Barend Odendaal
By die dood van ’n reisgenoot
(Christo Janse van Rensburg, 21/07/1938 – 13/08/2018)
Saam met jou was reis ook woordkoersvat.
Jóú pad het gerinkel van name en komvandane:
eers met die gru-slangputstorie af om Daniëlskuil se so-gedoop te snap,
of Wonderwerkgrot in waar skadu’s aan ’t danse gaan in die vertel
oor oudste mensgemaakte vure;
dan met die etimologie langs om vir Alpegems te kom staanmaak
as ons eie spiesdraerbok ‒ swart-en-wit Afrika-masker op ‒ in ’n duinestraat
op pad Kuruman toe,
Kalaharidorp met raaiselwateroog en raai-raai-naam
uit Khoi of San of Tswana se kalbas of skilpad of mens vandaan gehaal,
en toe gekaart-en-transport die hart van Afrikaans in:
’n groot hart, bedrywig
soos versamelvoëlnes in kameeldoringboom,
soos uitgevrete koringkriek en bidsprinkaan by lanternlig,
sidderend soos ’n brulduin by Witsand as mens gly-klim bo-uit
om sononder te gaan staar,
skaars ’n ingehoue eina te gaan uitkry
van die bitterboela wat jy ruik,
die toeka wat jy uit die omtes voel,
die Alommigheid se skittering op alles …
Ja, meer as die bestemmings anderkant die einders
was die taalstanings op die langpad
saam met jou.
Vierfonteijn oor Valschrivier na Vechtkop,
so-om reij onz ront (sou jy voorstandaards nog spel), ’n ander keer;
sit-sit so limiete oor van nóg Afrikaanse,
nuwe Voorposafrikaanse –
om dalk op Maokeng ’n Kroonstad te herdroom,
of op Mamafedu na die ou Petrus Steyn te soek,
na die grootwordplaas van J.C. Steyn, bul onder die woordbulle,
in die steierende voorgebergtekontrei.
En, eensklaps, deur verrinneweerde Riemlanddorpe was kannaroetes raak te sien;
was ’n mens bedag op reuseskimtroppe wildebees en blesbok op die veld,
op die bloedige stapels huid waaruit eens die streek se naam gesny is;
was kommetjiesgatmuishond, wildekalkoen, populierluiperdvlinder
volkse naamgerugte wat opgehaal tot lewe word daar, oor terpentyn- en rooigrasvlaktes
opgejaag, die sandsteendagsome oor, teen blousellug en stapelwolke uit …
óú omtes,
karosbont,
maar waar herfstyd deser dae lappe kosmosblomme pronk
uit Mexiko.
Reis was dreunpraatry;
met taal- en tydneem na die dinge gáán.
En hier sit ek nou.
Remme aangeslaan met die nuus oor jou.
Pletterreste, soos dié van insekte, teen die voorruit
van ’n vers.
- © Bernard Odendaal / 2019
kleitrap met die verlede tyd
geliefdes
het gelewe / -sterwe is so gedane sake wees
gewees wees
wéés wees
terwyl dit in die sustertale onvoltooider kan
lebte leefde lived
starb stierf died
kort mette gemaak het nie geleef soos ook julle lewens was
-lééf -lééf teen die sterfte in
’n sestig jaar of so
jul moes lustiger kinders kon bly verwek
droomdoenender bly boer en dorpuitlê het
half-oor na mekaar luisterend half-oor draadloos
(dower vir die vabondstemme van die verlede)
verstomd saans saam suidersterre kykend blómgrotes soos die seevaarders eens
in hierdie geheue deur elke oog wat hier lees her-innerd
heuglik aan ’t heue
die begeerte blyk uit die skyninfinitief
dat jul pleks van –had (wat so klink na -haat ) liefgehê was en word
waar gelieben liefgehebben of being love nie kan nie
ek wil jul lewendig onthou
wou jul lewende onthou
jul ont- van ou gesterf het -hou het
© Bernard Odendaal /2018
Romeinse offisier by die Kruis
Hy hang voor my
het net gevra: vergeef hul, God
toe ek hom vas laat kap, laat spot
Hy hang voor my
met “Koning van die Jode”-klag
gedoringkroon; ’n lam, geslag
Hy hang voor my
roep skor ’n “Eloï” se naam
en donker wolke pak nou saam
’n duisternis pak dikker saam
Hy hang voor my
en prewel hy’s van God verlaat
(net ek is hier om mee te praat)
Hy hang voor my
verpletter, arms oopgevlerk
’n blote karkas – rou soldatewerk
Hy hang voor my
en fluister iets aan my oor dors
Die sponswyn druppel oor sy bors
en spat oor mý gesig en bors
Hy hang voor my
en kyk my innig aan deur bloed
Die dank spring op in my gemoed
Hy hang voor my
en asem uit: “Dit is volbring”
Ek voel ’n skudding als deurdring
Ek staan voor hom
en hoor Jerusalem se kreet
en dan iets diep in my wat weet:
Ek staan voor Hóm!
Die seun van God,
ek staan voor Hóm!
© Bernard Odendaal / 2016
Botaniesetuin-rondeau
(Potchefstroom)
Die tuin wil wildernis, gaan bloumagriet
op suiderberge; wil gaan soetgousblom
op bontebok se wei. Ou vaarlandswilg ver-
lang rivier, stoot vrug vir bonthoutkappers.
Die tuin wil véld-in gaan karee en doringboom.
Die weerstasie hier (pypinsek-by-vywer!)
wil snap wat paddas langs rivíére paar-
manel laat dra, paddapoësie laat praat.
Die tuin wil wildernis.
Bitterwortel, kalahari-ver vandaan,
staan tuitblom – soos bergtee, sand-ui, vlei-aandblom.
’n Lánd biome word van hier bedroom.
Die wetenskap wil weet wat sonder hom
gebeur; vers beklink wat haar te buite
gaan. Tuin wil wildernis.
© Bernard Odendaal / 2016
sehnsucht
verlange nie van hier en nou eens naby nie
beur uit die nes van jou omhelsings aartsverlater sy reikhals swaanmooi
heen ’n trekvoël nie van hier nie nou of
digby nie
haar hunker-
sug
hang windstilswaar daar waar sy weggefletter het
uit die geknak-
te takelwerk van spookskip lengte-van-dae
jy gaan tuisteskep dus metterwoon jou liefhê uit die gemis
maak loopbaan al oor die spoor van die vergetelheid
jou oog op aldag en sy wonders (dogtertjies-met-haarstrikke)
dan kom daar poskaarte uit vanouds van gunter af
jou kop glip naweke weg kantien toe op vergesog na hotel afgeleef op êrens
weke wil jy vort jy wil hoor sy wás daar ja ge-hitchhike glo of ysterperd gery
dwaaldolla oor wie elke tweede jan rap sad stories weet te verkoop
jy gaan sit in leë kerke waar jy vermoed sy kon gewees het
bedeloos
omwille luisterryke swyes
.
in ’n lughawe se vertreksaal
teen hoë digte vensters langs
iewers aan die einde van ’n somer
volg jou oë om en om ’n onbegonne trekswaelvlug
in tale aan die kwyn haastig of langsamerhand reis jy verslangs
onweerstaanbaar toe na digterby en raakgesê
maar sy is soek in elke gedig
verseindes skiet te kort immer sy weet dat eindes eintlik oop
soos einders is waar jy ’n sin wil toeknoop by die punt daar glip
verlange
uit
jul skandekind ontdek jy op ’n dag dool
in jou voortuin rond kaal en maer huil-huil
hier nou
© Bernard Odendaal / 2015
Straatmuse
Wink-
of wuifbe-
wegings
anderkant die multilaan-sakestraat
val jou by koerantkoop in
die oog.
Appèl aan jou? Of iemand wat na
jou wil kom?
Jy sien stuk-stuk deur die drukke huistoegaanverkeer die
wink- of wuiwery,
geroep en -lonk en -mik
tot wanhoop toe …
dat sy (dis tog ‘n sy?) gaan
moed verloor …
en jy rek die nek
en soek die deurkomkans, linksom langs, of
regs, na oorkant waar sy was,
jy merk iets verlangs straat-af
soos ‘n metafoor
– die oorbrug van ‘n gedig –
en veg en vleg dié ompad oop,
trippel trappe op
en trappe
af
om oorkant aan te land.
In die maling van gelate op
amptenaredrag
duik praggrimeersel op, hier, daar, met
kokette
wenkbrouvraag, en skuif die lok-kledy (onvermy-
delik – ou cliché – die skynverhulde dy) oop … Ligtekooiverleiding bloot.
Aandskemer bly: ou filmrol wat stol,
brandvlek. Maar gelding stu. Iets wil
soos beursie in jou broeksak bultmaak; en
jy kyk nog om
oorkant toe: na hoe ‘n jy daar staan,
dagbladlesend in ‘n bushalte-ry,
aldagbenullig, kop wat huis toe staan,
sonder waan oor waar gelonk heen lei.
BRON: https://versindaba.co.za/tag/bernard-odendaal-gedigte/
http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S2219-82372016000100001