Jongste aktiwiteit:

Die Uittog

Die Uittog, deur Stephan Uys

Hier na die einde van November bestudeer ek en Liefie die begroting met ‘n vergrootglas, nie omdat ons oë so sleg is nie, maar omdat ons salarisse so klein is. Ons besef sommer reeds gou in ons ondersoek dat daar nie fondse is vir see toe gaan nie. My hart krimp ineen, nie omdat ek so vreeslik na die see verlang nie, maar omdat dit beteken ek en Liefie gaan die hele Desember vakansie in die tuin werk! Dit is Liefie se idee van “fun in the sun”, en ek deel glad nie haar entoesiasme nie. Vir my is vreugde in die son om laatmiddag ‘n paar steaks op die vuur te gooi terwyl ek ‘n Bulls game kyk en wens Naas het nog vir hulle gespeel.
In ieder geval, my neef bel my een Maandag so ‘n week later en nooi vir my en die gesin om by hulle te kom vakansie hou. Sonder om eers met Liefie te korrespondeer, konfirmeer ek net daar en dan, voor Neef straks van plan verander. Neef vertel my hy het twee woonstelle op sy plaas aan die Suidkus gebou, en ons moet een kom vat vir ‘n toetsrit. Die kroos is opgewonde, en na ek en Neef beide se selfoonkontrakte geledig het, is die wederhelftes se vrae (volgens my mening) ook tot ‘n mindere of meerdere mate bevredig. So word die bakkie se olies opgetop en bande styf gepomp, selfs die spaarwiel word nagegaan. Alles is reg vir die tweede groot trek waaraan die Uyse gaan deelneem. Dinsdag middag toe ek moeg by die huis opdaag kan ek nie die voordeur oopkry nie, die ding steek net weerbarstig vas. Ek stap om na die agterdeur, groet my vriendelike vrou in die kombuis en stap myself vas in Mount Neverest! Dit lyk of iemand my huis in die voorportaal en sitkamer ingedra het. Verdwaas draai ek na Liefie om te hoor wie trek waarnatoe, net om te hoor dit is ons paksel vir die vakansie. Ek klim terug in die bakkie en gaan top my selfoon op. Ek bel my neef toe ek terug kom by die huis. Soos ek die een tas of sak oopmaak, vra ek hom oor die foon of dit nodig is om dit saam te bring, of kan ek dit maar by die huis los. Daardie aand net voor twaalf het ek en Neef gedoen wat Gideon daardie dag by die spruitjie moes doen – besluit oor bly of ry! Gideon het egter nie Liefie gehad om elke “blyer” te bevraagteken nie.
Moeg groet ek my neef en sak op my hurke neer. Die kinders en Liefie het ingepak en weggepak terwyl die oordeel gevel word, so die bakkie lê op sy aste en die voorhuis is weer skoon en leeg! Elkeen verdwyn na sy eie kamer en spoedig slaap almal, behalwe ek. My kussing (vir die laaste tien jaar) is in die bakkie, daar diep agter weggepak. Liefie het ‘n plaasvervanger gegee wat dalk sal doen as ‘n binnesool vir my skoene, maar as kussing is dit niks werd nie. Ek druk en stamp die velletjie om bietjie volume in hom te kry, maar dit help niks. Êrens na 12:30 moes ek tog aan die slaap geraak het, want ek skrik myself nugter wakker toe my nuwe selfoon se wekker teen 2:30 met ‘n trompetgeskal my én die bure wakker maak. My eerste gedagte is dat dit die Wegraping moet wees wat plaasvind. Vinnig kyk ek of Liefie nog langs my lê, en of sy nie straks sonder my opgeroep is na hogere diens nie. Die frons op Liefie se voorkop voorspel egter niks goed vir die gerub wat haar so onsimpatiek wakker geblaas het nie. Dit laat my ook wonder of sy die beste persoon is om te gebruik as ‘n maatstaf vir heiligheid en wegraapbaarheid. Uiteindelik besef ek dit is my nuwe selfoon wat die oordeel so luid aankondig. Ek bel die bure en verduidelik dit was nie die Wegraping nie, maar laat dit vir hulle as ‘n waarskuwing dien, mens weet mos nooit…
Ek gaan maak die kroos wakker terwyl Liefie aantrek. Teen die tyd dat die kinders begin aantrek, het Liefie al die ketel aan die kook. Ek is net besig om my koffie te sluk toe die Wegraping vir ‘n tweede keer aangekondig word. Ek skrik my dinges los en brand my mond en keelgat toe ek in die skrik ‘n reuse sluk koffie vat. Ek spoeg die hittige vloeistof met ‘n boog in die wasbak se rigting, net toe Ouboet nog half aan die slaap verbygestap kom. Ek brand die man se oor vir hom vuurrooi! Die koffie is so warm dat toe hy sy kop ʼn rukkie later skuins draai, daar gesmelte oorwas by sy oor uitloop. Die man gryp sy oor vas asof ‘n perdeby hom geraps het. Intussentyd bel die bure vir my om seker te maak ons is nog op die planeet; jy weet mos, mens weet nooit nie. Die oubaas langsaan is eers half verlig om te hoor ek antwoord nog my foon, maar klink dan effe vererg toe hy my vra om asseblief my foon sagter te stel of af te sit. Ek wil nog verduidelik die ding is nuut en… toe beëindig hy die gesprek sommer sonder om te groet.
Intussentyd het Liefie vir Ouboet getroos, koffie en oorwas afgevee, en ‘n skoon hemp aangetrek. Nou word daar vinnig gemaak. Ons elkeen gryp ‘n beskuit of drie, doop en herdoop en wederdoop die goed tot hul mooi sag is, en sluk dit heel af. Daar sal later in die kar meer tyd wees vir kou. Ons spring in die bakkie, die kinders wil nog baklei oor wie in die middel sit, toe begin ek al uittrek uit die motorhuis. So met die toemaak van die motorhuis se deur, maar voor die bakkie se deure almal toe is, begin die basuine jou waarlik vir die derde keer te blaas. Toe buurman se naam op my foon verskyn, ignoreer ek hom en skuif ek die foontjie diep onder my boude in. Buurman kan gerus maar wonder of die derde keer skeepsreg was; hy kan in elk geval doen met ‘n bietjie indiepte selfondersoek dink ek toe ek haastig die pad na Neef toe vat.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed