Jongste aktiwiteit:

Asheuwel.

Asheuwel.

“Onluste ruk Asheuwel – strate brand, winkels sluit hul deure
2 Septemberg 2025. ”

Die berig in die Asheuwel Gazette was kort, feitlik en sonder sagte woorde: die gemeenskap het geprotesteer oor water en elektrisiteit. Die beloftes van herstelwerke het soos mis voor die son verdwyn en woede het die strate ingevloei. Wat begin het as gesange en plakkate, het binne ure oorgespoel in gebrande bande, klippe teen vensters en winkels wat haastig hul rolluike gesluit het. Niemand het beheer gehad nie – nie die polisie, nie die raadslede, nie die gemeenskap self nie. Toe die laaste vuur gedoof is, was Asheuwel ’n dorp met oop wonde.

***
Die strate van Asheuwel het soos ’n slagveld gelyk. Swart ringe van verbrande bande het die teer laat lyk asof iemand reuse rookkringe daar gemaak het. Glassplinters blink in skerwe op die sypaadjies en elke tree het geklink soos ’n geheime waarskuwing. Die reuk van gebrande rubber het in die lug gehang, selfs dae nadat die laaste vlamme geblus is. Winkels was gesluit, rolluike styf afgetrek en in die stilte het honde gehuil soos ’n klankopname vir ’n rillerfilm wat niemand wou kyk nie.

Asheuwel was nie net ’n klein verwaarloosde dorpie in die Noord-Kaap nie, dit was gewond. Mense het stadig geloop, met hul oë laag gehou, asof hulle self skuldig was. By die groen hoekhuis het ’n vrou deur die skrefie in haar deur geloer, dan vinnig weer toegeslaan toe sy voetstappe hoor. Chaos het nie net die strate beset nie, maar ook in harte intrek geneem: wantroue, vrees, ’n gevoel dat die gewone lewe dalk nooit sal terugkeer nie.

En tog, tussen die as, het iemand begin beweeg.

Elke oggend net na sonsopkoms het Daniel sy winkel se stoepie gevee. Die besem was al oud, die hare geknou deur jare se gebruik, maar hy het dit stadig oor die roet getrek, asof hy ’n nuwe agtergrond voorberei vir ’n skildery. Die eerste dag het hy heel alleen gewerk, gebuk en gefokus, terwyl bure agter hulle gordyne uitgeloer het. Party het sag gefluister: “Wat help dit? Môre brand hulle weer.”

Maar Daniel het hulle nie geantwoord nie. Hy het net die glasstukke in swart sakke gegooi, die stoep met ’n emmer water afgespoel en toe die roet teen die mure begin afvee. Daar was iets onwrikbaar in sy roetine, amper self hardkoppig. Sy hande het gewys hy maak nie skoon vir ander nie, maar vir sy eie gemoedsrus.

Die tweede dag het ’n klein handjie by hom aangesluit – ’n seuntjie van nege wat langs die pad rondgeskop het en toe skielik ’n stuk karton opgetel het. Hy het begin om glas te skuif in ’n hopie. Daniel het hom nie weggejaag nie. Hulle het in stilte gewerk, net die geluid van besemhare teen sement en die sagte getik van glas teen glas. Teen die derde dag het ’n buurman ’n skottel water aangedra. “Vir die stoep,” het hy half mompelend onderlangs gesê, asof hy skaam was oor sy eie betrokkenheid.

Stadig, amper onmerkbaar, het die straat begin verander. Die gebrande bande was steeds daar, swart ringe op die teer, maar voor Daniel se winkel het die stoep begin blink. Hy het stoele uitgepak, die rolluike weer oopgetrek, en die klein winkel wat dae lank doodstil was, het weer begin asemgehaal. ’n Jong meisie het kom vra vir ’n brood en Daniel het haar bedien asof niks gebeur het nie.

Die roetine het ’n ritme geword, ’n daaglikse verklaring: jy kan nie die hele dorp genees nie, maar jy kan jou eie stoep skoon hou. Mense het dit begin raaksien. ’n Ouer vrou het ook by haar huis begin vee. Nog iemand het die oorkantste sypaadjie aangepak. Binne ’n week het die straat minder na ’n slagveld en meer na ’n lewende plek gelyk. Die chaos het nie so vinnig herstel nie, maar iets van die gewone het teruggekeer.

Daniel was nie ’n held nie. Hy het niks dramaties gedoen nie – geen toesprake, geen planne. Hy het net, dag ná dag, glas opgetel, roet afgespoel en stoele uitgepak. ’n Klein daad wat groter geword het as hyself.

Miskien is dit die ware teenvoeter vir chaos: nie groot gebare of onmiddellike oplossings nie, maar die herhaling van eenvoudige dinge. Die soort roetines wat jou anker wanneer alles anders buite jou beheer is. ’n Stoep wat blink, al is die straat nog swart. ’n Brood wat verkoop word, al fluister mense nog agter gordyne. ’n Besem wat dag ná dag vee, al lyk dit of die wêreld nog brand.

Chaos sal altyd ’n manier hê om dorpies soos Asheuwel binne te storm, maar orde – dit word gebou in die stilte van klein handelinge.

En soms, net soms, begin orde by een mens se stoep.

©MarleneErasmus
26/09/2025

(790 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed