Die sand onthou elke voetspoor – Die wind besluit wat bly.
Pieter sit langs Buks Appelblaar by sy vuurtjie, omring deur die nostalgie van die uitgestrekte rooi duine van die Kalahariwoestyn.
Buks Appelblaar en sy mense woon aan die rand van die Kalahariwoestyn, waar die duine soos reuse sandgolwe lê, versteen in tyd. Die wêreld hier is wyd, vreedsaam en stil, maar dit is ’n ander tipe stilte as waaraan Pieter gewoond is. Jy kan jou eie hart hoor klop as jy lank genoeg luister.
Die woestyn praat ook stadig en saggies met jou. Hy fluister in die wind. Dit is soos ’n rustige asemhaling van iemand wat in ’n diep slaap verkeer. Jy kan sy stilte ook voel. Soos Buks eenmaal vir Pieter gesê het: “As jy die stilte kan hoor sal jy nooit alleen wees of eensaam voel nie.
“As jy mooi luister met jou hart, Pieter, my groot vriend, sal jy weet stilte is nooit leeg nie,” was Buks se wyse woorde.
Die kole knetter opgewonde asof hulle in kompetisie met mekaar stories vertel, en die vlamme buig soos dansende skadu’s teen die sand. Die hemel bokant die Kalahariwoestyn lê soos ’n swart fluweelmantel wat met ontelbare skitterende klein diamantjies versier is, met die Melkweg breed en helder soos ’n reuse skitterende silwer waterval met miswolkies, wat op die duine neertuimel.
Die wind waai saggies deur die gras van die duineveld soos iemand wat iets wil sê, maar eers wag tot hy regop sit om te luister, dink Pieter.
Pieter trek sy skoene uit en woel met sy tone in die rooibruin sand van die Kalahari. Die sand voel koud tussen sy tone en dit voel vir hom kompleet asof die sand lewe onder sy kaal voete.
Pieter sit en wonder wat in Buks se storievertel-kop aan die maal is terwyl hy aandagtig na hom sit en kyk. Elke storie uit Buks Appelblaar se mond is uniek en verrassend vol wyshede en waardevolle lewenslesse, kom die gedagte by Pieter op.
Terwyl die vlamme van die vuur soos babbelende Boesmantonge in Buks se oë dans sê hy: “Pieter, my groot vriend, die sand onthou elke voetspoor van jou hier by onse Kalahariland, maar die wind hy besluit wat bly.”
Sonder om ’n verdere woord te sê buig Buks vooroor en gooi ’n stukkie kameeldoringhout op die vuur.
Pieter kyk Buks vraend aan. Hy verstaan nie heeltemal wat Buks bedoel nie. Vir hom is sand net sand. Dit brand onder sy kaal voete in die middag, en dit koel vinnig af wanneer die son sak, maar vir Buks is sand ’n lewende boek, soos Pieter nou al weet uit vele gesprekke tussen hulle.
Pieter onthou dat een van die ouer mans, met die naam Muri, in Buks Appelblaar se groep, hom eendag vertel het dat Buks Appelblaar op sy dag ’n uitstaande spoorsnyer was. “Buks, is nie net ’n man wat spore kon volg nie, maar een wat stories uit elke spoor kon lees. Hy kon uit ’n enkele spoor in die sand lees of dit ’n gemsbok was wat vir iets gevlug het, of een wat net water gesoek het. Hy kon sien of ’n jakkals bang of net honger was; en hy kon ook sien waarheen die hiënas in die nag loop,” het ou Muri destyds vir Pieter gesê.
“Pieter, my groot vriend,” onderbreek Buks se stem Pieter se gedagtes. “Alles in die lewe hier by onse Kalahariland los ’n spoor, selfs gedagtes. Jy sien dit nie, maar jy voel dit.”
Dan staan Buks op en gaan sit op sy hurke ’n entjie verder, maar nog steeds in die lig van die vuur. Hy wys met sy vinger na ’n reeks spore in die sand. “Wat sien jy? vra hy vir Pieter.
Pieter kyk … en hy kyk … en hy kyk weer … Dit lyk vir my soos ’n Babelse verwarring, dink Pieter. Dan raai hy: “Bokke, Buks, dit lyk soos ’n klomp bokke wat al in die rondte gemaal het, se spore.
“Ja! my groot vriend, jy het reg geraai,” sê Buks met ’n breë glimlag op sy gesig, “maar wat sien jy nog?”
Pieter kyk weer. Die spore is ongelyk. Party is dieper as ander. “Die bokke het geskrik vir iets en weggehardloop, Buks,” sê Pieter onseker.”
“Nie gehardloop nie, my groot vriend,” sê Buks, nog steeds glimlaggend en baie ingenome met homself. “Dit was ’n trop gemsbokke. Hulle was onseker. Sien jy hoe hulle tone wyer oop is? Hulle het gestaan en luister na iets. Iets het hulle laat skrik en hulle was gereed om weg te hardloop.”
Pieter voel hoe Buks Appelblaar se wêreld tussen die rooi duine vir hom oopgaan. Die sand praat. ’n Paar tree verder wys Buks vir Pieter ’n ander spoor. Die spoor is groter, duideliker en dieper in die sand getrap.
“Lyk vir my soos ’n luiperd se spoor,” fluister Pieter vir Buks.
Buks knik sy kop, duidelik ingenome met Pieter se antwoord.
“Ja,” sê Buks, “die luiperd het iets agtervolg maar hy was nie haastig nie, want daar was nie ’n ander luiperd in die omgewing waar hy jag nie. Hy het ook geweet hy word nie gesien nie.”
“Het hy sy bok gekry, Buks,” vra Pieter opgewonde?”
Buks lag uit sy maag uit en sê: “Pieter, my groot vriend, môreoggend ons sal saam loop by die duine dan sal ek jou leer om die spore by die sand te lees. Môre sal jy sien dat die sand elke voetspoor lees en onthou, maar dat die wind besluit wat bly.”
Buks staan op en sit met uitgestrekte arm sy hand op Pieter se hart. Terwyl hy vir Pieter diep in die oë kyk, sê hy: “Nou, my groot vriend, ek, Buks Appelblaar, ek voel die sand by my oge word swaar.
Ek sê jou goeienag. Mag Naoea jou veilig toemaak by sy karos vannag,” sê Buks. Dan draai hy om en stap na sy slaapskuiling.
Pieter het nog lank alleen by Buks se vuurtjie gesit en diep nagedink oor die wyshede van Buks Appelblaar.
Toe die kole van die vuur hul laaste snikke gee, staan Pieter op en stap diep ingedagte stadig na sy tentjie toe.
Die volgende oggend vroeg steek Buks sy kop by Pieter se tentjie in: “Kom, Pieter, my groot vriend,” sê hy sag’ “vandag leer ek jou lees.” “Ek sal jou leer dat die sand elke voetspoor onthou, maar dat die wind besluit wat bly.”
Pieter stap saam met Buks Apppelblaar die duine van die ongenaakbare Kalahariwoestyn in. Hulle stap in stilte. Die lug is koel. ’n Dun laag mis hang soos spierwit spookasem laag bokant die duine. Voordat Pieter kon vra, sê Buks, asof hy Pieter se gedagtes kon lees: “Dít is die asem van die duine, wat nog nie besluit het om op te staan nie.”
Hulle volg die spore tussen die duine waar die sand nog sag is van die nag se koelte. Die onseker spore van die trop gemsbokke asook die stil berekende spoor van die luiperd wat Buks Appelblaar gisteraand vir hom gewys het, is nog vars in Pieter se geheue.
Voorheen het Pieter net eenvoudig oor spore geloop en hulle skaars raakgesien. Hy begin nou anders na die spore kyk sover hulle loop. Pieter besef nou dat wanneer jy na spore in die sand kyk, jy nie net met jou oë nie, maar ook met jou hart daarna moet kyk.
By ’n holte tussen twee groot duine gaan sit Buks op sy hurke en wys vir Pieter met sy hand. “Kyk, my groot vriend, sien jy die sand is omgekrap. Daar lê ook ’n paar hare lê rondom die spore as jy mooi kyk. Enkele tree verder is daar ’n groot dowwe spoor diep in die sand getrap.”
“Dit is ’n groot luiperd se spoor, nè Buks,” sê Pieter selfversekerd en baie ingenome met homself.
Buks knik sy kop bevestigend, dan sê hy: “Die wind het al klaar begin werk, my groot vriend. Wat gebeur het, lê nie meer oop en bloot nie. Net genoeg bly oor vir dié wat kan lees.”
Pieter herhaal Buks Appelblaar se woorde hardop vir homself: “Die wind het al klaar begin werk. Wat gebeur het, lê nie meer oop en bloot nie. Net genoeg bly oor vir dié wat kan lees.”
Met ’n breë glimlag op sy gesig staan Pieter van sy hurke af op. Hy verstaan skielik. Dit is asof daar ’n nuwe wêreld vir hom oopgaan, die wêreld van sy goeie vriend Buks Appelblaar. Die sand onthou alles; elke huiwering … elke besluit … elke ja … en elke nee, maar dit is die wind wat sif en wegneem. Wat oorbly is nét dit wat saak maak. Die wind is tyd ingereken by Naoea se genade, dink Pieter. Ons spore is in hierdie sand, maar die genade van Naoea voed ons spore. Die sand onthou elke voetspoor, maar die wind besluit wat bly.
Pieter kyk terug na hul eie voetspore. Party is reeds half verdoesel deur die oggendbriesie. “Teen vanaand sal ons spore weg wees, maar dit beteken nie dat ons nooit hier was nie, nè Buks?” vra Pieter half hartseer.
Buks sien die hartseer in Pieter se oë. Hy kom staan langs Pieter en sit sy arm om Pieter se skouers.
“Buks, jy het gisteraand vir my gesê die sand onthou. Ek sien dan nou geen enkele spoor meer nie. Die wind het alles toegewaai,” sê Pieter.
Buks glimlag half verleë. “Die wind onthou elke spoor wat hy toewaai, Pieter,” sê hy. “Die wind kies watter spoor moet bly.” Jy moet leer om spore te lees soos jy jou boeke lees.
Ons mense se spore is moeiliker om te lees as diere sin. ’n Mens kan ’n spoor los wat nie in sand sigbaar is nie, maar die wind weet van elke spoor. Woorde is ook spore wat die wind dra,” sê Buks.
“Wat as die wind alles wegwaai, Buks,”? vra Pieter. “Wat bly dan oor, Buks?”
“Pieter, my groot vriend,” sê Buks, “ons almal loop. Ons almal los spore, maar wat bly, is nie altyd dit wat ons dink nie. Nét die waarheid van jou hart bly binnekant jou spore onder by die sand… Die sand onthou elke voetspoor, maar die wind besluit wat bly.”
Dan kyk Buks na die horison waar die son begin sak en sê: “Pieter, my groot vriend, soos my oë die horison lees is die wind op pad. Ons moet begin omdraai terug kamp toe.” Buks se woorde was skaars koud toe die wind begin opsteek. Eers kom hy liggies oor die duine aan soos die sagte stem van ’n ou Boesman wat besig is om stories te vertel.
Buks en Pieter begin op hul spore wat nou amper heeltemal toegewaai het onder die sand, terugstap kamp toe. Op een van die hoë duine staan hulle vir ’n paar minute lank stil en kyk hoe die wind halfmaan-sekeltjies teken in die sand. Ons staan op die duin van tyd en kyk hoe die hemel kobaltblou oor ons ontvou, dink Pieter by homself.
Die duine begin beweeg. Die oppervlak verander, maar diep onder die sand bly lae wat eeue lank lê. Onsigbaar vir die blote oog, maar stil, getrou en opreg.
Net so skielik as wat die wind gekom het, gaan lê hy en laat die Kalahariwoestyn spoorloos na. In onskuld, soos iemand wat ’n nuwe blaaitjie omgeslaan het, het
lê die Kalahariwoestyn saggolwende en eindeloos in tyd uitgestrek voor die oë van Pieter en Buks Appelblaar.
Vir Pieter, wat ’n ongemaklike knop in sy keel het, voel die oomblik asof heilig en kyk hy met nuwe oë na die nostalgie van die Kalahariwoestyn.
Tot groot verbasing van Buks Appelblaar, sak Pieter die volgende oomblik op sy knieë neer in die rooi sand. Hy druk sy hand plat in die sand so diep as wat hy kan. Hy hou sy hand vir ’n paar sekondes so in die sand, asof hy iets wil inprent.
Daarna staan hy op, terwyl Buks, wat nou behoorlik aangeklam is, sê: “Pieter, my groot vriend, laat die wind die spoor wat jou hand in die sand gelaat het, vat soos hy wil, want die sand onthou elke spoor, maar die wind besluit wat bly.”
Nou verstaan ek, Buks,” sê Pieter met trane in sy oë: “Die wind kan nie wegwaai wat jy met jou hart geskryf het nie. Die wind vee uit … ; Die sand bêre …; en iewers tussen uitvee en bêre word ’n mens se verhaal geskryf.”
————————————————oooOooo———————————————–
©Pieter Mostert
Naoea = volgens die Boesmans die Hoogste Gesag
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.