Grensplaas
Grensplaas, deur Stephan Uys
Ferdinand Jakobus Gerhardus Ehlers se hare mag grys wees, maar nie een van hulle is bang nie! Hy is twee en sestig jaar oud en het al baie dinge in sy jare gesien en beleef; hy gaan ook nie nóú staan en bang word nie.
Vroeg vanoggend stop Luitenant Kunéne op Ferdie se plaas op die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek. Hy vertel vir “Oupa” (soos almal Ferdie noem omdat hy reeds silwergrys was voor sy dertigste verjaarsdag) dat hulle terroriste se voetspore gevolg het vanaf die grens tot anderkant sy plaas. Volgens die voetspore het hulle ʼn paar keer oor sy heining geklim, in die rigting van die plaashuis gestap, net om om te draai en weer oor die heining terug te klim. Volgens Lt. Kunéne het dit drie keer gebeur. Ferdie is briesend! Hoe durf hulle sy grensdrade so minag! Hy besluit daar en dan hy gaan daardie aand self sy plaas patrolleer, net soos sy pa gedoen het. Die familieplaas is al vir vyf generasies in die Ehlerse se besit en hy wat Ferdie is gaan dit nie somaar laat beroof of verniel nie. Daar het al vier Ehlerse hul lewens gegee vir dié erfgrond, en geen mens sal daaraan raak nie, al kos dit nog ʼn Ehlers se lewe!
Ferdie gaan haal sy semi-outomatiese geweer uit die kluis nadat Lt. Kunéne vertrek het. Hy gaan sit in sy studeerkamer en begin die geweer skoon maak. ʼn Man se geweer is soos ʼn man se gewete – dit moet altyd skoon wees! Sy oog val op die ou dubbel-loop haelgeweer wat teen die muur gemonteer is. Die een loop is oopgeskiet en die kolf is stukkend. Ferdie se oog dwaal na die boekrak. Hy staan op en gaan haal die boekie met hulle familie geskiedenis uit die boekrak. Op die voorblad pryk die Ehlers familie wapen, en op die eerste blad staan daar in dik vet letters geskryf: “‘n Ehlers staan nooit alleen nie!” Sy artritus vingers blaai die bladsy om. Daar is ‘n skets van sy oupagrootjie se pa se broer; hy was ook Ferdinand Jakobus Gerhardus Ehlers. Die skets is van ‘n jong man wat langs sy perd hurk terwyl hy ‘n hond se kop vryf. In sy ander hand is die haelgeweer wat teen die muur hang, maar in die skets is die geweer nog heel. Hy was die eerste Ehlers wat sy bloed vir die familieplaas gestort het. Dit word vertel dat Ferdinand en sy broer Christoffel Martinus Hendrik, mekaar plegtig belowe het dat geen Ehlers ooit alleen sal staan nie. Die storie in die boek vertel hoe hulle laat een middag deur ‘n oormag Impis aangeval was. Die twee broers het rug teen rug gaan staan en skoot na skoot afgevuur op die aanvallende mag. Erens het daar fout gegaan met Ferdie se geweer en sy een loop het oopgeskiet. Die aanval het so hewig geword dat die twee broers naderhand hul gewere as knuppels moes gebruik. Ferdie het sy geweer se kolf stukkend geslaan tydens die geveg. Die geveg was hewig totdat die son gesak het. Die oomblik toe die son onder gaan, toe storm die Impis daar weg asof die Duiwel self wou kom dissipels kies onder hulle. Eers toe Christoffel omdraai, het Ferdinand van sy rug af weggegly en dood voor sy voete neergeval. Hy het nie toegelaat dat sy broer alleen staan nie!
Ferdie lees nog ‘n paar stories van Ehlerse wat hul lewens gegee het vir die plaas. Daar was sy Oupagrootjie Hendrik, wat op die ouderdom van twee en veertig in ‘n aanval oorlede is. Daar is ook sy eie pa en sy oudste broer wat saam gesterf het toe hul bakkie ‘n landmyn afgetrap het in die laat Tagtigs. Ferdie het daardie dag grys geword, en grys gebly. Hy en sy broer Christo sou saam geboer het, maar deur die noodlot is die hele plaas aan hom bemaak. Ferdie oorweeg om sy seun Jakobus te skakel en te vertel van die moeilikheid, maar besluit dan daarteen. Jakobus en sy gesin is vir twee weke met vakansie en sal eers volgende week terug wees.
Ferdie het heel middag geslaap, en teen agt uur die aand is hy reg vir aksie! Hy en Liesbet sit in doodse stilte ‘n laaste koppie koffie en drink. Hy kan met ‘n stok aanvoel dat haar gemoed soos die moerkoffie in sy hand is, maar sy sê nie ‘n woord nie. Klaar gedrink loop haal hy sy geweer en ‘n paar ekstra gelaaide magasyne uit die kluis. Hy wil vir Liesbet op die mond soen, maar sy draai vir hom die wang – ‘n baie koue wang! Met ‘n laaste “Totsiens Liesbet” vat hy die fles koffie en knyp dit onder sy arm vas voor hy by die deur uitstap. Hy maak seker Liesbet sluit die deur agter hom – hy vat nie sleutels saam nie. Straks is hy die vyfde Ehlers wat vir die plaas met bloed betaal, en dan mag die sleutel nie aan hom gevind word nie. So in die stilte wonder hy of Liesbet darem vir hom die deur sal oopsluit as hy more-oggend haar opklop. Ferdie saal sy perd op. Hy het dit oorweeg om met die quadbike te ry, maar dié is te raserig – vanaand ry hy perd soos sy voorouers gedoen het.
Dit is omstreeks 11:30 toe Ferdie ‘n vuurtjie sien brand so ‘n halwe kilometer van sy noordelike grensdraad, en so twee kilometer van die opstal af. Hy klim van sy perd af en maak die leisels aan ‘n tak vas, dan begin hy geluidloos en versigtig na die vuur toe te stap. Soos hy naderkom sien hy net een persoon en ‘n perd by die vuur. Ferdie se hart klop in sy keel en hy kan sy eie bloed hoor druis deur sy are. Hy sak of op die grond en loer in alle rigtings, maar hy gewaar niks of niemand nie.
Hy is so tien meter van die vuur af, toe roep die vreemdeling sonder om na hom te kyk: “Kom gerus nader Oupa, hier is nog niemand nie.” Ferdie voel hoe sy nekhare ruis. Hy probeer die man se gesig sien, maar dis weggesteek onder ‘n outydse breërand hoed. Wie is die man? Hoe weet die man wie hý is? Hy stap die vuur se ligkring in, en dan word die bloed in sy are yskoud. By die man se voete lê die hond in die skets van die Ehlers familie boek, en op die stomp waarop die man sit, lê daardie selfde haelgeweer wat teen Ferdie se muur hang…maar dié geweer is nog heel! Die hond grom liggies en kyk dan met vuurrooi oë na Ferdie. Ferdie voel hoe elke haar op sy lyf regop staan! Hy probeer praat, maar vrees het sy mond kurkdroog gemaak. Ferdie moet ‘n paar keer hard sluk, dan vra hy in ‘n skor stem aan die man wat nogsteeds vooroor gebuk na die vuur staar: “Wie is jy?”
“Oupa, jý weet mos ons Ehlerse staan nooit alleen nie!”, sê die man by die vuur, en dan lig hy sy kop op. Die lawa-rooi oë van oorlede Ferdinand Jakobus Gerhardus Ehlers brand die laaste bietjie brawade uit Ferdie se beendere uit; sulke oë behoort nie aan iets wat nog asemhaal nie! Die man met die rooi oë lyk of hy wil opstaan, en oppad terug opstal toe stel Ferdie ‘n nuwe land-spoed rekord op! Hy kom eers tot verhaal toe Liesbet, deur die slaap en dood verskrik, die voordeur vir hom oopmaak.
Liesbet jaag vir Ferdie ‘n paar koppies boeretroos in; van die sterk soort wat jou in die aand laat regop sit met sooibrand. ‘n Vaalwit en bewende Ferdie vertel vir haar wat hy deurleef het. Net voor die son opkom gaan hulle kamer toe, maar elke keer as Ferdie sy oë toemaak sien hy daardie vurige kykers van oorlede Ferdinand Jakobus Gerhardus Ehlers.
Laat die volgende middag pla Ferdie se boerehart hom. Sy perd staan al heeldag sonder kos en water in die veld. Liesbet bied aan om saam te ry om sy perd en geweer te gaan soek. Hulle kry die perd waar Ferdie hom gelos het. Nadat Ferdie die leisels losgemaak het en die perd water gegee het, vat die hings self die pad na die stalle toe. Dit het teen die tyd al goed skemer geword, en Ferdie skakel die ligte aan as hulle in die bakkie klim. Hy en Liesbet ry in stilte na waar hy die vuur gesien het. Hy stop die bakkie toe hulle by die stomp kom waar die geesteswêreld gisteraand die vleeswêreld binnegedring het. In die skynsel van die bakkie se ligte sien hy sy geweer op die stomp lê, presies soos die haelgeweer gisteraand. Hy klim versigtig uit die bakkie, en Liesbet kan sien haar man bewe van vrees. Sy klim uit, maar toe haar voete die grond raak voel sy hoe haar armhare opstaan. Sy drafstap om by Ferdie te kom, en dan stap hulle stadig na die stomp toe; so al asof hulle onheilige grond betree. “Ek het gewonder of jy jou geweer gaan kom haal”, praat ‘n stem uit die donkerte agter die bakkie.
Liesbiet gil ‘n gil wat bloed sal laat stol en sy sê ‘n woord wat geen kerkmens mag herhaal nie. Sy trek weg in die rigting van die opstal sonder om eers te kyk of Ferdie saamkom of nie. Ferdie sou seker nog wou bly om familiebande uit te lê, maar geen oordentlike man laat sy wederhelfte alleen deur die bosse hardloop nie. Sonder om terug te kyk vat Ferdie die pad agter sy vrou aan.
Lt. Kunéne staar in verbasing na die twee oumense wat so vinnig in die bosse in verdwyn, so al asof die Duiwel self wil kom dissipels kies. Vir oumense het hulle nogal gróót spoed! Hy roep en roep, maar hulle is skynbaar nie lus vir sy geselskap nie. Hy krap sy kaal-geskeerde kop. Dit is soms vir hom moeilik om hierdie grensboere te verstaan!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.