Gered deur die klok (Goud) 508 Woorde
Ek hang aan my voete van die klaskamer se plafon. Reg onder my, gesiggies ‘n paar sentimeter van myne én mekaar s’n, staan twee kinders gelyk met my en gesels. Hulle kompeteer met mekaar in ‘n luide woord-kragmeting om die meeste te kan sê, sonder om oogkontak met my te verloor. Hulle praat oor, deur, óm mekaar.
Intussen probeer ek my bes om kop te hou en albei te laat voel dat ek na elkeen afsonderlik luister. Ek kry dit reg om hier en daar ‘n meningte lug, maar dié hoor hulle skaars. (Gelukkig vra hulle nie vrae nie!)
My kop begin draai, maar iewers in my oorgestimuleerde verstand, weet ek dat hierdie chaos, deel van die lekker is. Dat dit deel is van die pakket van die werk wat ek doen: onderrig van die neurodiverse, misverstaande, die besige, die soms chaotiese kinders.
Die blou-oog reg onder my, vertel in detail vir my van die vulkaan wat besig is om agter my uit te bars. Hy voel die hitte van die lawa wat blykbaar op pad is in ons rigting en probeer desperaat om my te oorreed om agter hom aan te vlug na veiligheid. Blou-oog nommer twee vertel vir my met ‘n diep frons dat mens nie vulkane in ons dorp kry nie, nie eens in die hele Suid-Afrika nie. Sy reken dat hier dalk dinosourusse was so ‘n paar jaar gelede, maar dat hulle almal reeds uitgesterf het. Dan peper sy my met ‘n paar name van en feite oor dinosourusse.
My kop begin draai. Chaos. Die res van die leerders begin onrustig raak, my aandag is darem nou té lank weg van hulle af. Een pak al die houtblokke wat ‘n paar minute vroeër opgeruim is, weer uit die houer, terwyl die pligsgetroue klein perfeksionis van die klas desperaat en luidrugtig probeer keer. ‘n Ander een is moeg gewag en honger en het sy kos gaan haal. Hy het sopas sy oop koeldrankbottel omgegooi…
Dan lui die etensklok. Eensklaps is die gesiggies uit my gesigsveld en almal op hulle stoele waar hulle vir my sit en wag sodat ons kan eet. Die gesels en gevroetel neem nog ‘n paar sekondes en dan kom almal tot bedaring.
Ek land weer op my voete en stap so statig moontlik na die voorkant van die klas. My blik gly oor elke kindjie en ek sê oudergewoonte dankie vir my hemelse Vader dat ek by hierdie kinders kan wees. Vir die krag en deursettingsvermoë en die geduld waarmee Hy my toerus, sê ek dankie. Ons dae is meerendeels rustig en georganiseerd. Hulle is almal vertroud met die roetine en dissipline in die klas. Dit is heerlik om elke dag met sy uitdagings saam met hulle te trotseer en te oorwin. Deel van die genot is die chaotiese tye wat so dan en wan uitbreek. Chaos wat nooit buite beheer raak nie en vinning weer opgelos word, sodat orde herstel word en ek my deurmekaar brein kan troos met ‘n heerlike koppie koffie!
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir September 2025 – Orde uit chaos projek