Nagbreek Dagbreek
Ek het my hele lewe lank gedroom van hierdie oomblik; dit so ʼn werklikheid gemaak dat ek alles kon sien, hoor, voel en proe. Waar ander kinders ʼn liefde vir dolfyne, perde, katte en honde gehad het, was haaie, krokodille en donkies my uitverkorenes. Ek glo nie ek het enige sielkundige waarneming nodig nie, ek dink ek het maar net meer begrip vir die ‘minder verstaanbare’.
Die Kaapse weer sit sy beste voetjie voor: die son skyn sulke lang helder geel strepe oor die branderlyne. Gansbaai, hier kom ons! Die pamflet in my hand lees: “A Five-Star Experience: top-quality facilities, quality gear, purposebuilt boats and an onboard videographer and marine biologist. ʼn Bussie met ʼn sticker van ʼn Grootwithaai op sy deur kom ons by die huis haal. In Gansbaai stap ons die Grootwithuis, mediatuiste van ons spoghaai hier aan die suidpunt van Afrika binne. ʼn Skelet van een van dié grotes hang teen die dak bo ons. Die Grootwithaai is warmbloedig, meer nuuskierig as aanvallend, kan bloed of kos kilometers vêr ruik, en die haai se grootste vyand? Die mens! Volgens die aanbieder het die fliek van die 70’s, ‘Jaws’, soveel skade in die vorm van verminderde haaigetal veroorsaak, dat baie ekosisteme op die rand van uitwissing was. Die veiligheidspraatjie is maar soos enige ander ‘moets- en moeniespraatjie’ en ek dink “Duh, niemand sal mos aan ʼn haai probeer vat nie…”
Eindelik begin die voetslaan na die blou dubbelkajuit boot toe. Die see is so goedgemanierd vandag, die witblou golfies klop-klop net saggies teen die boot, terwyl die seemeeue soos ʼn bekende politieke party skree en die pikkewyne in groepies op die rotse staan en kyk. Op die boot word ons duiktoerusting verduidelik en oorhandig, ’flippers’ en al. Die gees is opgewonde: mense van alle rasse, tale en plekke is hier saamgesnoer deur hulle liefde vir die see. Die boot trek weg en jy kry daai bekende opgewonde stress draaikolk op jou maag. Die man met die mikrofoon praat sonder ophou: óf sy vrou laat hom nie by die huis toe om te praat nie, óf hy was sy skool se redenaarskompetisie kampioen. Só hou ons die blou milieu rondom ons dop vir walvisse en dolfyne en die koppe draai soos een man met elke roep.
Dan anker die boot. ʼn Langwerpige metaalboksvormige hok word in die water gesak. Die tronkhok het oral ʼn ongeveer 10 sentimeter spasie waardeur jy met jou paddavis bril kan kyk. Ons sit met ons duikpakkies in groepies beurt en afwag amper soos die einste pikkewyne wat ons netnou in groepies op die rotse gesien het. Oral op die dek is emmers vol vis lokaas wat die mans vashaak aan toue en oral in die blou water gooi. Die marinebioloog verduidelik elke beweging wat as gevolg van die aas sy opwagting maak. Dan ʼn skielike stilte, dán ʼn skielike smag-na-asem kreet: “Hulle is hier!”. Twee, nee drie dorsale silwervinne verskyn asof uit die niet en hap-hap na die viskoppe. Die eerste groepie kykers sit bril en snorkel op en word met ʼn kort trappie in die hok gehelp. Vir twee minute deel hulle hierdie superheelal met die mooiste perfekgemaakte predatormasjiene wat se voorkoms deur al die duisende jare min verander het. Die haai kon oorleef want hy kon aanpas by die aarde se veranderende omstandighede. Die mees misverstaande spesie en dit terwyl hulle bydrae tot die genetiese beginsel ‘survival of the fittest’; ‘eet of word geëet’ gesorg het dat net seediere met die beste eienskappe kon oorleef. Eienskappe wat die haai die mees misterieuse simbool van krag en fokus gemaak het.
Die eerste hok word onder toejuiging opgelig en die adrenalien loop so sterk dat almal vrae in Engels voor die videokamera kan antwoord al is dit net met ʼn ‘shap’ wys van die duim. Ons staan soos ʼn groepie gedissiplineerde graad eens in ʼn ry: dis nou ons beurt! Ek ‘jippie-jippie’ op die punt en skuifel-skuifel tot by my plek in die hoek op die regterpunt van die hok. Uit my ooghoek sien ek hoe die stukkies vis tussen my en die water langs my beland en aastelik opgeraap word.
Die ewigheidsgevoel spoel oor my; die gevoel wat ek kry wanneer ek klein voel in die teenwoordigheid van die soveel groter Skepping. Ek weet ek het gesê ek’s nie stupid om aan ʼn haai te probeer vat nie, maar “hierdie is ʼn eenmalige ondervinding: ek gaan nooit weer sien wat ek nou sien nie. Ek wil so graag net my vinger oor sy lyf trek; net om te kan deel voel van hierdie grootheid”. Ek voel hoe die intensiteit van die gedagte my hand oorneem as iets wat gedoen móét word. Hier in die hok is ʼn kamera, maar nie ʼn kamera waar my regterarm teen die hok rus nie. Niemand sal kan sien hoe my vingerpunte oor hom gly wanneer hy ʼn stukkie aas hier langs my kom hap nie. Hierdie hokke is buitendien so versterk na ʼn haai-inval in 2016 dat niks verkeerd kan gaan nie! Dis nou of nooit!
Skielik is alles rooi voor my. Hoekom voel my hele lyf so nat asof ek nie ʼn duikpak, snorkel en bril aangehad het nie? Dit voel opeens of ek op ʼn ‘rubberduck’ oor die water gly. Ek hoor onbekende stemme praat: “Ek weet nie of sy dit gaan maak nie, sy’t te veel bloed verloor”, “Almal wat op daardie boot was, sal vir skok behandel moet word”, “Ek wonder of sy links-of regshandig was”, “Dis nie die natuur se skuld dat mense stupid goed doen nie”. Binne my skree ek: “Hoekom kan ek nie my regterarm voel nie?”
Ek hoor hoe ek harder en harder skree: “Ek kan nie my arm voel nie! Ek kan nie my arm voel nie!” Dan skop iemand teen my bene: “Stoppit nou, man! Draai op jou linkersy of lê op jou rug. Jy het seker jou regterarm verslaap en nou hou jy almal uit die slaap met jou gekreun en geskree. Probeer nou slaap, want môre-vroeg gaan ons Gansbaai toe!”
“Gansbaai môre? Dan was hierdie net ʼn nagmerrie!” Ek raak aan die slaap met ʼn glimlag en ʼn troosgedagte: “Duh, niemand sal mos aan ʼn haai probeer vat nie…”
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir September 2025 – Orde uit chaos projek