Die Atleet
Die Atleet, deur Stephan Uys
Magnus Burger kyk oorbluf na die seun voor hom. In sy dertig jaar as onderwyser was hy nog nooit so onkant gevang nie. Hy ken die leerling nog net twee weke, maar hy sou nooit dit van hóm verwag het nie!
ʼn Nuwe leerder trek nie sommer aandag in Langkloof Akademie nie; daar is immers tweeduisend leerders in hierdie spogskool. Dit is egter nie die geval met die nuwe leerling wat midde Februarie ingeskryf word nie. Die seun is lank en lenig, eintlik ʼn bietjie maer. Aan sy verslete groen skoolklere kan jy aflei dat dit finansieel seker maar swaar gaan by sy huis. Die kêrel het egter ʼn groter probleem as armoede; die mannetjie het ʼn totale onvermoë om ordentlik te kommunikeer. Onbekend maak onbemind, en dit was gou-gou die geval met dié nuweling. Die seun vrees skynbaar alle geselskap, en beide onderwysers en leerders wat met hom gesels, vind hom geweldig bot. Selfs Magnus kry niks meer as “Ja Meneer” of “Nee Meneer” uit die knaap nie. Dit veroorsaak dat die kinders agter sy rug oor hom skinder en vir hom lag. ‘n Paar van die Matriek seuns het hom openlik begin spot, maar Magnus se vlymskerp tong het vinnig dié barbaarse optrede hokgeslaan. Die wat hom probeer bevriend, maak net eenmaal die fout. Die leerling is doodstil in die klas, en elke pouse gaan sit hy stoksielalleen op die pawiljoen sy toebroodjies en eet. Vandag, twee weke nadat hy by die skool ingeskryf is, is dit Interhoër-Saterdag. Al die leerders en onderwysers moet by die byeenkoms wees. Daar heers ʼn heerlike feestelike stemming op die pawiljoene. Daar is die gewone vriendelike kompetisie met liedjies en krete tussen die verskillende skole se leerders. Op die veld én om die baan is die kompetisie egter glad nie so gemoedelik nie. Elke atleet poog om sy of haar teenstanders te wen, en veral onder die seuns blyk die testosteroon vlakke hierdie jaar ietwat hoog te wees. Net na tien die oggend word daar afgekondig dat die 3000m atlete moet begin gereedmaak vir hul items.
“Mag ek ook hardloop, Meneer?” Magnus is heeltemal onkant gevang toe hy omdraai en die nuwe leerder voor hom sien staan. Hy sou nooit kon droom dat dié stil seun sal wil deelneem nie, en boonop het hy die jongman nog nooit so baie woorde hoor praat nie.
“Kort of lang afstand?”
“Hoe verder, hoe beter, Meneer. Ek het gedink die 3000m klink goed”, antwoord die seun kop onderstebo. Magnus neem die seun daar en dan om te bevestig of daar nog ʼn atleet mag deelneem. Hulle kry goedkeuring en nadat hy seker gemaak het dat die seun ingeskryf is, word hy met ʼn pragtige glimlag beloon. “Dankie Meneer. Baie dankie!” roep die seun oor sy skouer terwyl hy na die wegspringpunt toe draf.
Toe die 3000m vir seuns onder sestien aanbreek, kom staan die nuweling op die baan. Hy is kaalvoet en het nog sy verweerde groen skoolklere aan. Magnus loer onderlangs na die kêreltjie. Hy lyk nie of hy weet wat hy moet doen nie. Terwyl die atlete hulle staan kry, stap Magnus gou oor na die seun: “Doen net wat hierdie seun doen,” sê hy en wys na die atleet wat reg voor hulle staan, “hy is die SA kampioen.”
Onderwyser en leerling se oë ontmoet vir ʼn oomblik.
“Dankie Meneer.”
Magnus weet nie of hy dankie sê vir die kans om deel te neem, en of hy dankie sê vir die raad nie.
“Lekker hardloop, boeta!”, sê Magnus voor hy haastig van die baan afstap. Dit is tyd vir die wedren om te begin. Magnus stap oor na waar Langkloof Akademie se leerders besig is om hul opposisie sleg te sê met ʼn liedjie wat hy ook op skool geskree het. Net voor die skoot klap maak die dirigente die leerders stil. Almal wag in stilte vir die resies om te begin; dit is nie elke dag dat jy ʼn SA kampioen sien hardloop nie.
Die skoot klap, en met die wegspring gly en struikel die nuweling. Hy word summier deur die atleet agter hom eenkant toe gestamp, maar hy kry dit reg om sy balans te behou. Magnus voel erg teleurgesteld, hy het so gehoop die mannetjie gaan ʼn kans kry om te kompeteer, maar hy is ver agter die res van die pak atlete. “Hi ouens, kyk daar! Ou Stilstuipe hardloop ook.”, skreeu een van Langkloof se leerders toe hy die nuwe seun gewaar. Daar volg heelwat kommentaar oor “Ou Stilstuipe” se swak begin. Magnus wil hul eers stilmaak, maar besluit dan daarteen. Soms doen jy meer kwaad as goed as jy te veel inmeng.
“Kyk daar! Hulle wil nie vir Stilstuipe plek maak nie”, lewer iemand kommentaar oor wat op die baan gebeur. Die groep atlete het stelselmatig al verder en langer uitgerek, en die nuweling het intussentyd opgevang met die agterste vier atlete. Elke keer as hy wil verbygaan, hardloop een van hulle voor hom in. Hier op die paviljoen word daar nou hardop gebrom oor die slegte sportmansgees wat op die veld heers. “Dis tog snaaks hoe onregverdigheid mense se harte en gesindhede kan verander” dink Magnus as Langkloof se leerders skielik vir ‘Stilstuipe’ begin raad skree oor hoe hy moet hardloop. Toe die atlete die draai vat, skuif die vier atlete wat hul atleet die heeltyd geblok het agter mekaar in, en dit is eers toe dat Magnus en die Langkloof-ondersteuners besef hul atleet het spoed in sy maer lyf. Een vir een, man vir man, gaan hy by hul verby. ʼn Paar leerders lewer weer kommentaar oor sy vertoning; die keer is dit glad nie so negatief soos vroeër nie. Stelselmatig gaan hy die een atleet na die ander verby, maar eers in die vierde rondte word sy vordering werklik opgemerk toe die vyfde atleet van voor tevergeefs sy verbygaan wil beperk deur hom te pootjie. “So ʼn vuilgoed!” skreeu ʼn leerder en maak daarmee seker dat almal se aandag by die gebeure op die baan is.
Magnus luister hoe hulle op die pawiljoen naarstigtelik soek na iemand wat weet wat die seun se naam is. “Ek dink sy naam is Petrus”, sê een ou meisie skaam, en toe nog een dit bevestig ken almal skielik sy naam.
Dit vat Petrus twee rondtes om verby nog drie atlete te kom. Dit lyk en klink vir Magnus of Langkloof Akademie se leerdergetalle groei hoe nader Petrus aan die SA kampioen skuif. Toe nog net twee rondtes oorbly, is Petrus in die tweede plek. Elke leerling wat nog nooit vantevore geskreeu het nie, leer daardie dag presies wat skreeu beteken. Tussen die kampioen se skool en Langkloof Akademie is daar so ʼn gegil dat almal se aandag na die baan getrek word; daar is nou sowat sestig meter wat die twee atlete skei. Die afstand tussen hulle word stadig, baie stadig, kleiner, daarvan is Magnus seker.
Die kampioen raak bewus van die skare se rumoer. Hul opgewondenheid laat hom gou oor sy skouer loer; dit was lanklaas dat iemand so naby aan hom gekom het dat sy skool hom aanmoedig om vinniger te hardloop. Die kampioen se oë rek. Die kaalvoet seun het mooi opgevang, maar daar is nog sowat twintig meter tussen hulle. ʼn Ander atleet sou dalk net sy pas volhou, maar nie dié kampioen nie, hy het al geleer jy onderskat nooit jou opponent nie. Hier waar Magnus langs die veld staan kan hy sien hoe die kampioen sy treë rek en sy pas net effens versnel. Magnus knik onbewustelik sy goedkeuring; die kêrel weet wat hy doen! Hy wil nie nou sy ritme breek of homself ooreis nie.
Die klok wat die laaste rondte uitbeier, is die teken wat die kampioen laat lostrek. Magnus sien hoe hy die krane oopdraai, maar hy sien ook hoe die kaalvoet Petrus sý treë langer rek. Die skare is op hul voete, elke oog is vasgenael op dit wat voor hulle afspeel. Daar is driehonderd meter oor na die wenpaal, toe die kampioen weer oor sy skouer loer. Daar is nou net tien tree tussen die twee atlete en beide skole se leerders raak skoon besete soos hulle luidkeels vir hul kandidate gil.
Tweehonderd meter bly oor toe Petrus langs die kampioen inskuif. Ervaring maak dat die kampioen aan die binnekant bly toe hulle kop-aan-kop om die laaste draai hardloop. Die skare probeer hulle tot groter spoed dryf met hul hees geskreeude stemme! Kop aan kop kom die twee atlete uit die draai, niemand kan onderskei wie voor is nie. Magnus voel die hare op sy arms regop staan! Almal se senuwees is aan flarde. Daar bly maar tagtig meter na die wenpaal oor!
Die skare is op hul voete, hul oë is vasgenael op die twee mededingers. Wie van die twee atlete gaan eerste die wenstreep haal?
Die arms pomp, die bene rek, die gesigte is stram getrek. Niks anders trek nou hul aandag af nie; dit is vir die wen wat hulle werk. Diep asemteue, lang treë nog verder rek… stadig maar seker begin die een atleet die ander verbysteek, en dan word die lint gebreek! Magnus is nie daarvan bewus nie, maar hy skreeu net so hard soos Langkloof se leerders, want Petrus is die nuwe kampioen!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.