Jongste aktiwiteit:

Koos, die Yank en die haai

Koos, die Yank en die haai. Deur Stephan Uys.

Ek was die dag self op die strand, so ek het met my eie oë die storie sien gebeur. Ook maar goed ek was daar, anders het ek my eie oë se storie nie geglo nie! Ek het ook later met die oorlewende partye gepraat, net om seker te maak van al my feite. Die storie het drie bene, en een been begin in Amerika…
Bill, ‘n Yank afkomstig van New York se omgewing, besluit om in Suid Afrika van sy hardverdiende dollars ontslae te raak. Hy en sy gesin boek hul vliegtuigkaartjies en bespreek verblyf in een van Durban se spog hotelle. Ongelukkig val hul bespreking oor die Desember Kerstyd; die tyd van die jaar wanneer alles wat asem haal in Durban se see vergader. Hulle land na ‘n lang vlug op King Shaka lughawe en word gekarwei na die hotel. Bill (ek verstaan hy is eintlik William op sy papiere) reël met iemand by ontvangs om al die dinge wat jy sal benodig op die strand vir hulle te koop en stop sy hand vol dollars. Laatmiddag word ‘n wavrag geite by hulle hotelkamer afgelaai – alles wat jy sal benodig vir ‘n seevakansie aan Natal se kus, en dan nog ‘n klompie goeters vir die wis en die onwis. Bill en sy gesin is reeds lekker vroeg op die strand die volgende oggend. Dit is hul eerste dag by die see en hulle maak hulself reg om die heeldag daar te spandeer. Daar is al ‘n paar mense op die strand toe hul daar aankom, maar min het die ligter velpigmente waaraan Bill gewoond is. Die gebeure wat Bill ‘n besluit sou laat maak wat hom amper sy lewe gekos het, het so net na tien begin. Bill vertel my hy en sy vrou en hul twee kinders het hulle nuwe handdoeke oopgegooi onder hulle splinternuwe gazebo en was net mooi besig om die New York reuk van hulle af te was toe die eerste paar busse volgeprop met mense daar stop. Die deure bars oop en die volgende oomblik kom die helfte van Afrika se bevolking suid van die Sahara uit die busse gepeul met, soos hy dit stel: “Their volume turned to full blast!”! Die mense storm die strand vol. Sommige trek net daar klere uit en storm skamel geklee met onderklere die water in, ander trek weer net daar op die strand uit en aan. Binne vyf minute is die see om hulle propvol mense, en al wit wat hy sien is die wit in sy gesin se oë wat wyd gesper en vol vrees na die jillende en gillende massas om hul staar. Hy is nog besig om sy vrou te probeer kalmeer toe die oorblywende helfte van Sub-Sahara se bevolking daar opdaag. Sy vrou gee een kyk, gryp ‘n kind in elke hand en storm terug hotel toe. Bill gaan haal hul handoeke onder die gazebo uit, maar besluit om liefs sy nuwe gazebo te skenk aan die ongeveer veertig mense wat onder en om dit vir koelte gaan soek het. Teen die tyd dat hy by die hotel kom het sy vroutjie reeds hul akkomodasie gekanseleer en ander akkomodasie meer suid van Durban gereël. Die hotel bestuurder beloof hulle plegtig dat die strand waarnatoe hul gaan heelwat meer “privaat” is.
So kom Bill en sy ontnugterde gesin uit by ‘n gastehuis so ‘n paar kilometer voor Port Edward; net betyds vir ‘n drie dae lange reënbui. Cabin fever speel op almal se rou nerwe, en toe die wolke Maandag oggend ooptrek, betrek daardie Amerikaners die strand soos hul laas gedoen het met die inval op Vietnam. Nou moet ons eers vir Bill by die strand los en oor Koos praat.
Koos is ‘n boer daar diep uit die Vrystaat. Koos is groot! So breed soos die manne in die Bulle se voorry, en so lank soos die slotte wat bal vang in die lynstaan. Hy het proewe vir die Bulle gespeel, maar het sy ligamente in sy enkel geskeur tydens ‘n wedsryd teen die Sharks. Koos is dan ook ‘n groot Bulls ondersteuner. As jy hom sou vra hoekom hy nie vir die Vrystaat Cheetahs skree nie, sal hy jou gou sê dat hy doen, want die meeste Bulle is in elk geval van die Cheetahs af gesteel. Ewenwel, Koos en sy vrou en hul kroos van vier is ook oppad na dieselfde strand waar Bill hom bevind, maar hulle gaan kampeer. Hulle daag by die karavaanpark op net na die reën begin val. Hulle maak die karavaan so half waterpas en gaan soek skuiling binne-in. Vir drie dae kan hulle nie die tent opslaan nie, en dit is ‘n bedompige naarheid in die kleinerige karavaantjie. As dinge te erg raak, gryp Koos ‘n boek en gaan lees dit rustig op die “troon” in die gemeenskaplike badkamer. So het Koos later al sy vrou se tydskrifte deurgewerk, en selfs die twee rolle toilettepapier afgerol om te sien of daar nie straks iets op geskryf is nie. Al wat oorbly om te lees is Liefie se resepteboek. Die aand voor die sondvloed ophou lees Koos van haaivin sop. Hy sit die boek neer en wonder waar hy ‘n paar haaivinne in die hande kan kry, want dit klink vir hom heel lekker. Die volgende oggend toe die son deurbreek, word daar gou eers tent opgeslaan, en dan draf-stap almal af strand toe, net betyds om Bill se pridikament waar te neem. Voordat ons daar kom, moet ek net eers gou-gou iets van die storie se derde been vertel.
Met die drie dae se reën en storms op see, het die haainette so effe oopgeskuif. Groot genoeg oopgeskuif vir ‘n honger sewevoet lange haai om sy weg deur die nette te vind. Die haai het al by drie vorige geleenthede mense aangeval, en het ‘n voorliefde begin ontwikkel. Dit is hierdie haai wat sal sorg vir ‘n allervreeslike bloedbad, en dit is net na Koos se aankoms op die strand dat die haai ook sy opwagting daar maak!
Bill se vrou het hulle so gesonbrandmiddel dat die water eintlik van hulle afspat, die Yanks lyk kompleet soos vier mummies uit ‘n riller film. Ma en die twee spruite spring watersku in die golfies op die strand se rand rond, terwyl Bill (soos ‘n Witborskraai) breëbors die water indraf na daar waar Afrika en Australia se grenslyne raak. Die water is vuil en die golwe nog lekker hoog na die storm. Die see stoot vir Bill uit strand se kant toe, en elke keer as hy opstaan is hy maar weer halflyf in die water. Hierdie uitgooiery deur die see sal later in sy guns tel. Bill vertel hy was so dertig minute in die see toe begin die mense op die strand vir hom te groet. As Bill nou nog tussen ‘n klomp Engelssprekendes in Durban was, sou hy die groetery beter kon verstaan. Hy is ongelukkig tussen ‘n klomp boere, en hy verstaan hulle heeltemal verkeerd. Amerikaners is mos nie meer te gewild in Afrika nie, en hy voel heel geëerd toe almal begin “Hi” skree en vir hom waai. Hy wuif entosiasties terug en skree van sy kant af dieselfde groet vir die strandgangers. Hy begin onraad vermoed toe die ander mense uit die water vlug asof hulle lewens daarvan afhang. Toe die groot vin so ‘n paar meter langs hom verskyn besef hy “hi” beteken moontlik iets heel anders as net hallo in Suid-Afrika. Vrees gryp met staalvingers Bill se hart, en dit voel vir hom sy laaste uur het aangebreek. Die haai kom reguit op hom af, maar Bill is versteen van vrees; hy staan so stil soos Lot se vrou toenterjare gelede gaan staan het. Dit, én al die sonbrandmiddel op sy lyf, maak die haai skoon deurmekaar. Met al sy vorige jagtogte het die mense probeer wegkom, maar dié een is doodstil. Die haai skuur aan Bill en al sy sensors registreer die wit pilaar in die see ‘n lewendige mens is, maar die vreemde gedrag, tesame met die wit goed op sy vel maak die haai effe skrikkerig. Terwyl die haai besluit of hy vir Bill gaan eet, en of hy ander prooi gaan soek, is daar dinge besig om te gebeur van die strand se kant.
Koos, Liefie en hul kroos kom net op die strand aan toe die mense begin “haai” skree. Koos los Liefie en hul kroos net so, gryp sy biltongmes in sy sak en storm see toe asof hy die wendrie gaan druk in ‘n Currybeker-finaal. Koos het net een ding in sy kop – haaivinsop! Die heel nag het hy lê en wonder hoe hy ‘n paar vinne in die hande gaan kry, en hier kom die antwoord aangeswem na hom. Hy sien die bleeksiel wat so stokstil in die water staan en skree vir hom om die haai net ‘n rukkie besig te hou. Koos is bang die haai verdwyn voor hy by hulle kan uitkom, maar dit lyk nie of die kerel registreer wat hy sê nie. Koos hardloop so spring-spring die see in, knipmes in die hand. Toe hy merk die wit soutpilaar gaan hom nie help haaivang nie, versnel hy sy pas soos hy daardie dag tydens die proewe gedoen het toe ‘n vleuel tussen hom en die pale wou inskuif. Net hier kry Bill sy vierde breuk; Koos se gespat trek die haai se aandag, en met ‘n laaste sirkel om Bill kry die haai koers na Koos en sy biltongmes. Koos vertel my later toe hy daardie haai so reguit na hom aangeseil sien kom, hy onmiddelik terug was op die rugbyveld tydens sy proewe teen die Sharks; die einste wedstryd waarin sy rugby drome vernietig is. Koos wonder so by homself van watter kant af ‘n mens moet begin om ‘n haai te slag. Hy besef egter gou hy gaan nie vandag ‘n keuse gegun word nie, hy gaan by die haai se besigheidskant moet begin. Koos skree oor sy skouer vir die witgepleisterde man om te kom hand bysit met die slagtery, maar hy sien uit die hoek van sy oog hoedat die man ‘n nuwe spoedrekord op water opstel. Hy hardloop so vinnig dit lyk of hy bo-op die water loop.
Die haai maak sy mond groot oop om sy skerp tande diep in die man voor hom in te slaan. Ongelukkig vir hom maak sy oë toe as hy byt, so hy sien nie wat volgende gebeur nie. Koos systap die haai soos ‘n wafferse losskakel ‘n vinnige flank sal systap en gee die vis ‘n dwarsklap in die verbygaan. Die haai wag vir die smaak van warm bloed om sy mond te vul, maar die volgende oomblik word hy skoon van koers af geklap toe Koos se groot regterhand hom teen die kant van die kop tref. Sy sterk stert slaan Koos se voete onder hom uit, en man en vis verdwyn saam-saam onder die water!
Teen hierdie tyd bereik Bill die strand. Hy sien die skok op die skare voor hom se gesigte, en toe hy omkyk sien hy net ‘n skuimende bloedbad daar waar die groot man met die klein messie kort vantevore was. Bill se manlikheid skop in en hy draai om en hardloop terug, reguit na die kolkende bloedkol in die see. Hy is net reg om kop eerste in te duik toe die groot man uit die see opstaan met ‘n dooie haai onder sy regterarm vasgeklem. Al wat die verstomme Bill kan uitkry is: “But how did you do it?” Koos se antwoord maak vir hom geen sin nie: “No Shark stands a chance against a Bull!”
Daardie aand toe ek saam met Pa Koos en die Amerikaner sit en haaivinsop eet met ‘n paar dik haai steaks op die braai, wonder ek wat sal gebeur as ons volgende Julie dalk ‘n paar leeus in die Kruger wildtuin raakloop?




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed