Jongste aktiwiteit:

Ek is Marietjie

Ek is Marietjie

Sy gaan sit om haar grimering aan te sit, maar vandag is dit nie grimering nie…dit is ‘war-paint’! Sy bestudeer haar gesig aandagtig. Sy moet erken sy hou nogal van wat sy in die spieël sien. Haar hare is in ‘n moderne kort styl gesny en dit is donker blond gekleur. Sy vat saggies aan haar gesig en vryf met haar vingers oor haar stywe vel. Na die reeks operasies aan haar gesig en nek kan sy byna geen van die letsels meer sien nie. Sy vat haar tyd met die aansit van haar grimering; sy maak baie seker sy versteek elke oorblywende letsel wat dalk haar identiteit dalk kan verklap. ‘n Jaar gelede was sy nog Marietjie Cloete, ‘n pragtige en goed versorgde rykmansvrou wat in die Ooste van Pretoria gewoon het. Baie dinge het in dié jaar verander!

“Die wraak kom jou nie toe nie”, sê sy met ‘n greinslag vir die vreemde vrou wat haar in die spieël beloer. Sy kyk na haar hande. Die dokters kon die gebruik van haar hande red, maar die letsels wat die vuur gelos het, is nog duidelik sigbaar. Sy trek versigtig die sagte leerhandskoene aan voordat sy ‘n nommer op haar selfoon skakel.

“Ek’s oppad!” sien sy die vrou in die spieël sê. Sy tel die klein 9mm Glock pistool op wat langs haar grimering-sakkie lê. Behendig haal sy die magasyn uit die wapen en kyk vir die soveelste keer of dit vol is. Sy het met wapens grootgeword. Haar ouers het ‘n grensplaas besit en haar pa het seker gemaak sy geliefde dogter “Riet” het saam met haar twee broers leer skiet.
Sy span die wapen nadat sy die magasyn hard terugslaan, en maak seker die veiligheidsknip is op voor sy dit in haar klein handsak insteek. Haar gedagtes dwaal na die verlede.

‘n Jaar gelede was Jan Cloete nog vir haar die wonderlikste eggenoot en trotse pa vir hul vier kinders. Toe ontdek sy boodskappe op ‘n versteekte selfoon. Dit was duidelik dat Jan by dwelmhandel betrokke is. Oor die bestek van twee weke het sy ook ontdek dat hy betrokke is in die smerige wêreld van kinderpornografie. Sy sou dalk nog die dwelmhandel kon oorkyk, maar met kinderpornografie kon sy haarself nie mee versoen nie. Sy het inligting ingesamel rakende haar man en sy venote se skelm bedrywighede. Nadat sy genoeg informasie bymekaar gemaak het, het sy ‘n ou skoolvriend wat in die Polisie is gebel. Hulle het afgespreek om mekaar een oggend in ‘n koffiewinkel te ontmoet.

Pieter Verwey is ‘n kolonel in die Polisie, en haar dokumentasie en inligting het hom laat regop sit. Marietjie het haar bewyse aan hom oorhandig. Drie dae later het hy en twee kolegas haar weer in die koffiewinkel ontmoet. Hulle het nog meer inligting nodig gehad. Hy het Marietjie oorreed om hulle te help om vir Jan en sy gespuis op heterdaad vas te trek.

Die Duiwel kyk egter na sy eie! Jan het snuf in die neus gekry en haar een aand, toe hulle twee alleen by die huis was, gekonfronteer met haar verraad. Onkant gevang het sy haar onskuld probeer bewys. Dit was egter duidelik aan die dinge wat Jan geweet het dat iemand in die Polisie aan hom inligting verskaf het. Hy het haar met ‘n krieketkolf geslaan. Sy het half bewusteloos neergeval en op die mat bly lê. Jan het omgedraai en die kan petrol wat eenkant ongemerk in die hoek gestaan het, opgetel. “Jy sal brand vir jou sonde”, het hy gegryns terwyl hy die ingang na die vertrek en die hele gang met petrol natgooi.
Dit was duidelik hy wou hê sy moes doodbrand en geen kans hê om te ontsnap nie! Sy het gehoor toe hy die vuur aansteek. Die “swoesh” toe die petrol vlamvat is in haar geheue ingebrand. Die hitte van die vlamme was oorweldigend en sy het haar longe voel skroei. Sy het op die grond gelê en bid vir uitkoms, maar niemand het gekom nie. Desperaat het sy die tapyt onder die koffietafel uitgestoei en om haar gerol. Met haar serp voor haar gesig het sy probeer om suurstof in haar longe in te trek, maar sy het verstik van die rook.
“Nou of nooit!” het sy haarself aangemoedig en toe so vinnig as moontlik deur die vlamme probeer hardloop. Die rook het haar verblind en die vlamme het na haar gegryp. Die tapyt het haar spoed belemmer en sy het dit voor haar oor die vlamme gegooi; en toe was dit net sy, en die vuur, en daardie helse lang en warm gang.
Kolonel Pieter Verwey het haar ernstig verbrande liggaam daar op die tapyt in die gang gekry het. Hy het haar oonskynlik lewelose liggaam opgetel en uitgedra en met haar na die naaste hospitaal toe gejaag. Die brandeenheid daar sou vir die volgende tien maande haar huis wees.

“Dis tyd!” sê sy vir die vrou in die spieël. Sy neem haar handsak, sluit die voordeur, en draf die trappe af na haar motor. Haar hart gallop van spanning en afwagting. Terwyl sy na haar bestemming ry dink sy na oor die laaste paar maande. Terwyl sy in die hospitaal gelê het, het niemand behalwe Pieter haar besoek. Niemand mag geweet het dat sy leef nie, nie eers haar kinders nie! Sy het meer oor haar kinders gehuil as oor haarself, en die wrok in haar binneste het gegroei en wit-warm gegloei.
Aan die begin het sy haarself lê en bejammer, maar toe kom die woede! “Hoe kon hy?” Die pynlike prosedures en die gemis na haar kinders, het haar woede in haat laat verander. “Hoe durf hy?” Om Jan aan die pen te laat ry het haar obsessie geword; dit het haar die moed en krag gegee vir elke operasie en elke veloorplanting.
Na sewe maande was die dokters eers tevrede genoeg met hulle handewerk om haar aan haarself voor te stel. Die gesig in die spieël was nie sy nie. Sy het probeer glimlag, maar die senuwees in haar gesig het te veel skade opgedoen om die res van haar gesig te laat saamlag. Haar vel was styf en dood, en dit was presies soos sy gevoel het – styf en dood!
Sy was nog nooit ‘n wraaksugtige mens nie, maar wraak is die enigste ding wat sy nou aan kan dink!

Sy stop net na een uur die middag voor ‘n deftige restaurant en kyk in die truspieëltjie. Haar grimering is foutloos en haar hare is perfek. Sy haal diep asem voor sy uit die motor klim. Haar oë dwaal oor die parkeerarea, maar sy sien nie wat sy na soek nie. “Kom nou, Riet!” bemoedig sy haarself voor sy doelgerig by die restaurant ingaan.
Binne gekom wag sy nie om gehelp te word nie; sy en Jan het baie hier kom eet. Sy stap reguit na waar Jan en ‘n pragtige donkerkop vrou intiem sit en gesels. Daar is ‘n olie-lampie op die tafel en ‘n groter olie-lamp hang bokant die paartjie, presies soos sy gister met die bestuurder gereël het.
Sy gaan staan reg voor hulle tafel en kyk stip na hom.

Dit neem die bonkige man ‘n rukkie voor hy bewus word van haar, en hy is onmiddelik geirriteerd.
“Kan ek jou help?” vra hy haar bars.
“Ja Jan, jy kan!” sê sy, dan trek sy stadig die handskoene van haar hande af en skuif haar moue op. Die lelike brandwonde laat sy oë rek en sy sien hoe herkenning daarin verskyn.
Sy haal die klein Glock stadig uit haar handsak en rig dit sekuur op hom. “Beweeg” snou sy vir die mooi vrou langs hom. Die donkerkop is skynbaar ‘n atleet, want sy verdwyn in ‘n oogwink.
“Wie is jy?” vra Jan, maar sy weet hy vermoed wie sy is.
“Ek is Marietjie.” sê sy kalm voor sy twee skote afvuur!

Die eerste skoot tref die lamp voor Jan en hy word vol brandende olie gespat. Die tweede skoot tref die lamp reg bokant sy kop en nog brandende olie val oor hom. Die man voor haar begin gil en skreeu terwyl hy vervaard probeer om sy brandende klere af te ruk.
Niemand waag dit om hom te hulp te snel nie; die klein blonde vroutjie met die uitdrukkinglose gesig en die pistool in haar hand maak seker daarvan.
Sy raak bewus van die lang man in die netjiese blou uniform wat langs haar met ‘n brandblusser staan. Hy kyk na haar en vra: “Is dit nou genoeg, Riet?”
Met ‘n laaste kyk na die skreeuende man voor haar, draai sy om en terwyl sy wegstap sê sy: “Dit sal nooit genoeg wees nie.”

Net na sewe daardie aand is daar ‘n klop aan haar woonstel se deur. Sy loer versigtig deur die loergat voor sy die deur oopruk. Voor haar staan Pieter.
“Is dít genoeg, Riet?” vra hy vir haar oor die koppe van haar vier kinders!




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed