Mens… die Moordenaar Goud 235 woorde
Ek snoer die alarm se gekerm met ‘n klap van die hand. Klein geel tabletjies spat oor die vloer. Ek is moeg. Moeg vir hierdie alewige vuil vrot asem wat op die wind aangedra word. Ek krap die allergie pilletjies bymekaar en druk byvoorbaat een onder my tong in. Hier sal ek nog versmoor.
Die stad lê en sluimer onder ‘n grys kombers. Vandag vlug ek weg van hierdie graniet suurstofdief af. Ek stop by die vulstasie en maak seker die tenk is vol. Ek wil vandag ry tot waar die lug na dennenaalde ruik. Die son veg verbete sy baan deur die roet en rook van die plakkerskamp langs die snelweg. Ek trap die petrolpedaal ‘n klein bietjie dieper in en voel hoe die motor se enjin reageer. My klein Jimny wil ook die vuil agter hom sit. My eerste rusplek is Alzu. Hier begin die lug darm al ‘n skakering van blou aanneem. Dis nou nie meer ver nie.
By die afdraai na Kaapse Hoop trek ek my longe vol skoon lug. Vir ‘n oomblik hou ek my asem op. Kan stadsmense nie besef hulle is besig om moeder aarde se doodsbrief te teken nie. Die vars lug laat my kop duisel. Ek luister na die sonbesies wat sonder ophou skreeu. Dan sak ek op my knieë langs die klein Jimny neer. Abba vergewe ons want ons besef nie wat ons doen nie!
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir April 2025 – AARDE projek