woordmag (silwer)
Woordmag
jou swetsende woorde
laat my swymelend vlamrooi
wanneer jy skeltaal kwetsend
teen my werp
soos skrapnel
in hellevlug
draai ek my rug wanhopig krom
as verydelde skans
met my lippe loom na joune gerig
straal my bloesende gesig begerig
minsaam en soet klink jou liefdeswoorde
soos suiwer nektar vir my sinne
salwend soos seldsame olies en mirre
vir my hunkerende hart hier diep binne
woorde gespreek… lei tot liefde of leed
© Retha van Deventer, 29 September 2025.
2 Kommentare
-

Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir September 2025 – Orde uit chaos projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Pikettie
Verskoning vir die tipografie wat nie korrek deur trek op die webtuiste nie. Sien asseblief foto aangeheg daarvoor.