Nuwe asem
Nuwe asem
Alles is ‘n gejaag na wind. Die Prediker was toe al die tyd reg.
Francois vee die papiere met die paar geskrewe reëls daarop met een handstoot van die bed af. So al asof die woorde daarop ‘n slang is wat pik.
Tog blý die woorde koggel.
Sy brein is suf. Hy kry nie asem nie. Goliatsgedagtes laat sy vrese sëevier. Die kamertjie raak te nou. Hoeveel keer kan jy op en af stap in ‘n vier-by-vier voordat jy kranksinnig van engtevrees raak? Vir die buitewêreld sien hy nie meer kans nie! Niemand durf hom in hierdie toestand sien nie! Hy val terug op die kussings en staar nikssiende na die draaiende dakwaaier. Hy sug hard in ‘n poging om vir ‘n oomblik van die asemnood bevryding te kry.
Dit is die einde.
Op hiérdie pad kan hy nie verder loop nie.
Vyf en twintig jaar speel soos ‘n film voor hom af. Vyf en twintig jaar waarin hy deur die sweet van sy aangesig sy brood moes verdien. Vyf en twintig jaar van streef na wêreldse erkenning – wat hy in elk geval nooit gekry het nie. Hoe lank vat dit om jouself te bewys?
Alles was ‘n gejaag na wind.
Hier sit hy vandag – vinger alleen in ‘n vier-by-vier kamertjie, gestroop van alles wat vir hom saak maak. Sy vrou het hom verlaat en hy is vir sy kinders ‘n vreemdeling…wat maak dit saak wat ander mense dink? Wat maak die gejaag na erkenning, die oordadige lofbetuigings van kollegas en tevrede kliënte dan nóú saak? Sý familie ken sy ware kleure, met sy gejaag na roem en glorie het hy die mense wat die naaste aan hom is, vir die wolwe gegooi!
Nie alleen het hy sy familie ver van hom verwyder nie – ook vir God!
“Keer terug!”
Die afgelope maande het die stem al feller in sy binneste gegalm. Skuldgevoel het hom in ‘n monster tuis verander. Soos ‘n sinkende skip het sy huwelikslewe in die waters van sy woede moedig probeer bo bly. Helaas, die skip was nie bestand teen geweldige uitbarstings nie…
Die wit koevert op die lessenaar knipoog en wink.
Sal hy?
Hy swaai sy bene van die bed af. ‘n Onsigbare mag dwing hom om die koevert op te tel en te loop. Koorsagtig pêrel die sweet op sy voorkop. Elke tree wat hy gee bring’n gevoel van bevryding. Eers toe hy voor die toe kantoordeur staan, kom hy tot besinning. Wat is hy besig om te doen…. toe gaan die deur oop. Gedane sake het geen keer nie.
Hy het bedank. Onmiddelik van krag.
Die nuus is skokkend ontvang. Francois se ore was doof vir die gepleit. “Jy maak ‘n fout!”
Francois het geweet hy maak nie ‘n fout nie.
Watter dwaas bedank op vyf-en-vyftig? Noem dit middeljare krisis, noem dit ‘n enorme gemoedsbekakking, noem dit wat jy wil. Francois is kláár geswoeg.
Alles was ‘n gejaag na wind.
Terugstap is veerlig. Elke tree verder van die toegeslane kantoordeur af voel meer bevrydend. Toe hy sy kamer bereik omhels die vier-by-vier hom. Hy val op sy kniëe voor sy God neer en maak die saak met hom uit. Jarelange seer van ‘n gefolterde selfbeeld rol van sy rukkende skouers af. Hy begin skryf.
Tot laat daardie nag maak Francois ‘n opgawe van sy lewe, doen hy boete, smeek hy om genade. Nog ‘n kans, nuwe asem…
Hy keer terug na sy Eerste Liefde…
Helaas – sy huweliksbootjie het nie gesink nie. God is getrou. Hy doen wat hy beloof het. Sy vrou vergewe, sy huis voel warm. Hy huil dae om.
Die kinders is versigtig…nog nerf-af van die seer beweeg hulle slegs tree vir tree nader. Keer ‘n hond terug na die hand wat hom geklap het? Francois het baie herstelwerk.
Tog het hy vars asem in sy longe. Elke more is God se genade oor hom nuut.
Stadig maar seker neem Francois se lewe ‘n nuwe patroon aan. Eers God, dan sy familie, en dan die res…
Francois word ‘n stil mens. Hy hou homself in en om die huis besig. Hy word ‘n mens wie se kyk diep is, dieper as die oppervlakte, en daar is nuwe skadukolle in sy oë. Hy het nie meer nodig om erkenning by mense te soek nie. Vir die eerste keer in sy vyf-en-vyftig jaar wéét hy wie hy is in God se oë.
Sy vrou ontmoet ‘n nuwe vriend, ‘n eggenote wat in opregte liefde leef, sy kinders ontdek ‘n pa wat werklik omgee en wat sy lewe vir hulle sal gee. Bedags is dit hy en God alleen. Hy leer wat dit is om as hoof van sy huis in te tree vir sy familie.
Francois leer ken die verskil tussen dien en werk.
‘n Mens kan slegs dien as jy weet wie jy is, dit sug nie na erkenning nie, en los jou met nuwe asem in jou menswees. Werk is swoeg na erkenning en put jou nie net fisies nie, maar ook geestelik uit.
Slawe werk, Seuns dien…
Francois herken die mens wat hy was soms in die manne wat hy raakloop. Jong manne met sakke onder bloedbelope oë, manne wat stres en dol jaag van punt A na punt B. Ou manne wat emosioneel verwyderd is van geliefdes, wat asemloos hang aan die leer van sukses wat hulle vir jare lank klim.
Hy wens hy kan vir hulle sê dat dit alles ‘n gejaag is na wind!
Hy weet egter dat elkeen sy eie Goliat moet oorwin. Al wat hy kan doen, is om vir die manne van God in te tree by sy Eerste Liefde.
Man van God, wie jy ookal is, weet dat Francois vir jou intree. Soos die Prediker tereg sê:
“Eet jou brood met vreugde
Drink jou wyn met ‘n bly gemoed
God het lankal reeds goedgekeur dit wat jy doen!”
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN projek