Jongste aktiwiteit:

Boer Johan soek ‘n vrou

Boer Johan soek ʼn vrou, deur Stephan Uys

“Nou’s ek moeg gelieg!” sê Johan vir homself, en gee ʼn gedempte vloek. Hy vryf die krampe uit sy kort dik vingers. Hy het nog nooit van skryf gehou nie, en die brief aan “Boer soek ‘n vrou” het sy tol geëis. Hy sit tevrede agteroor en lees die brief saggies vir homself. Op die tafel lê ʼn foto van hom wat ʼn hele paar jaar (en kilogramme) gelede geneem was. Terwyl hy die brief lees, oordink hy sy skrywe.

Beste juffrou (dalk al mevrou).
Johan weet dat hy nie te kieskeurig moet klink nie, daarom hou hy die opsie oop vir dames wat vantevore getroud was. Hy is egter lugtig vir “Mevroue” omrede die stel wat hy met Debbie, sy tweede vrou afgetrap het. Maar voor Debbie was daar Saartjie.
Hy en Saartjie het in Standerd Nege in haar pa se skuur biologie-biologie gespeel, en toe word sy sowaar swanger. Hy was net-net agtien jaar oud toe word hy pa. Hy het nie beplan om met Saartjie te trou nie, maar haar pa se haelgeweer en ʼn skoot bokhael in die boedel het hom vinnig van plan laat verander. Dinge was maar haaks tussen hom en Saartjie vir ʼn ruk, maar toe kom dinge mooi reg. Hulle het nog ʼn seun gehad, maar eers sewe jaar later, na ʼn paar operasies aan die boedel. Saartjie is egter met die bevalling oorlede en Johan het gou met ʼn weduwee van die buurdorp getrou; vir alleen kind grootmaak het hy nie kans gesien nie. Debbie was net twee jaar getroud toe haar eerste man in ʼn jagongeluk oorlede is en haar kinderloos en diep in die skuld as weduwee agtergelaat het. Die buffel wat hom vermorsel het, se horings het lank in Johan se voorportaal gehang (hy het dit vir Debbie laat monteer en gegee as ʼn trougeskenk). Hy het net na die begrafnis oorgery na haar huis en met haar besigheid gesels. Twee weke later is hulle getroud, met Dominees wat nie seker is of hy die regte ding doen of nie. Spoedig het hy en Debbie ook ʼn kind gehad, ʼn klein dogtertjie. ʼn Jaar later het hulle weer so gemaak, maar dinge raak toe moeilik toe die dogters begin groter word. Debbie en sy seuns het nie geakkordeer nie. Sy het ook altyd vir Johan vergelyk met haar wonderlike oorlede man. Daai tyd het hy nog redelik gereeld kerk toe gegaan, omdat Debbie dit so wou. Hulle was so tien jaar getroud toe Dominees een Sondag vra dat die van hulle wat dink hulle is volmaak, asseblief tog moet opstaan. Johan het opgespring asof ʼn perdeby hom gesteek het. Toe Dominees verbaas vra of hy rêrig dink hy is volmaak, sê Johan hy staan nie namens homself nie, nee glad nie, hy staan namens Debbie se eerste man. Daai middag het Debbie se pa haar en die dogters kom haal. Hy kry nou nog so nou en dan ʼn rekening van haar prokureurs af, maar hy het nooit weer haar of hul dogters gesien nie.

Ek is Johan. Ek probeer al vanaf die eerste reeks van “Boer soek ‘n Vrou” inkom en het dit uiteindelik reggekry. Ek is ‘n lewenslustige 60 jaar oud en boer met beeste op Carolina.
Carolina is die plaas se naam, en dis geleë in die hart van Namibië, maar dit wil Johan nie nou al vertel nie.

My suster dink ek is waarlik ‘n aanwins vir enige vrou – maar ek wil graag briewe ontvang van dames tussen 25 en 40 jaar oud.
Johan het geen suster nie, maar hy voel dat ander vroue meer waarde sal heg aan sy skrywe as hy deur ʼn mede-Eva goedgekeur word. Hy het ook geen voorneme om na enigiets ouer as 30 te kyk nie. Hy wou eers vra die dame moet ʼn foto van haar ma ook saamstuur, maar het daarteen besluit. Vroue begin mos al meer hul ma se vorm erf namate die jaarringe vermeerder, so as die toekomstige skoonma nog lyk of sy nie die stoepbank sal breek nie, is daar klaar lig in die donker tonnel van vrou soek.

Behalwe dat sy jonk en mooi MOET wees, moet sy ook baie goed kan kook. Vandat ek en my vierde vrou, Sonja, geskei is, leef ek en my twee seuns (wat tans werkloos is) van pap en opgekookte bees.
Die plaas bestuur nie homself nie, en Johan soek nie te veel kandidate wat sy aandag aflei nie, so hy maak die vereistes duidelik. Met heimwee dink hy aan Petro (vrou nommer drie) en Sonja (vrou nommer vier). Hy het hulle al twee by die “Pay as you go” gaan haal. Hy het Petro leer ken as “Luscious Lucy”, en Sonja as “Nasty Nelly”. Dominees was nie bereid om hom en Petro te trou nie, want dames wat hul geld soos sy verdien mag glo nie in die kerk inkom nie. Toe Johan haar wil verweer en sê mechanics lê ook op hul rug en geldmaak, het Dominees hom onder sensuur geplaas. Hulle is toe by die Landdros getroud. Die Landdros was effe bek-af, want hy het self ʼn hegte verhouding met Petro gehad. Beide Petro en Sonja het nie baie lank gehou nie. Johan kan nie mooi verstaan waarom nie. Beide sy eerste vroue was nie te gewillig gewees nie, en het hulself veel eerder met huishou besig gehou. Nie Petro of Sonja het egter veel lus gelyk vir slag, vleis bewerk, kosmaak, skoonmaak, was, stryk en af en toe help ploeg of stroop nie. Die tweede keer toe hy Petro en Pieter in die slaapkamer kry, het hy haar en Pieter by die “Pay as you go” gaan aflaai en sommer tegelykertyd vir Sonja opgelaai en na die Landdros gevat. Dit was duidelik dat die Landdros en Sonja ook innig bevriend was, maar Johan is nie die jaloerse tipe nie, en glo mededeelsaamheid sal beloon word. So ʼn halfjaar later het Petro hom gedagvaar vir onderhoud. Hy het glo ʼn seuntjie in haar oondjie gebak. Sonja het darem langer gehou as Petro, maar hy het agtergekom dat Sonja en Dries al hoe meer tyd saam begin spandeer. Sonja het ook dieselfde hewige hoofpyne begin kry wat sy eerste vroue so dikwels gekry het. Sonja het haar dan in die kamer toegesluit en hy kon haar dan hoor steun en kreun van die pyn. Hy het haar innig jammer gekry. Hulle was ʼn hele paar jaar saam toe sy eendag vir hom ʼn skeibrief in die hand stop. Dries het aangebied om haar weg te vat met die bakkie. Hy het baie lank getreur oor die bakkie waarmee Dries verdwyn het. So drie maande later het hy nog ʼn dagvaardiging gekry – hy het jou wragtie by Sonja ook ʼn seun gekry, so tussen die hoofpyne deur! ʼn Maand of wat later het Dries op die plaas aangekom… sonder die bakkie. Hy wonder wat van daardie bakkie geword het.

Daar is egter nie ‘n tekort aan vleis nie, want ek boer mos met die goed.
Party vroumense gril vir bloed en derms, so Johan sê liefs nie hul moet self slag en bewerk nie.

My seuns, Dries (35) en Pieter (42) se wasgoed het ook veroorsaak dat ons huishulp ‘n maand terug die pad gevat het. Daarom voel ek sterk dat daar nou ‘n vrou in die huis kort.
Precious is al vier maande weg, en Johan het al twee keer nuwe hemde gaan koop vir hom en sy seuns. As hy sy broek uittrek, moet hy die pype oor sy bobeen knak om dit op te vou, maar hy sal moet plan maak om gou ʼn vrou in die huis te kry. As “Boer soek ’n vrou” nie uitwerk nie, moet hy dalk maar weer na die “Pay as you go” gaan.

Ek is ‘n aangename mens, drink net oor naweke en vloek net as iemand my kwaad maak. Verder hou ek van brei, armdruk en ek gaan een keer ‘n jaar kerk toe. (Het ek genoem dat my plaas 450km van die naaste dorp is?)
Johan is gelukkig met die paragraaf. Hy het op Laerskool een jaar tolletjie gebrei, en dit was baie lekker, so hy hou van brei. Johan gaan ook net Kersfees kerk toe, want dan is daar ʼn proponent wat preek, en hy weet nie van Petro, Sonja en die “Pay as you go” nie. Johan het ook nog nooit gemeet hoe ver is die dorp nie, sy eerste vrou het een aand tydens ʼn bakleiery dit vir hom geskree – so al asof hy die dorp so ver van die plaas af gaan bou het! Hy wou al baie die afstand meet, maar hy gaan net Saterdae dorp toe, en dit is sy drink tyd. Teen die tyd dat hy by die dorp kom kan hy nie meer die syfers mooi sien of neerskryf nie. Hy moet tog eendag op ʼn Donderdag dorp toe gaan!

As jy hou van lepel-lê, vars plaaslug, kook en stryk, is ek die man vir jou.
PS: In die wintermaande as dit droog is eet ons net koolsop, want ek moet voer koop vir die beeste en die onderhoud wat ek aan my vorige vrouens en my ander vier kinders moet betaal, maak dinge finansieel bietjie moeilik.
Ja, dink Johan by homself: “Dit is altyd beter om redelik eerlik te wees!”

Hoor graag van jou.
Johan
Johan rus sy arms op sy groot maag. Hy is heel tevrede met sy pennevrug. Steunend staan hy van die stoel af op en navigeer sy weg deur die berge klere op die vloer. Hy sukkel om te stap want die broek se pype is al lekker hard van al die kos wat daaraan vassit. Hy gaan haal sy vyfde bier uit die yskas. Dit is netnou teetyd, en Pieter en Dries sal maklik die laaste twee kaste bier opsuip sonder om hom in ag te neem. Dis nog drie dae voor Saterdag. Hy hoop die bier hou tot dan. As dit opraak, sal hy moet inry vir nuwe proviand en dan dalk sommer ook gou stop by die “Pay as you go”. Pieter sê juis hulle het mooi vars vleis ingekry. Dan kan hy sommer ook sien hoe ver is die dorp nou eintlik; hy wil nou nie lieg vir “Boer soek ʼn vrou” nie!

Erkenning
Riana le Roux het die oorspronklike brief geskryf en op SA Skrywers se Facebook blad geplaas. Ek het met haar toestemming die storie rondom haar brief geskryf en die karakters verder ingekleur. Baie dankie vir die voorreg om jou werk so te kon gebruik Riana.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed