
Die opstanding
Dit was ʼn aardskuddende hergeboorte. Nogal nie die wedergeboorte waarvan die Christendom praat nie, maar ʼn geboorte tot ʼn nuwe bewustheid dat alles wat ons van geboorte af geleer word, nie noodwendig die volle waarheid is nie. Dit was ʼn gebeurtenis wat my tot in my siel geskud het, en skielik het ek myself op ʼn vreemde en onverstaanbare planeet bevind.
Vriende en familie het steeds dieselfde taal gepraat, in dieselfde huise gewoon, maar ek het verander. My wêreld was so hard geskud dat niks meer dieselfde kon wees nie. Dit was daardie dag, in die eerste dae van ʼn nuwe jaar, terwyl die oggend son deur die sitkamervenster bars en die voëls baldadig in die tuin kwetter, wat ek die liggaam van my kind in sy slaapkamer ontdek het.
Dis nie ʼn gebeurtenis wat ek enigiemand toewens nie, tog gebeur dit baie meer as wat die deursnee mens vermoed. En elke keer word daardie ouer gedwing om sy eerste wankelrige tree gee op ʼn pad wat hy heel waarskynlik nie in sy wildste drome voorsien het nie. Selfdood was nie iets waaroor ek ooit nagedink het nie. Dit is mos iets wat met ander mense gebeur, dan nie? Ons tweetjies het oor alles onder die son gesels, maar eintlik nooit oor geestesgesondheid nie, of wat mens te doen staan wanneer jy ʼn krisis beleef nie. Hoe praat mens in elk geval oor iets wat heeltemal buite jou verwysingsraamwerk val?
En in ʼn oogwink was my lewe in chaos gedompel. Vreemd genoeg het alles op die oog af normaal en ordelik voorgekom, maar innerlik het ek deur die wye kosmos ʼn tuimel-val beleef soos nog nooit tevore nie. Stadigaan het die uiterlike ook van verwaarlosing begin kreun. Spinnerakke het hul verskyning onder die sitkamerbanke gemaak. Aandete was elke dag ʼn verrassing want as dit nie brandoffers was nie, het ek ander dae vergeet om die oond aan te skakel.
Daar was net een manier om beheer terug te neem. Jy leer hoe om net een dag op ʼn slag te leef, een uur op ʼn slag. Ek het getrou Admiraal McRaven se raad gevolg. Wanneer jy opstaan, maak ook sommer jou bed op, dan het jy alreeds iets bereik. Volg ʼn eenvoudige roetine. Borsel jou tande, stort, trek skoon klere aan. Spandeer tyd buite, so dikwels as moontlik. Loop kaalvoet op die gras, sit langs ʼn waterstroom, blaai deur ʼn tydskrif, kleur in, bou ʼn legkaart, doen tuinwerk. Tel krale en knope as dit jou gelukkig maak. Kyk met introspektiewe oë na jou hart en lewe. Soms (eintlik dikwels), is dit nodig om groot veranderinge te maak. Hoe jou kosbare tyd gespandeer word, die rol wat vriende en familie in jou lewe speel, jou huwelik kom onder die vergrootglas, jy mag dalk jou geloof bevraagteken, en sommer ook alles wat jy by jou ma geleer het.
Terwyl die weghol trein in my gedagtes net nie tot stilstand wou kom nie, en my hart van angs en hartseer gefladder het, het ek my eerste treë op die gevreesde breë weg gewaag. My broer en vele vriende het my gewaarsku dat ek met duiwelsdinge besig is, maar toe ek eers ontdek hoe meditasie die broodnodige stilte in my deurmekaar gemoed kan laat neerdaal, het ek gesien watter rol vrees in ons lewens speel. Van kindsbeen af word ons geïndoktrineer met die vrees vir die onbekende, en die kerk het getrou daarop voortgebou.
En in al hierdie chaos moes ek myself weer leer ken. Wie ís EK? Waarvan hou ek? Wie wil ek wees? Hou ek van die manier waarop my vriende en familie my behandel? Gaan ek, soos in die verlede, net aanhou om die emosionele misbruik in my huwelik te verduur? Glo ek nog wat die kerk predik, of het dit tyd geword om God op ʼn nuwe manier te leer ken? Kan ek dapper genoeg wees om naak en sonder ʼn masker te leef, en my lewenspad loop sonder dat ander se kritiek slaggate word waarin ek keer op keer val? Dit is ʼn waagstuk om jou ore vir almal se opinies toe te hou, om onverskrokke jou eie Noordelike Ster te volg, maar die resultaat daarvan is algehele bevryding. Al is ek spyt dat ek dit nie vroeër in my lewe gewaag het nie, weet ek ook dat ek nog nie daarvoor gereed was nie.
Vandag is ek dankbaar dat ek deur als staande gebly het en nie toegegee het aan ander se idees hoe my lewe moet lyk nie. Uiteindelik is ek vry van wat ander mense van my dink, vry van die vrees oor die wegraping en wederkoms, en of ek werklik “goed genoeg” vir die Here is. Vry van vrees vir die dood, maar bo alles, vry van die vrees om werklik te lewe.
©Susann Moolman
(Woordtelling : 798)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Tearlach
Diep emosies verbeeld. Hartseer maar aktueel.