Kassieglas (Goud)
As ek wakker word, is die spieël
van my badkamerkassie
my eerste geselskap, sonder voorgee,
sonder verskoning en maskers
waaragter mense mekaar groet.
In die lig van my badkamer
is elke fyn lyn sigbaar,
die moegheid om my mond
vertel van elke nag se gestoei.
My vingers vee oor
die dowwe kol in die glas
asof ek die waarheid
kan wegvee.
Maar my spieël is nie wreed nie.
Hy kan nie weet wat ek weet
van die stryd in my eie liggaam
om nog voor hom te kom staan nie.
Agter die kassiedeur
lê rome en pille saam met hoop,
maar in die glas
kan niks weggebêre bly nie.
Hy tel die spore op my gesig.
Ek tel die oorwinnings.
En skielik
lyk die een wat terugkyk
nie minder mooi nie,
net meer deurleef
in my seisoene.
©MarleneErasmus
30/03/2026
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir MAART 2026 – HERFS/KAS projek