Adriaan Coetzee
Spiets
Vriend of vyand en gevolge,
welkom, en weet gewis,
daar ís ’n vooruitsig.
Dit ís die leidende voorvereiste
vir die in staat stel van
enige verdere rondgetas
in diep donker driehoeke.
’n Buitensporig belasbare vaderland
vir elk wat uit vrye wil
die drempel te bowe gaan
word voorsien.
Die stortbui van komplekse kopsere
sal die hoof gebied word
deur die salige sirkel
van verbruik
tot ieder en elk bewierook is
tot
in die liga van luukse lewensgehalte.
Vriend of vyand en gevolge,
rommel droogtes oor die Randjie aan,
dít ís die feitlike vooruitgang waarop
die teoretiese agtervoet in tuinhuisie staan.
Desember hang
Desember hang
onthoofde langneuse
soos pienk harlekyne
met gekorste kele
aan die lekkerbreek
Magoebaskloof
Die wind ’n sagte draal
deur plantasies moppe
wat sopies son opsnap
tot ’n hut by ’n waterval.
Vlak by ’n reuse-withoutstrand
klein bekorings toffieappel.
Spoelklippe bibber oor water, verleen
vlugtig ligkranse aan krappe. Die malle
baai manalleen. Klam hout
en elkeen se blink plan vir vonk vat.
Vriendskap: koffie en beskuit.
’n Koue stort of latere lawing in rotspoele.
Die volgende oggend klopdans
grootoogmotte oor die vensters.
’n Swaaibrug lyf ’n roete in na die bebaarde woud.
Ons spring soos mos verby weerhaakranke.
Verby water en klip se aloue klank. Verby
enige vaste voet tot die allerhoogste orde klouter ons.
’n Spinnekop wentel tussen druppels dou.
Boswilge swanger in pienk blos en dan,
skielike onmin oor die Canon.
Agie (mik-en-druk gelukkig) ploeter
agterlangs voort sonder kaart.
Drie boomvarings betoon eer aan ’n stroom.
Dooieblaarkoggelaars blaai oor die heide.
Langsaam ontvou ’n
duisendpoot en die dag
waar bosvarke vroeër gesnoep het.
’n Geklets span oor die alwetende vuur.
Ons sluk en verdrink en snork saam op in seepsteen.
Skemer poseer
almal vir een
ek-is-hier-kiekie.
Bondels liewenheersbesies op stelte
sampioen deur ’n vloer naalde.
Lotte bome uit lotte klowe
lê ontlede stapels
vir houtwerwe en saagmeulens. Tydens verversings
by die hoogste aangeplante bloekom in die suidelike halfrond
word die hele bos om die beurt deurgrond.
Nota aan self: Hoor-hoor!
Boslelies lugdans op ongerepte ruigtes se gons,
werp pêrels uit gedane prag.
Ou kalante tiekiedraai met wurgvy.
Stompe hang soos vliegdekskepe bo die afgrond,
’n sonverligte moment onthul swam se slinkse voortbestaan.
’n Knysnaloerie se vere ’n trots in die malle se hoed.
Katjiepieringvrugte kort-kort langs die roete,
’n lawwe lawaai voor en uiteindelik verskyn samangoape,
aalwyne aan ons grens.
By die oewer waar denne dryf soos Ophelias
git ’n gepofte padda. Nog ’n hut by nog ’n waterval.
Oortreders se braaipak verwelkom ons.
Tyd om die eerste blase te dokter
terwyl die vrou herenig met haar kamera
oor ’n inwonende trapsuutjies.
Mistige begin tot die stap se laaste been.
Sonderlinge motreën.
Kaal naaldeike stoof hul voete
onder ’n sprei bruinpapierpoppe.
’n Bok blits verby.
Watsonias in volle blom tooi rotswande
waar water saamloop en stort
na benede. ’n Laaste swem en ’n stapper
gerat in K-way van kop tot toon vis uit
oor die roete by ’n kaalvoet kees.
Die dag toe die geroes
die dag toe die geroes
die kosmos se keelgat
verstop het was daar groot
angs in die hemel want Mandela
was ’n instrumentbaba
Main Reef
Toe hy by die verkeer aansluit
in iemand se veilige volgafstand
het hy dalk aan die kranksinnige gedink
by ’n hospitaal langs Main Reef
wat in die parkeerarea se tuin ontlas
terwyl hy stofsuiers en poleerders
repareer. Of die terminale klomp
in rye rooi oorpakke, al strompelende,
na die eetsaal.
Miskien die ouens by die asgat
wat die penis van ’n dier rondgeskop het
en mekaar skielik wou bliksem
oor die stukke ysters wat hy weggooi.
Volgens ’n lig-beseerde hoer in ’n pruik
agterin sy paneelwa het die doringboom
’n irrelevante drommel summier gestuit.
Blinde Klara Viljee
in haar viervertrekhuisie
aan die duin se gatkant
het ’n honger see afgesweer
wat geliefdes wegneem
en nêrenster teruggee
maar die see bly flankeer
druipnat agter die duin
in golwe springjurke
lipstiek poeiers en rouge
Klein hotel
die vakansiegangers het gesê
hulle was dol oor die reën
die skoonmaker minder so
’n naweek kan ’n lang tyd raak
met oorgenoeg afpakplek
tussen die kroeg en die kamer
van ’n kontrei
Tragedie genoeg
om woorde te oorlaai soos ’n skoolbus
agteruit kasat se drif in,
nog ’n betekenis móét agterna hardloop
en tot in ’n gedig spring
Om digter te word
om digter te word is om duisende dae aaneen
die liefde van jou lewe op ’n afstand te bemin
en dieselfde aantal nagte daarby
haar ontoereikende skoonheid te besing
en op ’n goeie dag met ’n bietjie geluk
sal sy jou lomp oë skalks vang
en jy haar lushof hartlik binnegaan
min wetende
sy’t ’n kuisheidsgordel in die mik
Dood van ‘n enkeling
dit is ’n tragedie om begrawe te word
in ’n belt wat jy selde gedra het
of die das waaroor niemand hoera nie
die kamer van ’n enkeling kon sy huisnooi niks vertel
nie ’n naam of nommer van ’n naasbestaande
geen geliefde uit die verlede nie
net die kamer se besettoon
kokkerotte in die kaste
het hy eerder ’n parakiet gehad
wat trane pik poseer vir die album
Glasvaas
daardie glasvaas het juis vanoggend gebars
boeke filtreer ’n dun film water op die tafel
die blomme snak
onthou jy die without se bessies
wat ons langs die bergstroom gepluk het
die diep donker kloof waar ons gejeuk het
die melkhoutpitte in bobbejane se drolle
suikerbosrand se kiepersolle
die koue kom gou gaan brandhoutgaarders
begin T-been die steiltes op
’n nuwe jaar en dronker politici
na afloop van nog ’n revolusie
bespreek solank ’n kamer met sagte mure
iemand gaan nog sy verbeelding kneus
tyd en toewyding weet
’n rots is groter as ’n klip
en berge is baas van die ruimteskip
namens die tektoniese plaat
en kruine kwartsklippies is waar olifantjies
kop onderstebo waad
Kind
Jou helder oog is die een absolute skoon ding
Ek wil dit vul met kleur en eende
Die nuwe dieretuin
Wie se name jy mediteer
April-sneeuklok, Indiaanpyp,
Klein
Steel sonder kreukel,
Poel waarin beelde
Groot en klassiek moet wees
Nie hierdie beroerde
Gewring van hande, díe donker
Plafon sonder ’n ster
[Vertaal deur Adrian Coetzee. Oorspronklike gedig deur Sylvia Plath..]
Laat die kind kom
laat die kind kom na my Afrikaans-klas
om sy taak oor Leipoldt
in swak skrif op rooi karton
naas plakkate van landmyne en handgranate
teen die muur aan te bring
laat die kind kom en my halssnoere
op die voorblad bespreek in Voorligting
laat die kind kom na my skoolsale
vol foto’s van Kruger tot Botha
en Hoe groot is U sing