Jongste aktiwiteit:

Jou huis is waar jou hart is.

Ek het daardie huis nooit besit nie, maar vir jare het dit soos myne gevoel. Vir ses jaar het ek daar gewoon, ’n plek van stilte na ’n lang dag, ’n kombuis waar ek my gunsteling disse voorberei het, ’n stoep waar ek die seisoene verby sien rol het. Maar dit was nie net die mure of die dak wat dit ’n veilige hawe gemaak het nie. Dit was die lewe wat ek saam met my mense daar gebou het: troues in die tuin onder wit tafeldoeke en vrolike blomme, kleinkinders wat vir die eerste keer deur die voordeur kom, verjaarsdae waar die tafels vol ballonne linte en koek gestaan het.
In die grasdak-lapa het ons soveel keer gebraai, stories gedeel tot laatnag. Langs die swembad het ons kinders en kleinkinders se gelag die lug gevul. Ons het waatlemoengevegte gehou en piekniek op die lowergroen gras, wat nou nog ’n glimlag optower.

Dit was ’n huis vol siel en liefde, net ’n leë dop toe ons daar ingetrek het, maar gaandeweg het dit my ons eie paradys geword.

En toe, op ’n grys dag vol reën, het daardie oproep gekom. My hand was nog in gips ná ’n operasie, my lyf nog broos en pynlik. Die eienaar se stem het verskonend begin, maar die woorde het hard geval: daar is mense wat die huis kom besigtig, wat moontlik wil koop. Ek het by die tafel gesit, die reuk van reën swaar in die lug. Ek het gevoel hoe die mat onder my voete uitgeruk word.

Toe die bevestiging later kom dat ons moet trek, het ek net stil begin huil. Ek het op my bed gesit, ontsteld en met soveel vrae. Hoe beskryf jy die gevoel om jou veilige hawe te verloor? Nie net ’n dak nie, maar die plek waar jy vreugde en pyn beleef het, waar jy vriende gevoed en kleinkinders geniet het? Vir my het dit nie gevoel asof iemand nie net ’n huis verkoop nie, maar die hartklop van my lewe.

Eers was dit ontkenning van uitstel met die pakkery en nuwe plek soek. Die dae daarna het gevoel soos ’n warboel van kartondose en moedeloosheid. Hoe pak mens ’n hele bestaan in bokse? Hoe vat jy lag, trane en herinneringe saam? Ek kon skaars my eie hand gebruik, nou moes ek nog my hele lewe oppak!

En tog, tussen die chaos, het ek een troos gevind wat my gedra het. Elke oggend, voordat ek enigiets anders aangepak het, het ek rustig met my koffie in die tuin gaan sit. Hulp van die kinders het gehelp om die herstel te bring. Saam het ons orde aan die dag gelê.

Elke klein handeling van uitsorteer en verminder het my deur die dae gedra. Dit was genoeg om mee te begin.

Van daar af het ons die roetine uitgebrei: bokse is netjies gemerk en ’n notaboek het ’n lys van die inhoud. Ons het uitgegooi, uitgedeel en minder gemaak. Die chaos van nooit uitsorteer het ons elke dag in sy greep gehou. Elke aand het rooisbostee ons lywe getroos, al het die kombuis in kartonne verdwyn. Elke dag was ’n klein oorwinning, wat keer dat ek heeltemal weggevoer word.
Die dag toe ek uiteindelik die sleutels moes teruggee, het ek weer deur die mooi groen tuin gestap. Ek het die grenadella tussen my hande gehou en dankie gesê vir die voorreg om te kon plant na hartelus. Die vloere was skoon gevee, die huis leeg en die kamers vol eggo’s. Ek het my hand teen die deurkosyn gelê, swaar van emosie en tog ligter as weke tevore. Ja, ek het gehuil, maar dit was trane van afskeid én van dankbaarheid. Want ek het geweet: herinneringe verdwyn nie saam met die huis nie, hulle leef voort in my hart.

Nou, meer as ’n jaar later, leef ons in ’n nuwe ruimte: ’n kleiner huis, met ruimer asem van vrede. Hier sit ek smiddae op die bankie in my tuin en kyk hoe die perde kom water drink. Ek luister na die voëltjies wat baljaar in my waterfontein onder die ou witgatboom. Die chaos van toe voel ver weg – soos ’n storm wat uitgewoed het, maar sy spore in my siel gelos het.

Ek verstaan nou: orde kom nie net in bakstene en ’n bekende adres nie; dit kom van die roetines en die vrede wat jy skep waar jy ís.

Ons is dolgelukkig hier in ons nuwe paradys. Die huis is beskeie in grootte, ryk in rus en eenvoud, lê die anker steeds in die klein handelinge: ’n tuin wat floreer, ’n beker tee, voëltjies wat hul vlerke in die fontein bad.
En ek besef: uit die grootste chaos kan nuwe ritme groei – soos vars gras ná ’n veldbrand.

©MarleneErasmus
24/09/2025

(792 woorde)




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed