Afrika(ans)
die reënboognasie se eie vrugteslaaitaal
(ja, selfs Madiba het haar poësie aangehaal!)
ʼn kombuistaal uit geurige speserye gestamper en vysel
(Afrika(ans) is dus beslis nie puristies koloniaal!)
jy hóór die kruisbestuiwing uit elke wêreldhoek
ʼn unieke allegaartjie wat nie onkundige oordeel soek
waarom die kind hier gebore voortdurend vervloek
en jou protesplakkate (nogal in Engels) swaai
terwyl jy in opsweepmassas toyi-toyi
om geskiedenis se aandeel te verdraai?
as jy uit aanspraaksreg en egoïstiese eiewin
aanhou krap waar dit nie jeuk
skop jy in sogenaamde “demokratiese” mag
die stomme basterhond op die agterstoep
wat lankal nie meer jou hakskeen byt
en gooi die taalbaba van die minderheid
soos ‘n selfsugtige taalmoordenaar
saam met die troebel badwater uit!
hoe kan hierdie pragtaal se prismakleure
gevorm uit klankplof en kreatiewe idioom
vir enigeen só ‘n bedreiging wees
dat ʼn moeder se taal moet kwyn
terwyl jy self steeds die anglo-taal gebruik?
los die trotse taal van
ons dink
ons skryf
ons praat
ons skep
ons leef
uit
en bou en bevorder liewer
sônder haatsaaiende tru-apartheid
Etna Wepener ©️
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.