Jongste aktiwiteit:

Nat kombers (Goud) 457 Woorde

Ek is nie ‘n avontuurlustige mens nie. Daar is ‘n hele lys van aktiwiteite waarin ek glad nie belangstel om te doen voor ek tot sterwe kom nie. Piekniek hou, verál in die winter, beklee ‘n baie spesiale plek op hierdie lys.

Die idilliese fliektonele waar ‘n paartjie aanstryk deur die lang gras terwyl hul saam dra aan die piekniekmandjie tussen hulle, is mooi en ek waardeer dit vir die plek wat dit beklee in die storielyn. Wanneer die geruite kombers tevoorskyn kom en grasieus en vlindersag op die grastapyt neerdaal, bly ek geduldig en nestel dieper in my tv-kombers. Natuurlik moet die twee piekniekgangers hul eers verlustig in die pikante piekniekkos, voordat hulle, meegevoer deur die son in hul hare en die goddelike natuur om hulle, romanties raak. Gelukkig is dit gewoonlik dan die einde van die betrokke toneel en kan ek in die advertensie-pouse vir my ‘n beker warm koffie gaan maak.

Wanneer ék aan ‘n piekniek dink, is my eerste en enigste gedagtes aan ongelyk aarde, die kombers wat ek ná die tyd moet skoon kry en moontlike verspreide donderstorms.

Indien ek wél so uitstappie sou aanpak, sal ek verkieslik alleen wees. Ek sal gewapen wees met ‘n rugsak, gevul met ‘n eetdingetjie, ‘n fles koffie, ‘n pen en papier. In die stil natuur, sal ek die omgewing en die mensdom bedink en heel  moontlik verlore in my gedagtes raak. Daar is ‘n redelike kans dat ‘n gedig of twee vatplek aan my siel sal kry, maar ek sal dit nie daar skryf nie. Ek sal hoogstens ‘n paar notas maak en voor die dag veel verder vorder, my polshorlosie begin dophou.

Ek het lankal vrede gemaak met die feit dat daar sekere dinge is waarvoor ek net nie gerat is om te doen nie. Al hierdie dinge, waarmee ek nie nou hier gaan verveel nie, is pret, ontspannend, sielsverrykend en selfs noodsaaklik in baie ander se oë. Die feit dat ek nie daarin belangstel nie, het veroorsaak dat ek myself die titel nat kombers toe-geëien het. Altyd aan’t tjommel terwyl ek (gedwonge) een of ander iets op my nie-doenlysie deurworstel en immer rebelerend wanneer daar planne gemaak word vir iets wat soos ‘n nagmerrie klink (slegs vir my), laat my hierdie titel terdeë verdien.

Terug by mý piekniek… Wanneer ek opkyk van my polshorlosie, sal my blik opwaarts keer na die saampakkende wolke. Die weer sal begin rammel terwyl ‘n snerpende windjie my hare deurmekaar en my skamele notas wegwaai. Net mooi wanneer ek alles franties bymekaar begin skraap, sal die eerste groot druppel op my kop neerplons. Halfpad op my skarrelpad sal ek onthou van my agterweë piekniekkombers en guitig wonder: wie hou nou van ‘n nat kombers by ‘n piekniek?

© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2025




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed