Op die boonste rak
Lien Meiring het haar stoel effens nader aan die venster geskuif, soos iemand wat nie omgee om gesien te word waar sy sit en kyk nie. Voor haar het die ou eikeboom gestaan, uitgedos in koper, goud en roes. So buitensporig mooi dat dit byna aanstellerig gelyk het. In Huis Herfsblare was daar nie juis veel wat nog uitspattig met kleur gewerk het nie, en daarom het sy hom elke oggend dopgehou met dieselfde mengsel van waardering en agterdog waarmee ’n mens na ’n vrou kyk wat op sewentig steeds ’n syserp met oortuiging kan dra. “Spoggerige ou ding,” het sy saggies gemompel, sonder om heeltemal seker te wees of sy die boom bedoel of haarself nie.
Toe een van die blare losskeur en stadig grond toe dwarrel, het sy hom met haar oë gevolg tot waar hy tussen die ander beland. Dís hoe dit seker werk, het sy gedink. Eers klou ’n mens nog vas aan dinge. Dan leer jy om met waardigheid los te laat. Sy het haar hande stywer in haar skoot gevou. Daar was ’n tyd toe sy sou gelag het vir sulke gedagtes. Nou sit sy in ’n plek met die naam Huis Herfsblare en voer innerlike gesprekke met ’n boom. Die Here alleen weet hoe vinnig ’n vrou haar standaarde kan verloor.
’n Sagte klop aan die deur het haar gedagtes verbreek.
“Mevrou Meiring, u kleindogter is hier om u te sien.”
Die stem uit die gang het so skielik gekom dat Lien haar kop vinnig gedraai het. Vir ’n oomblik het sy net bly sit, asof die woorde eers by iemand anders moes gaan aanklop. Haar kleindogter kom nie sommer net nie. Nie sonder rede nie. Sy het haar palms teen die armleunings gedruk en stadig orent gekom, met daardie waardigheid wat die liggaam eers ontwikkel wanneer hy nie meer bereid is om haastig te wees nie.
Zoey het nie ingesweef soos die jongmense in advertensies nie. Sy het ingekom, met haar handsak styf onder die arm. Die soort glimlag wat te blink is om heeltemal onskuldig te wees. Lien het dit dadelik raakgesien. ’n Mens kom nie met só ’n gesig by Huis Herfsblare ingestap om net oor die weer te praat nie. Zoey het gebuk, haar ouma vlugtig teen die wang gesoen en toe weer regop gekom, haar hand nog op die handsak.
“Ouma lyk mooi vanoggend,” het sy gesê.
Lien het haar skeef aangekyk. “Dit is al klaar verdag. As mense by my ouderdom begin mooi lyk, is daar gewoonlik ’n motief betrokke.”
Zoey het vrolik gelag, maar nie haar hand van die handsak afgehaal nie. “Ek het gedink ek steel Ouma bietjie vir ’n uitstappie.”
“Steel?” Lien het haar wenkbrou gelig. “My kind, in hierdie plek teken hulle jou uit sonder om vrae te vra. Waarheen?”
Zoey se glimlag het vir ’n oomblik geheimsinnig om haar mond gehuiwer. “Mall toe.”
Lien het haar oë vernou soos iemand wat al lank genoeg geleef het om ’n lokval maklik te herken. “Niemand vat ’n vrou van twee-en-sewentig Mall toe uit suiwer liefde nie. Daar is altyd ’n motief. Jy soek óf klere óf raad.”
Zoey het vir die eerste keer daardie oggend bietjie skaam gelyk. Sy het op die punt van die bed gaan sit en met die gespe van haar handsak begin peuter. “Net… een winkel,” het sy gesê.
“Dit is hoe moeilikheid altyd begin,” het Lien gemompel. “Met net een winkel.”
Lien het haar handsak gevat, haar roeskleurige serp reggetrek en haar kleindogter met haar eie soort waardigheid gevolg. Dit wat ’n mens eers aanleer wanneer jy oud genoeg is om te weet niemand hoef te sien jy is nuuskierig nie. Op pad na die motor het Zoey opgewek oor klein goedjies gepraat. Oor die verkeer, ’n nuwe koffiewinkel en hoe besig die Mall deesdae raak. Juis daarom het Lien geweet daar skuil iets agter hierdie gebabbel. Jong mense, het sy al lankal agtergekom, praat die meeste wanneer hulle hoop jy sal nié die regte vraag vra nie. Sy het haar gordel stadig vasgetrek en by die venster uitgekyk. “Ek sê jou nou klaar,” het sy uiteindelik gesê, “as jy my vandag in een of ander winkel wil inlok om skoene met blink gespes te kyk, gaan ek hier by die eerste robot uitklim en terugloop Huis Herfsblare toe. Op my eie.”
Zoey het net gelag, daardie senuweeagtige laggie van iemand wat die nuus moet deel. Toe sy egter nie by die hoofingang links draai na die klerewinkels nie, maar regs, verby die apteek en die winkel met die sagte speelgoed in die venster, het Lien stadiger begin stap. Sy het haar kop effens skeef gehou en na Zoey gekyk.
“Aitsa,” het sy sag gesê. “Nou begin ek jou plan ruik.”
Toe Zoey uiteindelik voor die baba-boetiek kom, het Lien so skielik gaan staan dat die jong paartjie agter haar amper in haar vasgeloop het. Agter die winkelruit het sagte pienk, room en saliegroen goedjies gehang soos ’n hele nuwe wêreld wat nog verken moet word. Lien het stadig na haar kleindogter gedraai. “Moet my nie sê jy sleep my Mall toe om vir iemand anders se kind sokkies te kom koop nie,” het sy gesê. “Ek is oud, Zoey, nie lus vir speletjies nie.”
Zoey se hand het na haar handsak beweeg. Sy het skielik nie langer geweet hoe om stil te bly nie.
“Dit is nie vir iemand anders se kind nie,” het sy sag gesê.
Lien het haar aangekyk. Eintlik aangegaap. Sy het gedink aan die oë wat te helder was. Aan die hand wat aan die sak bly vasklou het. En daardie vreemde mengsel van trots en skrik wat net op een soort mens se gesig kan wees. Toe het sy haar asem ligweg ingetrek en haar kop effens skeef gehou.
“Here bewaar,” het sy gemompel. “Moet nou net nie vir my sê ek moet op my ouderdom weer leer bly wees oor babas en vuil doeke nie.”
Zoey het gelag, maar daar was trane in haar oë toe sy die klein sonar-foto uit die handsak haal en dit na haar ouma toe uithou. Vir ’n oomblik het Lien dit nie geneem nie. Sy het net daarna gekyk soos mens kyk na iets wat tegelykertyd te klein en te groot is om sommer met die eerste oogopslag te verstaan. Toe vat sy dit uiteindelik tussen duim en wysvinger, versigtig, asof die groot nuus maklik kon kneus.
“Wel,” het sy ná ’n lang oomblik gesê, haar keel skoon gemaak en die foto weer bekyk, “dit lyk nog glad nie na iets nie, maar ek neem aan ek moet nou maak of ek klaar verlief is.”
Zoey het haar oë afgevee met die agterkant van haar hand en gelag soos iemand wat verlig is om uiteindelik nie meer alleen met goeie nuus te sit nie. “Ek het geweet Ouma gaan iets snaaks sê,” het sy gesê.
“Natuurlik,” het Lien geantwoord en die sonar-foto nog ’n keer bekyk. “Mens kan nie net so met ’n swart-en-wit vlek by iemand opdaag en verwag almal moet vanself weet dit is ’n wonderwerk nie.” Tog het sy die foto nie dadelik teruggegee nie. Sy het dit nog ’n oomblik langer in haar hand gehou voor sy dit versigtig terug in Zoey se vingers druk. “Kom,” het sy gesê. “Wys my nou waarmee jong mense deesdae ’n baba grootmaak.”
Binne die baba-boetiek het alles vir Lien gelyk of dit nog nooit aan die werklike lewe blootgestel was nie. Die wolkombersies was te sag, die babasokkies te klein, die rokkies te netjies. Sy het met die punte van haar vingers aan ’n roomkleurige truitjie geraak en haar kop stadig geskud. “Hierdie kind gaan nog nie eers weet sy is gebore nie, dan kos sy reeds meer as my eerste yskas.”
Zoey het weer vrolik gelag, maar sagter dié keer, asof sy besef het daar is iets in haar ouma se stem wat nie net spot is nie. Lien het die truitjie nog ’n oomblik tussen haar vingers gehou. Dit is tog vreemd hoe min dit vat om ’n vrou terug te stuur, het sy gedink. ’n Stukkie sagte materiaal. ’n Babapakkie. Die skielike onthou van hoe lig ’n babapakkie se mou oor jou hand kan hang wanneer daar nog niemand binne-in is nie.
Vir ’n oomblik het die winkel se sagte ligte en netjiese rakke om haar vervaag, en het sy weer die boonste rak van haar eie kas gesien, waar ’n paar piepklein kleertjies jare lank netjies gevou gelê het. Te kosbaar om weg te gooi, al het die jare aan beweeg.
Toe Zoey haar later daardie middag weer by Huis Herfsblare aflaai, het Lien haar met ’n skewe glimlag gegroet en gesê sy moet nou maar ry voor sy nog geld uitgee op ’n prentjie wat nog nie eens ’n mensie is nie. Zoey het sag gelag en haar ouma se hand ’n laaste keer gedruk. Toe het sy met daardie nuwe, sagte versigtigheid van ’n aanstaande mamma weggery. Lien het haar agternagekyk tot die motor om die draai verdwyn en toe stadig teruggestap. Daar was iets ligs en onbekend wat saam met haar kamer toe gekom het.
Binne het sy nie dadelik weer by die venster gaan sit nie. Sy het eers haar serp losgemaak, haar handsak op die bed neergesit en toe na die kas gestap. Vir ’n oomblik het sy net daar bly staan, haar hand op die knop. Sy was soos iemand wat nie heeltemal seker was of sy besig is om ’n stuk van haarself oop te maak nie. Op die boonste rak het die piepklein babapakkie nog net so gelê, netjies opgevou. Stil. Op sy plek. Sy het dit uitgehaal en dit vir ’n oomblik oor haar hand laat hang. Die mou was nog net so lig soos sy onthou het. Te klein vir hierdie ou wêreld vol geraas. Groot genoeg om ’n mens onverwags aan die hart te gryp.
Toe sy eindelik weer by die venster gaan sit, het die ou eikeboom nog net so in koper, goud en roes gestaan, spoggerig soos altyd. Lien het na hom gekyk en toe na die sagte kleertjie in haar hand.
“Wel,” het sy saggies gesê, half vir die boom en half vir die kind wat nog net ’n swart-en-wit skadu op glanspapier was, “dit lyk of daar in hierdie familie weer plek gemaak gaan moet word.” Toe het sy die pakkie versigtig teruggevou en op die rak neergelê, maar nie heeltemal agter in soos altyd nie.
©MarleneErasmus
22/03/2026
(1752 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir MAART 2026 – HERFS/KAS projek