Jongste aktiwiteit:

Getuienis (‘n Vertellende epiese gedig)

hy het gekom
hierdie bleek man
wat op die rug van die see met gemaste houtperd ry
ʼn lang riem in die dieptes gewerp as rem
en soos ʼn reuse waterinsek
veelpotig na hierdie nuwe heuningland
op die ondrinkbare waters geloop
om soos moordvis te strand in gulsigheid

hy het gekom
saam met sy anneksasiegod
sý geboorteland se onaanpasbare waardes
tydelik in my fyn sand probeer skryf
met die avonturier se voortvarende verwaandheid
het hy hierdie oerland se rykdom kom delf
sonder veel respek vir die ou nuwe grond
‘n blinde sandstormloop van selfsug en beheptheid

hy het gekom
en sy bleekmanvestings opgerig
vreemde strukture van gedakte mure
met vele vierkantverdelings gekraal
soos die versamelwewervoël se magtige nes
daar waar hy sy menige materiële saamdragoed
soos oorywerige miskruier rondrol
ʼn groeiende misbol van geldgierigheid

hy het gekom
soos ʼn indringermierkolonie
sy staanplek gebou met sy andersheid
en my aarde se geduldige goue grond gebaksteen
menslike miershope verrys op my maagdelike duine
met weerkaatsoë gevenster soos ʼn jong bok se staar
en my strakke skoonheid onder sy voetval geletsel
in sy strooptog vir sogenaamde onafhanklikheid

hy het gekom
om hier nes te skop
ʼn stam van vreemdes hier uitgespoeg
om te neem en te beskaaf sonder dink aan gevolg
ʼn ontradisionele jagtog sonder pyl en boog
met vreemde kultuur en gelowe die land gekwets
totdat trane sou vloei in die droë rivierloop
ʼn onbeheerbare flitsvloed van kortsigtigheid

hy het opgegee
hierdie bleek man
sy kortstondige rykdom onder skelson uitgedor
soos ‘n tropiese plant gekweek in die bar woestyn
het sy jagtog en jaagtog na weelde verwelk
en is sy spore van hebsug geherannekseer
deur dreunende skuifduine en sandreën
se aardse hartklop van tydloosheid

hy het gegaan
hierdie nemer sonder gee
met my maan en son as getuies van sy wegvee
want hierdie land se waarde lê versteek
nie in munt en skatkis van beskawingblink gemeet
maar in oernatuur en -inwoner se voorvaderverhaal
dié wat deur millennia hier simbioties ekosisteem
bewaarders van die wáre rykdom van onmeetbare natuurskoonheid

Etna Wepener ©️

(Die gedig is fiktief, met dalk ‘n feit hier en daar verdoesel.)




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed