Onthou
Die ou skooltjie het stil onder sy verslete sinkdak gelê. Die dakplate het sag geklap soos die oggendwind daaroor geskuur het. Die stof het in dun strepies oor die vloer gelê. Lien het haar hande aan haar rok afgevee.
Sy het gestaan en kyk hoe die kinders een vir een inskuif met kaal voete wat gewoond was aan die koue sementvloer. ’n Seuntjie het sy hoed teen sy bors vasgehou en na die groot Engelse leesboek op haar lessenaar gestaar.
“Juffrou,” het hy sag en huiwerig gesê, “moet ons vandag weer daai… Engelse woorde lees?”
Lien se hand het vir ’n oomblik op die boek gerus. Sy het dit effens opgelig. Onder dit het ’n dun, verslete Afrikaanse leesboekie gelê.
“Dawid, wat onthou jy van gister?” het sy sag gevra.
Hy het gefrons, af gekyk na sy voete en toe weer op. “Juffrou het gesê… ’n woord kan soos ’n huis wees.”
“En?”
“Dan moet ’n mens weet waar jy bly,” het hy gefluister.
Lien het geknik. Toe het sy die dun leesboekie uitgetrek en oop op die tafel neergesit. Die kinders het nader geskuif. Krrr… krrr… het die stoele oor die vloer gekrap.
“Goed,” het sy gesê, haar stem net-net hoorbaar bo die wind. “Sê vir my, wat is hierdie woord?”
Sy het liggies met haar vinger op die bladsy getik.
Die kinders het almal vorentoe gebuig. ’n Dogtertjie het haar onderlip vasgebyt.
“Mo… moed… er?” het sy probeer.
Lien het na haar gekyk.
“Harder,” het sy gesê.
“Moeder,” het die kinders saam gesê. Hierdie keer duideliker.
Van buite het die dowwe geklap van perdehoewe nader gekom. Lien se vingers het op die woord bly rus. Sy het nie opgekyk nie.
“Sê dit weer.”
Die perdehoewe het voor die skooltjie stilgehou.
Vir ’n oomblik het niemand iets gesê nie. Net die sinkdak het klap-klap bo hulle koppe gekap, en êrens agter in die klas het ’n kind hard gesnuif.
Stadig het Lien die Afrikaanse boekie toegemaak.
“Sit regop,” het sy sag aan die paar kinders voor haar gesê.
Die kinders het agtertoe geskuif. Krrr… krrr… het die stoele oor die sement geskuif.
Toe het daar ’n skaduwee oor die sementvloer geval.
’n Man het in die opening verskyn. Sy hoed was laag oor sy voorkop getrek. Stof het wit op sy stewels gelê. Agter hom het die perd hard deur sy neusgate geblaas.
“Good morning, Miss Meiring,” het hy gesê.
Lien het haar hand oor die boekie gevee, asof sy stof afvee.
“Goeiemôre,” het sy gesê.
Die man se oë het oor die kinders gegly. Hy het na die lessenaar gekyk en na haar hand wat stil op die boek gerus het.
“I trust the children are progressing well with their English reader?”
Die negejarige Dawid het afgekyk na sy kaal voete.
Lien het gevoel hoe die leesboekie warm word onder haar palm.
“Hulle leer om te lees,” het sy gesê.
Die man het haar strak aangekyk.
“Answer me in English, Miss Meiring.”
Buite het die wind aan die dak geruk. Klap. Klap.
Lien het haar ken net ’n bietjie hoër gelig.
“Hulle leer ook om te verstaan,” het sy gesê.
Die man het met een tree die klas ingetree. Sy stewels het hard op die sement gekraak.
“Understanding is not the instruction.”
Lien het gehoor hoe een van die dogtertjies haar asem skerp intrek.
Sy het die groot Engelse leesboek uitgehaal en dit bo-op die dun Afrikaanse boekie neergesit. Netjies. Stadig. Soos iemand wat geweet het daar word stip na haar gekyk.
“Open your books,” het sy vir die kinders gesê.
Die man se gesig het effens getrek.
Toe Dawid sy boek oopmaak, het sy oë op Lien gebly.
Sag onderdeur, só dat net sy dit kon hoor, het hy gefluister: “Moeder.”
Die kaptein het voor Dawid kom staan en met sy vinger na die Engelse leesboek gewys.
“Read!”
Dawid het probeer om die Engelse sin te lees, maar die woorde het in sy mond vasgehaak.
Die stilte het ongemaklik in die klas kom lê.
Die kaptein het die opdrag herhaal, baie skerper dié keer.
“LOUDER!”
Langs Dawid het ’n dogtertjie saggies begin snik. Die kaptein het sy geduld verloor. Sy harde voetstappe het soos donderweer teen die sement geklink.
Dawid het weer gefluister: “Moeder.”
Die kaptein het hom gehoor en in sy spore omgeswaai. Hy het die Engelse leesboek voor Dawid weggeruk. Hmfff! Hy het die Afrikaanse boekie gevat en stadig daardeur geblaai.
Toe het hy hardop gelees: “Moeder.”
Sy blik het na Lien verskuif.
Die stilte ongemaklik.
“Explain!”
Die kinders het hul asem opgehou.
Lien het hom vas in die oë gekyk.
“Hulle moet weet waar hulle hoort.”
“This is forbidden, Miss Meiring!”
Hy het die bladsy uit die boekie geskeur met ’n sjuuss-geluid.
Lien het gebuk, die boekie opgetel en die uitgeskeurde bladsy geneem.
Toe sy regop kom, het haar vingers aan die rand van haar voorskoot se sak gehaak. Die papier daarbinne het sag geritsel. Sy het oor die vergeelde brief gestreel. Sy het dit uitgetrek. Die voue was dun geslyt en die hoek effens geskeur. Sy het dit stadig oopgevou.
Haar oë het oor Leo se bekende handskrif gegly.
“My Lien…”
Sy het gesluk. Die bladsy en die brief het sy langs mekaar vasgehou.
Toe het sy haar kop gelig.
Sy het begin lees. Haar stem het nie gebreek nie. Dit het deur die klas getrek. Sag genoeg dat ’n mens mooi moes luister, maar hard genoeg dat dit nie weggeraak het nie.
“Moenie skaam wees vir hoe ons praat nie,” het sy gelees. “Dit is hoe ek jou ken. Dit is hoekom ek huis toe gaan kom.”
Die papier het nou effens gebewe tussen haar vingers. Sy het nie na die man in die deur gekyk nie. Nie na die kinders nie.
“Hou vas, Lien.”
Niemand het beweeg nie. Die wind het weer aan die sinkdak gevat. Klap. Klap.
Die man het sy mond skeefgetrek.
“That is enough.”
Lien het nie die brief toegevou nie. Sy het dit oop teen haar bors gedruk.
“Kinders,” het sy gesê, sonder om haar oë van die papier te lig.
Dawid het eerste begin.
“Moeder,” het hy gefluister.
Die man het sy kop geruk en skerp na die seun voor hom gekyk.
“Speak properly!”
Dawid se oë het na Lien gekyk. Hy het sy skouers agteroor getrek.
“Moeder,” het hy weer gesê. Harder.
’n Dogtertjie langs hom het aan haar lip gebyt.
“Moeder,” het sy gesê.
Nog een.
“Moeder.”
Die woord het deur die klas beweeg, eers sag, toe sterker.
Die man het vorentoe gestap. Sy stewels het hard geklap.
“Stop this!”
Lien het haar kop opgelig. Haar oë het vir ’n oomblik op elke kind gerus.
“Herhaal en lees saam,” het sy gesê.
Sy het terug na die brief gekyk.
“Dit is hoe ek jou ken…” het sy weer begin.
’n Hand het haar arm vasgegryp. Die papier het geruk, maar nie geskeur nie. Sy het nie weggeruk nie. Sy het die bladsy en die brief saam in haar hand gevou.
Dawid het half opgestaan. Sy stoel het skerp oor die vloer geskraap.
“Juffrou?”
“Sit,” het sy sag gesê. Net dit.
Hy het terug op sy stoel gesak. Sy vingers het aan die rand van die bank geklou.
Die man het haar nader na die deur getrek.
“Come,” het hy gesê.
Lien het saam uitgestap.
By die deur het sy vir ’n oomblik stil gaan staan. Nie lank nie.
Sy het omgekyk.
“Onthou,” het sy gesê.
***
Jare later het Dawid self agter ’n lessenaar gesit. Die hout was nuut en die venster groter, maar die lig het nog dieselfde oor die vloer geval. Die kinders voor hom het regop gesit met hulle boeke oop. Oë wat op hom gewag het.
Hy het nie die Engelse leesboek gevat nie.
Uit sy Bybel het hy ’n dun, gevoude bladsy getrek. Die rand was gebrand en die voue voos gevat deur jare se oop- en toevou. Hy het dit vir ’n oomblik net vasgehou.
“Kinders,” het hy gesê.
Hulle het opgekyk.
Hy het die bladsy plat op die lessenaar gelê en liggies met sy vinger daarop getik.
“Wat is hierdie woord?”
Hulle het vorentoe gebuig.
“Onthou,” het ’n seuntjie gelees.
Dawid het geknik. Hy het by die venster uitgekyk waar die wind gewaai het.
“Harder,” het hy gesê.
“Onthou,” het die klas saam gesê.
Hy het nie geglimlag nie..
“Onthou dit,” het hy sag gesê. “Want wat ons vergeet, verloor ons.”
©MarleneErasmus
29/04/2026
(1404 woorde)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.