Jongste aktiwiteit:

Ja Korporaal

Ja Korporaal, deur Stephan Uys

Ek kom nog uit die era van verpligte Nasionale Diensplig. Ek onthou ek was in Standerd Nege toe daar so ʼn bruin venstertjiekoevert in ons posbus lê, geadresseer aan niemand anders as die uwe nie. Ek het opgewonde die brief oopgemaak, hopende dat ek na die Vloot opgeroep is. Ek het so ʼn paar maande vantevore ʼn skrywe gerig aan die Admiraal wat daar in beheer is waarin ek vir hom verduidelik het dat daar vir my niks lekkerder is as om in die branders te speel of om op vinnige bote rond te vaar nie. Ek het myself meer as bereid verklaar om beheer te neem van enige vinnige motorboot wat die vloot straks mag hê. Ek kon nie wag om te hoor wat die Vloot van my aanbod dink nie, en hier was die lankverwagte brief uiteindelik.
Ag was my teleurstelling groot toe ek na 1SAI in Bloemfontein opgeroep word. Bloemfontein! Daar is nie eers behoorlike damme daar nie, wat nog te sê van ʼn wye oseaan gevul met bikini lyfies wat wit geklede matrose grootoog van begeerte aankyk! Toe vind ek tot my verdere skok uit die I in 1SAI staan vir niks anders as… Infanterie! Nie net gaan ek nie op ʼn boot rondseil nie, ek gaan nog moet loop na waar die goewerment my wil hê. Infanterie is net ʼn trooswoord vir voetsoldaat. Dit is daai manne in die flieks wat met hangskouers en verbinde liggame in lang toue van die slagveld af wegstap terwyl trokke gevul met al die ander tipe soldate by hul verbyry. Saam met hierdie slegte nuus het ek ook my magsnommer gekry. Dit is die nommer wat jou uniek maak, die nommer wat alle deure in die weermag vir jou oopmaak; dit is nou alle deure behalwe voertuig deure, want ek is mos nou ʼn Infanterie soldaat. Saam met die ry syfers in my magsnommer, is daar dan ook twee letters, naamlik BJ. Piet se pa verduidelik vir ons dit staan vir “bloody jonk”, maar ek weet nie lekker of ek hom moet glo nie.
In ieder geval, ek stoei toe deur Standard Nege en Matrikuleer driemaal voor die Army my kom haal. Vroegmore een Saterdag in Februarie laai Pa en Ma hul oudste bloedjie af by ʼn park in Johannesburg, en net daar begin ek leer van in die Army wees. Ons word hiernatoe en daarnatoe geskree. Dan stap – let wel STAP ons in lang rye na Johannesburg stasie om daar op treine gesit te word en regoor Suid Afrika versprei te word. In die paar uur wat dit vat om van ‘civvy’ na ‘troepie’ oor te skakel, leer jy een ding vrek vinnig; dit is die woord ‘Korporaal’. Dit eerste en belangrikste les wat jy leer is: elke sin word geëindig met Korporaal. Of dit nou ‘Ja Korporaal’ of ‘Nee Korporaal’ is, solank daar ʼn korporaal aan die einde van jou antwoord is, sal jou lewe redelik sorgeloos aangaan. Vergeet egter van daardie woord, en goete wat in dreine gestort word kom jou pad langs. En dan is die wêreld nog vervuil ook van die korporaal goeters; dit wil my voorkom daar is ten minste twee Korporaals vir elke terroris wat Suid Afrika se vrede bedreig en ons grond wil steel.
Dit is so skuins na etenstyd dat ons op Bloemfonteinstasie arriveer, en daar is (tot my groot verligting) sulke lelike bruin vragmotors genaamd Samils, waarop ons moet klim – ten minste dertig van ons met al ons bagasie op een trok. Ek het gedink ons gaan na die basis moet stap; ek kon huil van blydskap toe ek die bruin trokke sien, maar ek het nie! Later toe ons propper troepe was het ons tot veertig agterop so ʼn Samil gepas. Ek kom vanaf ʼn plaas en het vroeg in my lewe al geleer hoe om op ʼn wa te klim, maar dit lyk my daardie middag of party van die kêrels wat saam met my moet opklim nog nooit vantevore eers ʼn trok gesien het nie, wat nog van op een geklim het. Dit wil voorkom of party van hulle nog net op ʼn toilet geklim het voor hierdie dag, want op hul eie stoom kry hulle net nie opgeklim nie. Daar word later van onder gestoot en van bo af getrek, daar word gevloek (deur die manne in uniform) en selfs hier en daar saggies gehuil (deur die manne wat nie uniform dra nie), en einde ten laaste is almal uiteindelik op die Samils. Ek kan jou nie veel vertel van die rit na 1SAI nie, want die klappe was van buite af toegespan om die manne wat vroeg-vroeg wil AWOL se plesier te kortwiek, so dit was bra donker en bedompig daar binne. O ja, dit het ook geskud dat jou tande klap; enige een wat met harsingskudding opgeklim het, sou definitief daardie aand met erge bloeding op die brein in 3 Mil se ICU gaan lê het. By die barakke aangekom is ons vinnig in pelletonne verdeel en slaapplek gegee. Toe word ons die tweede belangrikste reël geleer. As iemand met ʼn rang in die kamer instap, spring jy op en staan op aandag – die reël geld ten alle tye. Dit maak nie saak waarmee jy besig is nie, jy los alles en gaan staan op aandag. Hou in gedagte die eerste reël is jy antwoord hard en duidelik met ‘Korporaal’ aan die einde van elke sin.
Nou kan ek baie vertel van wat met ons gebeur het in die eerste drie weke, maar ek wil eintlik uitkom by die dag wat ons op ʼn Saterdagmiddag ons eerste pos ontvang het. Ons het teen die tyd almal overalls gedra, sulke oorgroot eenstuk overalls wat almal al stukkend tussen die bene geskaaf was. Ons het ook geweet daar is ander range as Korporaal, maar dit was teoretiese kennis. In praktyk het ons net met die Korporaals te doen gekry. So af en toe met ʼn luitenant, maar dan was die Korporaals ook daar. So gebeur dit dat die Korporaals die Saterdagmiddag skynbaar in die dorp rondlê, toe die Poskantoor almal se pos van regoor die land op een slag kom aflaai. ʼn Goedhartige Majoor (hy is redelik hoog op die rangorde, en het ʼn kasteel op sy skouers, nie sterre soos luitenante en kapteine nie) besluit hy sal vir die arme nuwe rekrute gaan pos uitdeel.
Dit was seker so teen drie uur die middag dat die offisier met sy blink kastele en welige snor by ons barak instap. Iets wat ek tot vandag nog nie kan verstaan nie, is hoe dat alle offisiere altyd sulke welige weglê snorre het, ek wonder of dit deel is van die keuring as jy voltyds wil aansluit by die SANW? In ieder geval, ons spring regop soos een man, maar word gemoedelik aangesê om te ontspan. Al die nuwe rekrute word na buite geroep waar ons volgens peloton aantree. Die vriendelike man met die blink kastele en weglê snor begin name uit te roep. As jou naam uitgelees word, kom jy op aandag, en marsjeer dan na die man met die dik pak briewe. Dit kan almal nou al mooi doen na drie weke se oefen. Dit is as hulle mooi voor die man met die kasteel op die skouers halt, wat die neukery begin. Jy sien oudergewoonte word daar nou hardop “Hier Korporaal” geroep. Toe die eerste troep daai vriendelike Majoor ‘Korporaal’ noem, kry daai besem-snor so ʼn trilling, en ek sien die man se oë trek op sulke fyn skrefies terwyl sy adamsappel vinnig op en af beweeg soos daardie hysbakke in Sandton se shoppingcentre. Na ʼn rukkie van selfbedaring sê hy afgemete in ʼn ysige stem: “Ek is ʼn Majoor troep, ek is nie ʼn Korporaal nie.” Daardie snor begin van voor af bewe toe die arme troep antwoord: “Reg Korporaal, jammer Korporaal.” Die hysbak gaan so ʼn paar keer op en af terwyl die Majoor homself probeer keer van troepmoord. Hy gee na ʼn lang selfondersoek vir die arme troep die brief en word van voor af bloedrooi is sy gesig toe die man die brief vat en ewe vriendelik vir hom sê: “Dankie Korporaal”, voor hy omdraai om weer sy plek te gaan inneem in sy peloton. Dieselfde ding gebeur met die volgende troep, en met die troep na hom. Elke keer word die Majoor se gesig nog rooier, die hysbak onder sy ken klim hoër en vinniger, voor dit terugval, net om weer een of twee maal die hoogte in te skiet. Die Majoor lyk of hy erge sonbrand onderlêde het, so rooi is sy gesig, Sy welige snor bewe nie meer teen die tyd nie, dit wip letterlik op en af, so al asof dit ‘makeer-die-pas’ daar tussen sy mond en neus. Teen die tyd dat die vierde troep hom van Majoor na Korporaal reduseer, is ek seker die Majoor gaan die aand in 3 Militêre Hospitaal oornag as gevolg van ʼn koronêre episode. Hy verduidelik vir die arme troep in mooi gekruide weermagtaal: “Ek is nie ʼn @$&%# Korporaal nie, ek is ʼn @$&%# Majoor! Wat is ek troep?”
“Jy is ʼn Majoor, Korporaal!” antwoord die arme troep die Majoor. Ek weet nie of daardie troepie ooit daardie brief gekry het nie, ek weet wel hy was nog besig om te hardloop toe ons die aand voor die menasie aantree vir ete.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed