Jongste aktiwiteit:

My bedlampie

My bedlampie

Haar kyk is hard. Asof dit nie my ma is nie. Ek stap van die trappe af en kyk stip na haar, maar dit voel asof sy na ’n vreemdeling kyk. Dit is in totale teenstelling met die tyd toe sy my op skool by die koshuis kom haal het. Haar gesig het uitgestraal dat sy nie kon wag om my vas te druk nie.

Rehabilitasie is nie maklik nie. Eers vreet die gif wat jy inneem jou op, en dan voel dit asof jou liggaam homself opvreet wanneer dit nie meer die gif kry nie.

Sy stap voortuit na die motor toe sonder om te groet. Soos ’n huurmotorbestuurder wat net haar werk doen. Sy praat nie ’n woord terwyl ons ry nie. Ek weet nie wanneer laas ons regtig gepraat het nie. Vaagweg kom beelde van skree en baklei by my op. Ek hoor die geluid van glasware wat breek. Baie daarvan. ’n Naarheid trek deur my. Ek kyk liewer na buite.

Oral waar ons ry, sien ek plekke waar ek soms die nag deurgebring het. My motor was berug. Die verlede ry saam met ons. Hoe kan ek die vyf laaste jare uitvee? Ongedaan maak? Ek wil wakker word, my sweet van angs afvee en besef dit was net ’n nagmerrie. Nee, hierdie is nou my realiteit.

Die asblikke waarin ek kos gesoek het, flits verby. Die petrolstasies waar ek by motoriste gebedel het, spring soos demone voor my in. As ek my oë toemaak, sit dit in my kop vas. Here, hoe verdelg ek hierdie beelde?

Die huis lyk… min. Hier moes ’n inbraak gewees het. Ek sal my ma nie nou daaroor uitvra nie. Al wat sy regkry om te sê, is: “Vee jou voete af voor jy inkom.”

My kamer. Net die nodige. ’n Bed. ’n Bedkassie. Geen bedlampie nie. My ma is seker bang ek smous enigiets met waarde. Smous. Ek het, so te sê, alles in my ma se huis verkoop. Hoe kon ek dit vergeet? Dit was hoe ek in die sentrum beland het. Sy het my laat haal. Geboei. Dit was óf dit, óf Pollsmoor.

Ek kan haar nie kwalik neem nie. Sy is deur hel. Blykbaar. Ek was nie “daar” nie.

As iemand vir my ’n video kon wys van wie ek was — my optrede, my woorde — sweer ek ek sou ontken dit was ek. Alles wat ek moes aanhoor van die skade wat ek aangerig het. Nie net aanhoor nie, skreeuend aanhoor.

Ek is name genoem, verwens sonder skaamte. Uitgejaag op plekke waar selfs ’n straatbrak nog nie uitgeskop is nie. Ek was ’n paar keer amper dood. Soms wonder ek of iemand my sou kom soek het.

So graag as wat ek myself wil jammer kry, kan ek nie. Een swak keuse. My keuse. Dis al wat dit gevat het om my lewe afdraende te laat tol sonder remme. My huwelik. My kind. Al my menseverhoudings. Vernietig.

Ek het by almal geld probeer leen. Vir ’n sogenaamde stukkende motor. My kind was “siek”. Skoolfonds. Noem dit. My Facebook-vriende het my een vir een geblokkeer.

Dit voel soos ’n sak vol lood wat ek nou alleen moet optel. Al hierdie beelde. Skuldgevoelens. ’n Fisies swak liggaam. Die herstel van al die emosionele skade is erger as die rehabilitasie van die dwelms.

Ek gaan sit op my bed. My ma kom met die gang afgestap. “Daar’s kos op die tafel. Ek gaan uit.” Ek wil opgewonde uitskree: dankie, Mamma, soos in die ou dae. Maar die kortaf klanke wat met moeite uit haar mond kom, keer my. Sy wil nie by my wees nie. Ek sou ook nie wou as ek sy was nie.

Van hierdie oomblik af gaan ek myself moet regruk. Dit gaan nie maklik wees nie. Niemand gaan my wil hê nie. Niemand gaan eens met my wil praat nie. Maar opstaan gaan ek opstaan. Regmaak wat ek verpletter het.

Ek sal eendag weer my bedlampie hê.

Adèle Meiring

Prosa




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed