Twee teen een (‘n nuwe lewe) Goud 505 Woorde
Die skaal syfer op en af. Dan ruk dit moordadig sadisties tot stilstand. Vicky kon sweer sy het die ding sien grynslag. Desember was defnitief nie goedgesind teenoor haar nie. Haar denim klou soos ‘n helm aan ‘n pasgebore baba oor haar boude. Sy sug en skop die skaal met mening terug onder die bed in.
Ozympic. ‘n Klein glas botteljie gevul met ‘n groot belofte. Sy trek die spuit met sorg tot by die tweede strepie. Week 8. Die naald glip sekuur en vining reg langs haar naeltjie in. Die skaal koes nie meer wanneer sy hom uit sy skuilplek sleep nie. Selfs haar denim het die twee bakleiende Boksers onder beheer. Wickus spot dat daar net nie ‘n klein pienkvoet uit die botteltjie moet spring nie. Volgens hom is daar ‘n toename in kraamverlof by die werk sedert die ontdekking van die wonderspuit. Vicky sluit haar oë… sal dit nie dalk… NEE! Genade tog doeke is duur en Wickus wil nie kinders hê nie.
Dit is reeds vyf maande sedert Vicky die eerste keer Ozympic gespuit het. Haar toon kramp toe sy die skaal mismoedig onder die bed instoot. Hoekom nou skielik. Vervlakste sadis. ‘n Volle twee kilogram. Sy sug moeg. Net more gaan sy eerder na Dr Jordaan toe. Hy moet haar help. Streng dieët. Goeie oefenprogram. Niks gespuit-spuit nie. Sy moet iets doen. Wickus se oë dwaal deesdae te veel rond. Sy weet nie wat sy sal doen as Wickus haar moet verneuk nie.
Die sleutel knars in die voordeur. Vicky ruik Wickus voor sy hom sien. Dit is al na elf. Wickus het haar vroeg die oggend al geskakel. Blykbaar ‘n nood vergadering of iets in die lyn. Sy moes sy kos in die lou oond los. Sy kon die klein stemmetjie nie ignoreer nie. Iets was nie pluis nie. Noem dit maar ‘n sesde sintuig. Sy het hier in die donkerste hoekie vir hom kom sit en wag. Hy hak die sleutels aan die houer agter die deur voor hy sleepvoet in die donker gang af skuifel.
“Wickus?”
Hy skrik en gooi sy hand oor sy oë toe Vicky die lampie aanskakel.
“Vicky, waarom sit jy hier in die donker?”
Sy oë is rooi en hy lyk soos ‘n klein seuntjie wat met sy hand in die koekieblik (letterlik en figuurlik) gevang is.
“Waar was jy? Dis nie die eerste keer nie Wickus. Dit raak nou ‘n gewoonte”
“Vicky, … ek is jammer.”
Dan val sy kop vorentoe. Sy skouers hang.
“Dis Lorraine Vicky… sy sê sy is swanger… sy sê dis myne…”
Sy wange blink in dowwe lamplig.
Vicky kom stadig orent. Haar hande bewe liggies. Sy laat gly die plastiek houertjie met die twee strepies in haar japonsak in. Haar hart is koud… yskoud. Sy skakel die ketel aan. Dan draai sy na die houer langs die ketel. Haar hand gly oor die koue staal. Dan klem sy haar vuis om die growwe handvatsel. Die lig weerkaats onheilspellend teen die lem van die slagtersmes in haar hand.
Kopiereg Amanda de Meillon
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir JANUAREIE 2026 – NUWE BEGIN projek