[SILWER] Agter Geslote Deure
Agter Geslote Deure
daar is ’n plek waar stilte hang
soos stof tussen vergete dae,
waar rakke fluister van wie jy was
en hangers kreun onder vrae
jy trek die deur stadig oop
die lug ruik na onthou en miskien,
na jasse wat winters oorleef het
en hemde wat somers verdien
met elke stuk wat jy afhaal
val ’n deel van jou op die grond
’n ou lag wat die stilte breek
van woord wat maal tot mond
jy vou dit op, of gooi dit weg,
soos mens leer om los te laat
sonder om alles te verloor
wat eens gevorm het in haat
en tussen die leë spasies
waar lig nou skaars begin
maak jy plek vir iets nuuts
iets ligter, iets sagter, iets min
want elke seisoen vra sy tol,
maar gee ook stilweg terug
die kans om weer te kies met sorg
wat jy wil dra… of wil ontvlug
© Nicola Brown
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir MAART 2026 – HERFS/KAS projek