsnap. Sy is ongedeerd. Hulle moes haar wel ʼn kalmeermiddel ingee. Sy kan niks onthou nie. Die aanvallers het haar onverhoeds betrap. Hulle was slim genoeg om geen spore na te laat nie. Sersant Malan vermoed hulle wou ‘n losprys eis, maar Miné het daarin geslaag om weg te kom. Ek sal nooit weer veilig hier voel nie. Sampie is nou nie juis iemand wat twee vroue op ‘n plaas kan beskerm nie. Hy wil in elk geval nie boer nie en ek dink Miné sal na hierdie episode ook eerder dorp toe wil gaan. Dit is juis hoekom ek jou laat roep het. Ons gaan Nooitverdiend verkoop. Jy het genoem dat Marinda eendag haar eie stukkie grond sou wou besit. Wel, hier is julle kans. Jy het eerste opsie. Stel julle belang?”

 

Jaap lees die dokument noukeurig deur, dan neem hy Lien se uitgestrekte hand in syne. Haar hand lê sag teen sy growwe palm.

 

”Marinda gaan in haar noppies wees. Haar droom word vroegtydig bewaarheid. Baie dankie Lien, ons sal Nooitverdiend soos goud oppas. Dit is ʼn belofte.”

 

Sampie klop Jaap op die skouer.

 

”So ons het uiteindelik gewen, Jaap.”

 

Hy lag skor en diep.

 

”Julle kry julle plasie en ek kry my vryheid. Dit was net ‘n bietjie onnodig om die skape keelaf te sny. Dit was stoetramme daardie, maar dit het die deurslag gegee, ou maat. Baie dankie.”

 

Jaap grinnik in Sampie se rigting.

 

”Miné was soetkoek. Net jammer die riempies het haar gewrigte bietjie erg geskaaf. Die skaap? Ek dag die skaap was jou idee?”

 

Sampie skud sy kop in ontkenning. Die twee mans staar vir ʼn oomblik vraend na mekaar. Dan giggel Marinda vanuit die kombuis. Sy vee die slagtersmes se lem versigtig skoon voordat sy dit in sy rusplek teen haar sy terugplaas. ʼn Koue rilling glip teen Sampie se ruggraat af. Dankie Vader. Nooitverdiend sien hom nooit weer nie.

Amanda de Meillon




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed