Jongste aktiwiteit:

Murmerasie

Murmerasie

Oor Rooisand het die stilte een Woensdag soos ’n donderstorm neergedaal.

Niks van die sagte, bekende stilte van ’n Sondag na kerk nie, maar ’n oorverdowende, onnatuurlike leegte wat die lug verswelg! Die kerkklok, altyd ’n baken van orde, het verstom bly hang, sy tong gestol. Die trein het verbygedreun, maar sonder ’n fluit. ’n Spooktrein in stilte gehul. Die honde kef-kef-kef, maar hul blaf was weg. Kinderlaggies vervaag. En die wind — ja, selfs die wilde woeste westewind — het opgehou om sinkplate te ruk. Die hele wye wêreld hou asem op!

Donderdag storm Oom Willem die strate in, sy oë wyd van skok: “My vrou se stem is weg!” Vrydag verkondig sersant Latoya Pretorius met haar krakende stem oor die radio: “Geen alarm lui meer nie!” Die dorp het in paniek verval, elkeen luister na die gapende afwesigheid van hul geliefde geluide — stemme, name, liedjies — alles weggeraap deur ’n onbekende boef.

Saterdag, met ’n stem wat beef, het Ou Dik Daan by die koöperasie gebulder: “Kom kyk!” Sy vet vinger het na die hospitaaltuin gewys waar die skaduwees dans. “Daar’s ‘n man in ‘n ou lang jas. Met ’n blikkie in die hand. Hy roof ons klank! Steel ons stemme, een vir een. Ek sweer…”

Maar niemand het iemand gehoor nie. Net Toffie, die ou mank brakkie, drentel stertswaaiend deur die strate. Lankal reeds stokdoof.

Sondagoggend in die kerk moes jonge juffrou Liliana voorsing. Net ’n groot oop mond in die stilte. Sy bloos bloedrooi. Steek dit vinnig agter ‘n skaam handjie weg. Dominee hou die groot ou Staatsbybel omhoog met albei hande. Hy bid. Die ouderlinge begin ook bid. Teen die aand, bid almal in die dorp en omliggende streke.

Daardie nag, dertien minute voor twaalfuur, begin dit. Eers agter die ou masjienstoor. Twaalf-voor-twaalf, voor die hotel. Elf-voor-twaalf, agter die skool. Elke minuut tel af na middernag. Op ‘n nuwe plek. ’n Sinistere getik. Klik. Klik. Klik. Weerklink en eggo luidrugtig. Net om weer te versmoor in die dreunsang van stiller stiltes.

Mienja het op die sesde dag van stilte opgedaag. Sy kon die roepstem van haar boetjie uit Rooisand se hospitaal eenvoudig nie langer ignoreer nie.

Niemand het haar hoor kom nie — natuurlik nie — maar almal het haar gesien. Voorheen bekend as “Mientjie” van Stiltefontein. Nou, uitmuntende vegter van Shinai. Die orde wat menswees, natuurmagte en innerlike balans op hulle wapen saamsnoer. Op haar linkerskouer pryk Die Drievlerk Embleem as erkenning.

Die sesuur-bus het haar by die verlate stasie ver buite Rooisand uitgespoeg. Die bestuurder het onraad geruik en eenvoudig gestop. In vreemde tale geprewel oor geheime organisasies. Sy oë flitsend van vrees vasgenael op haar embleem. Toe met erge gekras van verkeerde ratte en huilende bande in ‘n stofwolk weggejaag.

Geklee in ’n lang, rookgrys mantel wat haar tot by die enkels omvou. Die kap laag oor haar hare en donker oë getrek. In die vae oggendlig het die dorpenaars haar vir ’n non aangesien, een of ander sendeling van ’n verlore kloosterorde.

Sy’t nie gegroet nie, nie gepraat nie — net gestaan. ’n Stil figuur met ’n onpeilbare krag. Skielik het Klein Sarel haar herken. Wild begin beduie, sy oë wyd: “Dis daai kind van Stiltefontein! Die een wat Die Swart Voël gebied het! ”

Eers het sy in ’n stowwerige kamer agter die biblioteek geskuil. Middag in die park gewag. Tussen vars blommegeur. Die aand het sy soos ’n skim deur die hospitaaltuin gesluip. Daar waar die stilte die dikste was. Nog ‘n klank word gegryp. Herinneringe van haar tweelingboetie lank gelede sidder deur haar wese. Sy eerste lewensgilletjie agter haar was die laaste wat sy ooit van hom gehoor het.

Kort na middernag het Mienja hom gewaar. Lang krom gedaante met ’n stomp neus en ore soos ruwe klippe, sy ou jas stowwerig en verslete. Hy het soos ’n vis onder water gegly, stil deur skaduwees geglip. Die blikkie in sy een hand glinster soms in die maanskyn. ’n Koperstetoskoop wat teen die hospitaalmuur druk-luister-druk-luister. Klik! ’n Klank — ’n gilletjie, ’n naam, ’n wiegelied — onmiddelik verdwyn in sy klankdigte tronk. Maar Mienja het dit gehoor! Sy het weer die verlies gevoel, en haar hart het gebrul.

In die leegte het Mienja hom ingewag. Stille soldaat teenoor die rowwe klankdief. Toe hy nader kom, het sy opgespring, haar stem ’n donderslag: “Murmurax!”

Hy’t gevries. Oë stadig geknip, diep droewige poele van geheime. “Klanke sweef lank,” het hy uiteindelik geantwoord, sy stem ’n koue fluistering. “Ek hoor ook vele stemme. Party kerm om vergeet te word. Ander veroorsaak wanorde. Angs en pyn. Binne. Buite. Oral. Nou bêre ek alles. Veilig.”

“Jy steel ons wese!” het sy verwyt.

“Ek sal met jou ruil.” Sy blikkie effe gelig. Moeg.

“Wat het ek om te gee?” het sy gepleit, haar stem sag soos blare wat fladder in die wind.

Hy het net na haar gekyk, lank en intens, soos iemand wat al vreemde wêrelde gesien het. Wyd verskree is. “Jou stilte. Dit is jou krag — die stilte wat ander stilmaak. Dit is wat jou laat uittroon bo die res. Oorhandig jou wapen … en ek plaas iets terug.”

In die skaduwees van die hospitaaltuin het Mienja geaarsel. Haar stilte was haar skild, haar wapen, haar identiteit. “Gestroop daarvan … wie is ek?” Net nog ‘n stem in die groter lawaai. Maar haar boetjie se stem — daardie eerste en laaste gilletjie — roep steeds. Sy het haar vuiste gebal. Toe ontspan.

Hierdie aanbod het meer waarde as haar eie waan.

Met ’n snik wat die lug oopskeur, het sy geknik. “Vat dit. Maar los die kindjie se stem. Asseblief!”

Murmurax het sy hand gelig, soos ’n vlerk, en haar oë vasgepen. Klak! Stilte is uit haar geskeur. ’n Gil sonder woorde. Toe het sy gehuil. Hard. Rou. Hoorbaar vir die eerste keer!

Die volgende oggend het Rooisand ontwaak in ’n skokgolf van klank. Die kerkklok beier. Hondjies blaf. Kinders lag. Almal gesels rond-en-bont. Juffrou Liliana se mond gaan oop, maar sy het haar woorde vergeet. Toffie knor verbaas.

Maar die onverwagse? Mienja het begin sing. ’n Wilde, ongetemde lied van verre lande. Soms stop sy en luister diep. “Is dit Boeta se stem?” Dan dans Mienja. Haar oë blink, haar stem ’n melodie wat voëls en wind verder dra.

En agter die hospitaaltuin? ’n Klanktronkie wat nie meer dig sluit nie. ’n Koor van gesteelde stemme wat soms vrykom. Hoorbaar wanneer die wind reg draai. Onverwags. Onverklaar.

Sagte reen fluister dit oral oor Rooisand.
Ook oor Stiltefontein…

© Paul S Venter (September 2025)
(1076 woorde)




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed