
DIE VYF MILJOEN RAND MOORD HFSTK 6
Toe Stefan Botes Donderdag oggend die koerant oopmaak vang sy oog dadelik die berig en Langes se foto. Hy voel hoe hy yskoud word. Hy weet hy het nie die moord gepleeg nie maar hy weet ook dat hy die nommer een verdagte is en dat hy vanoggend weer n besoek van kaptein Dreyer kan verwag. Die gedagte begin by hom opkom of dit nie Chantal was wat die man gehuur het nie. botes herkou n paar oomblikke aan hierdie gedagte en dan besef hy, indien dit sy is sal sy vir geen duiwel stuit om hom, Botes, aan die hoek te kry nie.
Probleem is veral dat sy baie van sy private sake ook hanteer het en dus meer van hom af weet as wat goed is vir hom, soos van die vyf miljoen rand polis.
Hy sit nog die berig en lees toe sy selfoon lui. Toe hy antwoord is dit Chantal: “Stefan jy het seker vanoggend se koerant gesien. Ons moet praat en vinnig ook. Ek wag vir jou hier in my woonstel. As jy nie binne n uur hier is nie fluister ek in n naamlose oproep in die ondersoek beampte se oor van n vyf miljoen rand polis”.
Stefan besef dadelik hy is nou in n hoek gedruk en hy sal vinnig hier moet uit. Hy besluit om haar dadelik te gaan sien en met n mededeling aan Marie dat hy moet uitgaan vertrek hy dadelik na Chantal se woonstel toe. Marie kyk hom fronsend agterna want ook sy het die berig gesien en begin ernstig oorweeg of sy nie maar die ondersoek beampte moet kontak nie, haar gewete begin haar aankla.
By Chantal se woonstel maak sy dadelik die deur oop en nooi Stefan om te sit terwyl sy vir hulle koffie maak.
Toe sy Stefan se koffie oorhandig val sy dadelik met die deur in die huis: “Stefan jy het my nog nie een keer gekontak na Laurika se ongeluk nie. Ek kan dit verstaan dat jy baie besig is. Ek was van plan om jou na die begrafnis te kontak om te hoor wanneer ek weer kan terugkeer werk toe maar ook oor ons verhouding wat ek voel dan diskreet kan voortgaan totdat die tyd ryp is dat ek mev. Botes kan word”.
Stefan sluk sy koffie terwyl hy dinge heroorweeg want Cahantal is beslis nie deel van sy toekomsplanne nie. Hy kan dit egter nie nou vir haar sê nie en besluit om bietjie tyd te wen deur haar aan n lyntjie te hou.
“Chantal gee my net kans tot volgende week toe. Terloops is dit jy wat met hierdie vent gereël het om met Laurika se motor te peuter? “.
Chantal glimlag: “Dit was ek wat dit gereël het soos ek en jy bespreek het, onthou jy dan nie. Moet nie nou kom probeer ontken dat jy niks daarvan weet nie”.
Stefan besef dat Chantal hom nou aan die gorrel beet het. Hy weet dat hy nie so iets met haar gereël het nie en dat sy nou openlik sit en lieg. In dieselfde asem besef hy dat Chantal n gewetenlose vrou is en vir die eerste keer kry hy berou oor die feit dat hy in n verhouding met haar betrokke geraak het.
“Ek onthou nie so iets nie Chantal. Maak in elk geval nie saak nie. Jy kan vir eers nie kom werk nie, die stof moet eers gaan lê. Jy sal in elk geval jou salaris kry tot jy weer kan kom werk. Jy sal eers in Marie se plek werk want ek kan haar tog nie sommer van haar pos onthef nie, en dan kan ons dit daarvanaf vat. Wat ons verhouding aanbetref, ons sal van Maandag af voltyds daaraan werk sodra alles verby is, al is dit in die geheim totdat daar genoeg tyd verloop het na Laurika se dood anders gaan daar praatjies wees”, sê Stefan terwyl hy sy koppie neersit en opstaan om te loop.
Chantal sit ook haar koppie neer met die woorde: “Onthou net Stefan moet niks snaaks probeer nie. As ek sink sink jy saam met my, dit kan ek jou verseker.
By die deur word Stefan met n passievolle soen gegroet en gaan hy terug kantoor toe.
Terug op kantoor kan Marie sien dat hy diep bekommerd is maar sy praat nie met hom nie en sy self voel in twee verdeel, moet sy of moet sy nie.
Ook Jack de Vries lees die berig. Hy besluit dadelik om Kas te gaan spreek en word deur Kas in sy kantoor ontvang. Nadat hulle hulleself voorgestel het nooi Kas vir Jack om te gaan sit en vra waarmee kan hy help.
“Kaptein ek het vanmore se berig gelees oor die man wat julle soek in verband met die noodlottige ongeluk waarin mevrou Botes dood is. Vermoed julle dalk dat sy vermoor is?”, vra Jack.
“Mnr. De Vries, ons het die bewyse dat daar met haar motor se remstelsel gepeuter is. Dit bring my by n moordklag en die man op die foto is die man wat dit gedoen het. Hy sou dit egter nie sonder opdrag en betaling van iemand gedoen het nie en Stefan Bote is my nommer een verdagte”, antwoord Kas.
“Kaptein baie dankie vir daardie inligting. Ek het n vyf miljoen rand lewenspolis aan hulle verkoop wat sal uitbetaal met die afsterwe van een van die twee. Ek gaan egter my hoof kantoor verwittig om nie uit te betaal voordat jou ondersoek afgehandel is nie”.
Kas voel of iemand hom met n kopspeld gesteek het. Hier is sy motief, vyf miljoen rand kan n ideale motief wees vir n moord, dit is baie geld.
“Mnr. De Vries, ek moet dankie sê vir daardie inligting. Daar is al mense vir veel minder vermoor en ek stem met jou saam, as daar n eis kom moet nie sommer net uitbetaal nie. Ek gaan in elk geval dit vir mnr. Botes noem dat ek nou weet van die polis en dat hy nou beslis verdagte nommer een is”.
Jack de Vries staan op en groet terwyl Kas haastig raak. Hy wil n besoek aan Stefan Botes bring en dit is al laat middag.
Hy is gelukkig en word deur n ergerlike Stefan Botes in sy kantoor onvang net voor hy wil huis toe gaan.
“Kaptein ek dink jy is op n baie ongeleë tyd. My vrou word more begrawe en jy mors nou my tyd. Wat ek wou sê het ek gesê”, spreek Stefan sy misnoeë uit”.
Kas kap dadelik terug: “Nee mnr. Botes jy het my nie gesê dat daar n vyf miljoen rand polis op die spel is nie. Dit maak jou beslis nou verdagte nommer een. Ken jy dalk die man”, vra Kas terwyl hy vir Stefan n foto van Langes gee om te bestudeer”.
Stefan skud sy kop: “Nee kaptein ek ken die man van geen kant af nie en nou moet jy my verskoon, daar is nog reëlings wat ek moet tref vir my vrou se begrafnis”.
Met die staan Stefan op en staan Kas ook op en beweeg hulle saam uit die kantoor uit. Dit is toe hulle deur Marie se kantoor beweeg dat Kas besluit om bietjie met haar te gesels, maar hy wil dit doen sonder Stefan se medewete. Sy kan dalk vir hom vertel of die huwelik gelukkig was en of Stefan enige vreemde besoekers gehad het die laaste tyd.
Terug op kantoor wag Kolonel le Grange vir Kas in en val sommer dadelik met die deur in die huis: “Kaptein hoe vorder jou ondersoek?”.
Kas vertel le Grange van die versekerings makelaar se besoek en Stefan se ontkenning dat hy Langes ken en sluit af met: “Kolonel ek dink dinge sal na die begrafnis begin gebeur. Ek gaan in elk geval, soos ek gesê het, ook die begrafnis bywoon om te sien wie is daar. Dalk tel ek daar iets op”.
“Kaptein ek soek koppe volgende week anders gaan die pers weer hel opskop. Kosentreer jy op die verdagte en sy konneksies, ek gaan n paar manne in die hole instuur en kyk of ons nie hierdie Langes in die hande kry nie. Neem sommer jou vrou saam begrafnis toe, sy is nogal skerp. Ek kan onthou van die tyd toe sy nog in die mag was voor julle troue”.
Annetjie, Kas se vrou, was ook in die speurdiens voordat hulle getroud is. Na hulle trou het sy die mag verlaat om voltyds huisvrou te word maar is nou n reservis en kan Kas haar in n ondersoek gebruik as hy wil.
Langes Naude is nie juis die koerantlesende tipe nie en is dit eers die aand by sou gereelde drinkplek wat die kroegman die koerant onder sy neus inskuif: “Ek sien die pote soek jou oor hierdie ongeluk tjom. Jy sal moet laag lê vir n ruk by daardie chick van jou. Jy weet hoe werk hulle koppe, hulle gaan n klomp coppers instuur om al die drinkplekke om te keer op soek na jou. Netnou kry hulle jou hier en dan is jou doppie geklap”.
Langes drink sy dop klaar en dan loop hy na sy blyplek toe waar hy saam met sy meisie met die naam van Antionette du Bois bly. Ook maar n ongure karakter, heelwat ouer as Langes, bottelblond met n paar hopeloos te groot borste en sonder haar swaar grimering duidelik beter dae geken. Langes hou haar egter gelukkig in die bed om aan al haar seksuele nukke en grille te voldoen en vir haar is dit al wat tel.
Toe Langes by die huis kom vertel hy haar dat hy deur die polisie gesoek word oor die ongeluk en dat hy n ruk nie die woonstel sal kan verlaat nie.
Antoinette het bietjie meer verstand as Langes en dink n paar oomblikke na voor sy antwoord: “Langes in die eerste plek moet ons van daardie oorpak wat jy aangehad het ontslae raak. Ek sal dit in n sak sit en êrens in n asdrom loop druk nadat ek die logo uitgesny het. Die moet ons verbrand.
In die tweede plek is dit tyd dat ons padgee hier en daarvoor het ons geld nodig. Ek gaan n besoek aan hierdie vroumens bring namens jou en haar vertel dat ons moet padgee. Sy sal maar so honderd duisend rand moet voorsien daarvoor”.
Langes skud sy kop: “Sy het nie daardie tipe geld nie”.
Antoinette laat haar nie afsit nie: “Dan moet sy maar haar sugar daddy gaan vra, dit is in hulle altwee se belang dat ons verdwyn want as die pote jou in die hande kry kan jy altyd sê dat hulle altwee met jou gekonkel het om daardie karretjie te dokter en ek gaan haar dit vertel as ek haar oor die naweek besoek. Jy moet my net die adres gee en dan gaan vertel ek haar”.
Langes sit en nadink oor dit wat Antoinette gesê het. Hy haal n bier uit die yskas uit, steek n sigaret aan, en gaan sit op die mat in die half leë sitkamer. Die stel is verpand en is daar net twee stoele in die sitkamer.
Antionette kom sit by hom, ook met n bier in die hand en n brandende sigaret tussen die vingers: “Langes met n honderd duisend rand kan ons ver kom en n nuwe begin op n ander plek gaan maak. Vandat hulle jou gefire het kry jy nêrens werk nie want almal bel City Mini vir n verwysing en dan sink hulle jou. Tyd vir n ander plek waar niemand ons ken nie want die laaste tyd boer ons net ageruit en ek is moeg hiervoor. Ek kan nie aanhoudend vir ons altwee sorg nie”.
Langes kyk vir haar en dan antwoord hy: “Kom ons doen dit. Sy moet maar haar sugar daddy gaan melk vir die honderd duisend of hulle het altwee probleme”.
8 Kommentare
-
-
Arnold
Wel, dit lyk of die poppe gaan dans, vir al dié een wat nie wil nie.
-
Kiekies
Ja daar het jy dit nou...pluk 'n lat vir 'n ander ou en jou eie agterent kry daarmee slae! Nou wonder ek wat verder....
-
Evelyn van der Merwe
Neels jy het jou beroep gemis, jy moes voltyds speurverhale/spanningsverhale geskryf het.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
sjoe Stefan is behoorlik tussen die duiwel en die diepblou see! Lekker gelees en kan nie wag vir die volgende hoofstuk nie