GA Watermeyer
DRIE GEDIGTE OPGEDRA AAN DIE POLISIE
In nanagdonker, ryp of reën
loop ons die paaie sielsalleen;
in watter weer, in watter wind
is ons nie op ons pos gevind?
KONSTABELS
Ons is die wagters op die muur wat
skans gooi in die krisisuur; die manne
wat gespeen van vrees teen elke
oormag sterk moet wees. Die land se klippe
ken ons bloed en voor ons
uitgaan moet ons groet.
Ons is die stang wat misdaad tem, die
hand wat kinders straatoor klem; ons
is die orde — ons is wet, die oog
waarop Sy Groot Oog let.
Ons is die buffelbul se buk wat
hordes witoog tru laat ruk.
SPEUR- EN GEHEIME DIENS
Ons is die dun vlies van die wet wat
onsigbaar gestalte het; die arendsoë
van die staat wat niks geheim of
donker laat: valkvleuels wat met
doudag stort voordat die onrus onheil
word.
Ons is geduld wat doeksaf loop,
leidrade tot een sening stroop; vals
alibi’s tot kraakbeen kou, die
skuldspoor tot die doodsnik hou.
Ons is die wildehond se draf
wat misdaad moeg maak sonder blaf.
BLITSPATROLLIES
Ons is die waaghals wat die wind se
vleuels om ons skouers bind; die lepel
tot sy laaste trap tot elke reun onder die
kap sy sterkste hoefslag voluit dra in
vaart wat min genade vra.
As snelheidsmeters honderd speel, die
draai voor digknyp om die keel, weet
ons — Sy Hand in Hoer Rat hou nog
vier wiele op die pad.
Ons is die snelsprong, ons is klou,
jagluiperd wat die vlugspoor hou.
Reën in die Voorwinter
Vier mure teen die Suidewind –
my swartoogvrou, my blondhaarkind.
Kareehoutstompe in die vuur,
ketel en kaggel brons geskuur.
My bont koei lê op koringstrooi,
my swart haan roep die dagbreek rooi.
Soet deur die lang nag sing die reën; moflammers sal ek vroeg-Mei speen.
Die wendam stoot sy uitloop oor –
blink breek my ploeg die middelvoor…
G A Watermeyer: Sekel en simbaal, 1948
GEROEPE VOLK
KLEIN Boervolk in dié breë land
wat hier geloftesterk in jou stand
teen stede van die wêreld staan,
jy sal nie buk of ondergaan;
veel smart, veel sterwe en verdriet
het jou geroepenheid graniet
tot Ararat van Afrika,
Arkvesting wat Sy Volksdroom dra.
God is die Land waarop ons leun,
God is die Gestalte wat ons steun.
Klein Witvolk in dié woeste land
wat teen die nagswart Noorde wand;
ras wat met tentwaens van geloof
die kontinent se donker kloof;
ras wat die blanke erfenis
se laaste suiwer vesting is:
jy anker met jou Bloedrivier
die wortels van die Weste hier.
God is die Laer om ons heen,
God die Gestalte wat ons steun.
Klein Israel smadelik gebind
om vir die Farao’s strooi te vind,
nog na die bitter koorstrek Noord
te skoffel in die vreemde boord;
noudat die wêreld tweespalt word,
die grootbom see oor stede stort,
sal Vryheid van Sy Wolkkolom
wit oor jou wye vlaktes kom.
God is die hoop waarop ons leun,
God die Gestalte wat ons steun.
DIE GEES VAN KRUGER
Sy ongebukte ballingstand
vlam weer die Vierkleur oor ons land
ERFENIS
Die Vrede van Vereniging
lê bitter in ons bloed gekring…
TOE ons gebreek was tot die been,
verwese in die smaad versteen,
toe ons verslae was van smart
en hol van hoop in elke hart,
het ons die enkel trots geërf
dat Kruger met die Vierkleur swerf…
Sy afstandsoffer het gered
toe ons te skor was vir gebed,
sy ongebukte ballingshoof
ons weer geanker in geloof…
Groot bittereinder van ons bloed
het hy die vryheid weer laat gloed,
weer drif, weer vlam in ons laat word,
ons moeë lendene omgord
met moed om teen die môrekim
meer as Majoeba uit te klim.
’N HANDVOL GROND
HY het ’n handvol grond geneem
om in die vreemde nie vervreem
nie gans ontwortel van sy ras
na Afrika terug te tas…
Sonwarm wydtes van sy land,
geboorte-aarde wat verband
en wording gee aan bloed en been,
alles wat deur geslagte heen
dierbaar en dig groei om die hart
het hy in daardie stond van smart
wilsterk van wete uitgeruk
dat ons nie blind word om te buk;
in ongekende streke ys
die Vryheid van sy volk gaan hys…
Hy het sy eie hart onterf
om kinderloos en koud te swerf,
sy hoop se binnekring gebreek
opdat ons hoop nie mag verbleek,
met meer as bloed het hy gebloei
dat ons gestaltevol moet groei…
As laaste groet en greep van trou
enkel die aarde vasgehou,
enkel ’n handvol grond geneem
om in die vreemde nie vervreem
nie gans ontwortel van sy ras
na Afrika terug te tas.
OOR BAIE WATERS
OOR baie waters roep sy gees
roep herbergloos om tuis te wees,
oor baie lande dwaal sy hoop
dwaal sonder pad om t’rug te loop…
Ons het sy beendere gebring
en met geboortegrond omring;
sy swaar gestalte staar in steen
met blinde oë oor ons heen;
maar gees wat Kruger was en bly
swerf in die vreemde onbevry,
buite die grense van ons groei
immer tot afskeid vasgeboei,
immer tot ballingskap besweer
onmagtig om terug te keer
voordat die vlag wat hy ontwyk
sy stand in hierdie Suidland stryk:
Hy wat ons hoop en anker was
penwortel van die Boereras,
hy bly sy burgerskap ontbeer
tot vryheid oor ons vlaktes keer…
Oor baie waters roep sy gees
roep herbergloos om tuis te wees,
oor baie lande dwaal sy hoop
dwaal sonder pad om t’rug te loop.
LAASTE SKIETGEBED VAN DIE OUDSTRYDER
LAAT ons onthou – laat ons nie haat,
die skemer roep en dit word laat,
dis tyd vir oppak, tyd vir saal,
tyd dat die Wit Perd ons kom haal
vir daardie laaste langgalop
wat elke Burgerhart sal klop,
verby die vlaktes waar ons bloed
nog donker teen die môres gloed,
verby die kampe waar die wind
sy winterhuil se hartsnik vind,
verby swart mure en die as
wat erfhuis van geboorte was,
verby herinnering, verby
die bitter wat ons volk moes ly
tot waar De Wet se Wagte staan
en wink dat ons mag binnegaan…
Laat ons onthou – laat ons nie haat,
die skemer roep en dit word laat,
dis tyd vir oppak, tyd vir saal,
tyd dat die Wit Perd ons kom haal.
STAD VAN BETON
Ons moes die stad met sweet verken
om standplaas vir ons seuns te wen
METROPOLIS VAN AFRIKA
STEIL uit die vlakte, slank teen die son
stapel die goudstad, mynhoop, beton,
krabber bo krabber kantreg gebou,
haat van ons vaders – hawe van nou:
en immer en altyd die teerstrate deur
die drifgang van voete wat vorentoe beur,
en immer en altyd die teerstrate deur
die drifgang van voete wat vorentoe beur…
*
*
*
Waar heimwee-soet die koester fluit
en rooigras golfgooi in die wind
het jy uit riwwe goud ontspruit,
jou vaste fondament gevind;
al breër teen die blou gewelf
terwyl jou werkers dieper delf:
stad wat die land se voortgang dra,
Metropolis van Afrika.
Van vroeg af reeds was jy herout
Wat Uniefaam oor seë voer
en met die glans van stawe goud
die bande met die Weste snoer,
wyl met die grootgang van jou groei
fabrieke en die landbou bloei:
stad wat die land se handel dra.
Metropolis van Afrika…
Van hoëveld na hawestad
Lê wyd jou weë uitgelaan,
(die maandelange Trekkerpad
so moeisaam deur die waens gebaan)
nou dreun oor spoorstaaf en oor teer
die drukgang van jou snelverkeer:
stad wat die land se tempo dra,
Metropolis van Afrika.
Jou poorte wink vir almal wyd
en in jou mure voed jy veel;
wie strewe, vorm jy in stryd,
wie droom, word in jou drif verdeel;
eenling en volk maak jy bewus
maar niemand, niemand bied jy rus:
stad wat die land se wording dra,
Metropolis van Afrika…
Wyd na die Weste, Noordwaarts en Suid
stoot jy die groen van jou voorstede uit,
stug in die daglig, naglank ‘n land
wat sprokiesfyn vonkel van helling tot rand:
en immer en altyd die teerstrate deur
die drifgang van voete wat vorentoe beur,
en immer en altyd die teerstrate deur
die drifgang van voete wat vorentoe beur.
STAD VAN BETON
Op kraakbeen van kampkinders rus
die krabbers wat jou sieraad is…
Al lê hul krimpklein lykies ver
in ander gate toegesper
moes jy die hartklop in hul breek
voor jy jou fondament kon steek,
die môre in hul monde snoer
om handelsheerskappy te voer.
Nog roep my land se ruimtes wees
na hulle wat nooit meer genees,
nog tel my volk se kragte kort
om hulle wat nooit vrugbaar word…
Op kraakbeen van kampkinders rus
die krabbers wat jou voorspoed is.
DIE TWEEDE TREK
ONS stroom na stede, grondontruk,
maar soek hier meer as loongeluk
as tydelike bed of brood…
Onterf deur die depressienood
om stief op stasies uit te klim,
klein stippels teen ‘n blinde kim,
moes ons die stad met sweet verken
om standplaas vir ons seuns te wen;
die Vierkleur van tradisie hys
om hulle harte koers te wys
deur hierdie labirint van steen
wat donker doolgang om ons heen.
DIE ONTERFDES
HIER’S harte wat diep bly verlang
na grond van die geboortehang;
droogteverdruktes wat hul krom
om weer die erfplaas te bekom,
die maandelikse halfmorg vas
met oortyd in die spaarbank las;
landloses wat oor lanbou lees,
vroegmôrens inspan in die gees,
nog laataand in die stad, voor bed
eers op die weer se wolkstand let,
diep dankbaar word wanneer die reën
die sinkdak met oesdrome seën,
leistrome in lusern keer
as water wegvloed oor die teer;
maar veertig jaar hier vaswoestyn
al krommer oud word onder pyn
om kaart en transport te verkry
voordat die Hings hul oorkant ry.
LINKS – REGS
Ons wat teen sewe strome gaan
moet murgsterk in ons wese staan
om langs die wapad van ons dink
wat linksom kantel – regs te krink.
EK roep uit Eloffstraat en eis:
gee aan my volk se kinders vleis
wat *Houghton aan sy honde voer…
Ons wat gesaai het, oes die moer,
ons wat gebloei het, erf die pik,
van veel wat vrugbaar is – die slik.
Die swartman wat diepriwwe werk
kry kalorieë wat hom sterk
bo tenger kleuters van my ras
wat dunbeen wankel en onvas
in vitamines wat die bloed
benodig vir die hart se moed,
vir beter boustof van die brein
waarin ‘n volk se durfkrag grein…
Ek roep uit Eloffstraat en eis:
gee aan my volk se kinders vleis
wat Houghton aan sy honde voer…
*Weeldevoorstad van Johannesburg.
STADSAANVAARDING
HIER breek ons harte teen beton:
ons wat die seuns is van die son
en dogters van die môredou
word blind onterwe van die blou;
daglank gekluister agter steen
droom ons terug hoe wyd die reën
oor berge van geboorte kom,
die lente breek in botterblom…
Woonstelle van die middestad
hou ons in onrus vasgerat
tot uit die groen van eie gras
die vrede groei wat vlaktes was;
ons langsaam tot aanvaarding kom
wanneer die bloedpruim bruidwit blom;
in lanings vye en granaat
terugerf wat ons moes verlaat;
om ronde korrels wit kristal
uitreik na helderder heelal…
Hier wen ons harte teen beton
‘n suiwerder besef van son,
dieper gemeenskap met die dou…
BOEREBURG
MET meet en oortyd, noustropwurg,
beur ons die stad tot Boereburg…
Beton en asfalt is die werf
wat nageslagte van ons erf
voorstad en steilstad die kontrei
waar seuns met kleinvee weireg kry.
Hier sal ons kinders kennisryp
geleentheid aan die maanhaar gryp;
fonteine van die stad verken
om leibeurt vir die volk te wen;
vertroueseker spanne juk
tot skofte wat ons sku moes buk;
agter die geelhout-lessenaar
kleinkoring-oeste binnegaar;
in voorgestoeltes van die stad
stadsvader-rustig volplek vat…
Met eie taalklank, krag van koop
breek ons die stad tot Boerburg oop.
VOLKSHANDEL
En nimmer word die stryd volstry
voordat my volk sy erfdeel kry
I
DIE Driejaar-kryg is halfeeu-oud,
bloed wat gevloei het, word nie koud…
Ons pyn en sterwe gee verband
op alle oeste van dié land;
sy are goud en are graan,
blink diamante en uraan…
Wat stil geslaap het in die grond
het ons gelig met wond op wond
en nimmer word die stryd volstry
voordat my volk sy erfdeel kry…
Die Driejaar-kryg is halfeeu-oud,
bloed wat gevloei het, word nie koud.
II
OM *hierdie stad het dit begin,
in hierdie stad sal ons oorwin
sy binneplein en poorte vat…
Nog is ons wentelas en rat,
klein onderdeel in die masjien
wat vrug vir andervolk verdien,
nog is ons klerk en ambagsman
met enkeles wat breed beplan
en blinkbres in die linies slaan
wat kapitaalsterk teen ons staan…
Om hierdie stad het dit begin,
in hierdie stad sal ons oorwin
sy binneplein en poorte vat…
*Johannesburg
III
ONS het die poorte wyd gebloei
waardeur die handel vrugbaar vloei,
ons het die vlaktes oopgeslaan
waar mynstellasies rifdiep staan;
met Trekkerswee en Driejaar leed
het ons die erwe uitgemeet
waar winkelsentrums wolkhoog reik;
maar weinig van ons name pryk
op uithangborde, staan gegrif
in swaarvergulde bodeurskrif;
en word daar dividend verklaar
oor voorbladruimte in die “STAR”
blaai ons verby – soek volgens loon
na huurvertrekke om te woon.
IV
ONS steun te skamel op die hoop
om voetpad na kantoor te loop,
jaaruit, jaarin skofvas te swoeg
tot ons oplaas roetinemoeg
tot boedellose sterwe kom…
Depressiepikslaan het ons krom
en angsvas om één loon gerank
waarvoor ons God nog daagliks dank,
Ons stadsbestaan is vreesgebou
om krummels wat ons het te hou;
in dak en klere vir die kind
het ons die erfplaas t’ruggevind;
ons hoogste hartwens is voldoen
wanneer ons rus op pensioen…
So lê ons steeds nog wapens neer
in neerlaag wat onsself besweer.
V
EERS as ons droom in kapitaal
word bitter uit die hart gehaal;
nie links en lamsak sit en staak
maar spaar en spaargeld vrugbaar maak.
Die waterlande lê en wag,
geil binnegronde met die krag
van baie sakke op’n morg
vir dié wat durf het om te borg.
Voor aan met enkelskaar-kontrak,
uit stiggies stoot die sterker tak;
beleggings met oorleg beplant
sal veelvoud gerwe op die land
vir elke man wat hartdiep weet
hy trek klandisie uit die leed
van hierdie volk, wat trouverwond
trou soek in elke handelsbond.
VI
LAAT ons die kind se wordingskring
in ritme van die handel bring;
waar ons nog skraal in omset swoeg,
droom dat ons oudste drieskaar ploeg;
in koopklimaat van elke stad
hom kleinloot al laat wortel vat
opdat hy breed in Boerdurf stoel,
weer Trekkerdrang na ruimtes voel:
jong kalwers van ons kleinsaak ry
tot volspan van die maatskappy;
teen instoot van die buitewind
die aarde en die lug verbind
tot krabbers wat oor Afrika
klipbeitel-diep erfname dra.
VII
OOR vlaktes asfalt en beton
met handel as die langkanon
en kleinvuur van kleinkapitaal
moet ons krygskade agterhaal…
Met volksvertroue, volksvas koop
skiet ons die stad se blokhuis oop;
sterk langsaam aan tot skape tel
in klipkraal van die Boerkartel;
juk saam om nuwe grond te braak
in bougenootskap, bank en saak
en weet:
dat duim vir duim die Vierkleur hys
hoe meer die wakis winste wys.
STEMDAG
Elke hand wat kruisie maak
is hand wat aan die toekoms raak
STEMREG
STEMREG is gewetenspraak
waarmee ‘n volk sy eie maak,
uitbou en buig en rigtingreg
deur die jare van sy wording veg.
Elke hand wat kruisie maak
is hand wat aan die toekoms raak.
Stemkrag is gewetensteun
waarop die land se leiers leun
om in die uur wat krisis slaan
beslissingsterk gestaal te staan.
Elke hand wat kruisie maak
is hand wat aan die toekoms raak.
Stemdag is gewetenstond,
basuinroep in die volk se mond;
saamlaer van die nasiegees
tot één wit vlam – één wil tot wees.
Elke hand wat kruisie maak
is hand wat aan die toekoms raak.
STEMDAG I
IN drie-en-dertig pik geslaan
en al my jare krom gestaan,
maar stemdag is ek weer die man
wat skeer- en ploegseisoen beplan,
staan ek in eie oë sterk
soos elke baas vir wie ek werk,
is daar geen grootheer in die land
wat meer trek as my regterhand:
die enkel Trekkertroue kruis
klein baksteen in my volk se huis…
Depressiedruk het my onterf
tot huurbestaan op hierdie werf,
tot aljaar skouer buk en laai –
die kleinrat wat die grootrat draai;
maar stemdag is ek elke man
wat grootpad van my volk beplan,
op die bestemde Burgerplek
erfakkers vir my kinders trek.
STEMDAG II
VAT korrel met die skryfding, Broer,
vat raak, vat reg – dis weer die roer
wat loopvas in die regterhand
ons land ooplood tot Boerverband…
Elke man moet kolskoot skiet
want hierdie dag is dinamiet
en elke volksvrou Trekkertrou
haar laaiplek in die laer hou:
die groter impi’s van Dingaan
het uit die langgras opgestaan;
die lib’ralis lê linievas
dwars oor die witpad van ons ras;
keelgate wat verkanker is
skreeu hierdie land tot wildernis…
Vat korrel met die skryfding, Broer,
vat raak, vat reg – dis weer die roer
wat loopvas in die regterhand
ons land ooploot tot Boerverband.
STEM REPUBLIEK
STEM republiek – stem Godgerig,
stem hierdie land tot ewewig…
Geknakte vryheid laat ons bloed
ontstuimig deur die jare gloed;
ons stry om gister heel te maak,
ons môre sluimer onbewaak.
‘n Volk wat teer op bitterheid
is nog nie groot of roepingryp;
voorwaens wat wrokgebonde trek
kan nie die dieper geeskrag wek;
die liefde wat die eie ken
sal meer as teenhaat wording wen…
Stem republiek – stem Godgerig,
stem hierdie land tot ewewig;
ons stry om gister heel te maak,
ons môre sluimer onbewaak.
MARS VAN DIE REPUBLIKEINSE JEUG
ONS wat die land se toekoms klop,
wars van wurg in die buitestrop;
ons wat die smaad van gister erf,
sat van vreemd in die eie swerf;
ons is die drang wat daadkrag word,
ons is die gloed wat grense stort:
Breek die bande – sny die koord!
Dryf die tentwa dieper Noord!
Penkop-kommando’s ruk ons aan
en wie sal bres in ons linies slaan?
Strydom, Malan is koerskompas
wordingstrou deur die jare vas;
Kruger se oë peil ons Noord,
De Wet se hoefslag dreun die poort;
God van Vryheid – God van Lig
wees die Vlamwolk wat ons rig.
Eer aan die rigters van ons ras,
eer aan almal wat voor ons was;
hulle wat klein en kreupel rus
binne die volk se lydingskis,
hulle wat sterk en enkeld staan
rigtingreg soos die wawiel gaan:
Breek die bande – sny die koord!
Dryf die tentwa dieper Noord!
Ons wat die trots van gister erf,
sat van vreemd in die eie swerf;
ons wat die land se hartslag klop,
wars van wurg in die buitestrop;
ons is die drang wat daadkrag word,
ons is die golf wat grense stort:
God van Heelheid – God van Lig
wees die Vlamwolk wat ons rig.
TWEE GEDIGTE OPGEDRA AAN DIE SKIETKOMMANDO’S
Ons is die hoë lied van lood
wat deur die hartvlies telkaart stoot
GELOOFSLIED
ONS is kommando’s wat nie swerf
maar wagstaan om die volk se erf
en breek die donker onrus hier
dan laer ons weer Bloedrivier.
Ons is die loop wat korrel hou
oor skendbaarheid van kind en vrou;
kruitknal van hoop wat opstand brand
tot as wat wegwaai deur die land.
Ons visiere wat vertrou
dat God die linie om ons hou;
kolf van geloof wat skouervas
waak oor die vesting van ons ras.
Ons is die hoë lied van lood
wat deur die hartvlies telkaart stoot;
ons is die bulk van Afrika,
hings wat die dood se hoefslag dra.
Ons is kommando’s wat nie swerf
maar wagstaan om die volk se erf
en breek die donker onrus hier
dan laer ons weer Bloedrivier.
KOLF EN KORREL
MET kolf en korrel is die land
geruim tot blanke volksverband,
deur bloedswaar vakke van verdriet
van wildernis tot stad geskiet.
Met kolf en korrel is die wa
se Trekkerwiele Noord gedra;
Majoebadag en Bloedrivier
groei uit oor gleuf van die visier.
Die wordingsjare van ons volk
lê krisisswaar met kruit omwolk;
vir elke duimbreed van ons reg
is met geloof en lood geveg.
Van Riebeeck af tot na De Wet
steun ons op kleinvuur en gebed,
hoekstene wat die Boerfort bou
om in die Suide stand te hou…
In hierdie tyd wat donker sweer
gooi ons met kolf en korrel weer
teen kilte van koue uur
die volk se laaste binnemuur.
DIE ONDERWYSERS VAN MY VOLK
Die jare wat jul dien, word ryp
in elke kind wat meer begryp
GIETVORMS
GIETVORMS van ons jeug, ons vra
dat julle skouers breed moet dra;
jul bou met meer as staal of steen,
ons volkswees wentel om jul heen…
Aan julle is daar mag gegee
bó die wat wet of vonnis smee;
mag van liefde, mag van vrees,
mag oor die wording van die gees.
Bo die struktuur van been en bloed
staan jul gestaltes in die gloed
van ewigheid, wat om die mens
se innerlikste wese grens;
agter bewussyn van die brein
skemer die siel se teerder grein.
Wat julle word, word nooit meer heel,
wat julle sterk, staan stoer verseël
teen ruk van elke later wind
om rigting teen die son te vind…
Gietvorms van ons jeug, ons vra
dat julle harte deernis dra;
jul bou met meer as staal of steen,
ons volkwees wentel om jul heen.
EN AS JUL OUD IS…
DIE jare wat jul dien, word ryp
in elke kind wat meer begryp…
Agter die koue kennisgrens
tas hy na maatstaf in die mens:
die sekerheid wat vaders is
soek hy in jul gestaltenis,
die liefde wat die moeder dra
word daagliks onbewus gevra.
Jul elke denke, elke daad
strek hom ten goede of ten kwaad;
wat bot en bitter in jul broei
kan hom tot doringdissel groei,
wat julle groot en suiwer sê
word helder in sy hart gelê;
die jare wat jul dien, word ryp
in elke kind wat meer begryp.
En as jul oud is, oud en sterf
sal hoop wat jul gesaai het, swerf
en groei in die gedagtegrond
tot mirtes van ons môrestond.
MOEDERTAAL
Waak teen parallel, my volk,
waak teen die dun versteekte dolk
wat slagaar van jou wese kerf,
jou eiesoortigheid onterf
MOEDERTAAL
DIE vitrioel van gister vreet
my volk se môre ongereed,
deel van ons vrugbaarheid lê dood
gesterf in glas en donker brood…
Moet ons, wat minder moeders ken
as wat drie eeue wording wen
die kinders wat ons baar in nood
tweetalig met hul breek tot brood?
Die greep wat ons gestalte wurg
spierkrag verleen uit eie murg
om weer sy vleuels wyd te slaan
van kim tot kim heersvas te staan?
Die vitrioel van gister brand
ons rasgeregtig in dié land
om kinders wat ons vroue baar
volksvas in eie taal te laer,
teen elke spies van parallel
die sannas op visier te stel.
TWEE GOLFLENGTES
Die hartklop van ‘n volk vibreer
subtiel sy taal se trillingsfeer
WIE kindklein op twee tale voed
drink rasverdeeldheid in sy bloed;
vibrasies wat een taal omring
word beurtelings in hom gebring
en beurtelings in hom gebreek…
sy kern kring nooit kernheel,
lê op twee golflengtes verdeel;
in elke volksbewuste stond
staan hy in sy gemoed verwond;
simbool van die gesplete trou
wat hierdie Suidland breekbaar hou.
TAAL VAN DIE HEERSER
Hy wat die dood oor ander roep
erf self die skadu oor sy stoep.
HEERSVLEUELS het ons taal geslaan
om steiler teen die son te gaan;
heershoewe het ons woord getrap,
gepars, om helderder te tap;
heerswette het ons stem gebind
om deernisdieper klank te vind…
Nog stry ons in die eie land
stryd om die eie taal te stand,
nog krimp daar harte koud van haat
telkens wanneer ons volksvas praat;
maar agter skans van parallel
skuil vroeër heersers angsbeknel
dat spraak wat hul gestalte dra
polsslag verloor in Afrika…
Hy wat die dood oor ander vra
word self die donker ingedra.
DIE NUWE WOORD
Die hartslag van ‘n volk bepaal
Die lewensterkte van sy taal.
LAAT elke ras sy eie werf,
laat elke ras sy eie sterf…
Ons soek geen weerwraak of oorwin
want ieder einde is begin;
met ieder stam se sterwe kom
die nuwe woord se tyd in blom;
uit ieder dood se stiltes rank
die lewe tot verdiepte klank…
Laat elke ras sy eie sterf,
laat elke ras sy eie werf.
VLEUELS VAN DIE VOLK
WAAK oor jou vleuls, volk van my,
waak oor die woord wat jou bevry…
Dit wat nog donker in jou klop
stoot in die woord se polsing op,
dit wat nog sluimer in jou is
groei in die woord gestaltenis;
al wat jy is en nog sal word
lê kristal in die woord gestort.
En as jou tyd vir sterwe kom,
al wat jy is tot sterwe stom,
nimmer ‘n steen meer of beton
skaduwee anker teen die son,
gans jou gebeente en begrip
grys in die aarde stol tot klip,
sal tentwaens van die woord jou dra
oor hooglande van Afrika;
wat jy gepuur het uit verdriet,
in groot legendes en die lied
die geesgestalte van die Boer
tot vryheidsvlam van volke voer…
Waak oor jou vleuels, volk van my,
waak oor die woord wat jou bevry.
SKEPPINGSWETTE VAN APARTHEID
Die wetenskap se weegstem sê
hoe wyd die twee vibrasies lê
TWEE VIBRASIES
VOOR steenkool ryp tot diamant
stoot duisend eeue oor ‘n land,
die wetenskap se weegstem sê
*hoe wyd die twee vibrasies lê
Wie met die swartman één wil word
moet eers sy Westerwete stort,
terug deur die geskiedenis
hom losmaak uit sy erfenis.
Wie geesgelyk aan hom wil wees
moet buk en kruip deur hutte vrees
na bloedswaar eeue waar die bul
die hoogste horisonne vul,
rou muti uit die hart geruk
bo Bybel en gebed geluk;
sy denke en genie verseël
in ritme van die ritueel,
met knopswaar kieries en die lem
krag van sy stamverband beklem,
*Elke kleur in die spektrum pols sy eie vibrasie.
van binne bitter en onryp
verby die kraal na chaos gryp…
Voor die steenkool ryp tot diamant
stoot duisend eeue oor ‘n land,
die wetenskap se weegstem sê
hoe wyd die twee vibrasies lê.
HELDERHEID
BLY blank, my volk, bly blank in gees,
laat helderheid jou hartslag wees,
jou hooggebed by Bloedrivier
gee jou geloofsgestalte hier…
Dié wat om kleurgelykheid kreet
is hul wat nie die kringloop meet
van Wet wat deur biljoene jaar
bewussyn puur uit die barbaar,
oor wye wordingsvakke smart
die liefde anker die hart…
Die donker mens dra beeld van God
maar lê in die vertraagde bot
van blinde eeue vasgeboei
om tot gestaltereg te groei
in later vlaktes, weer en wind
as wat die Tentwa hier sal vind.
Nog is sy dink nie rigtingryp
om breë heerskappy te gryp,
nog lê sy Godsverlang geklier
aan kuile water en rivier;
Is hy die aardgebonde gees
wat moeisaam losbeur uit die vlees,
onmagtig om die lig te dra
wat stoot oor groter Afrika…
Bly blank, my volk, bly blank in gees,
laat helderheid jou hartslag wees,
jou hooggebed by Bloedrivier
gee jou geloofsgestalte hier.
SWART STEEN
HY bly die donker ondergrond
wat buig teen elke môrestond
tot stiltes van sy sterwe leer
dat liefde meer as bloed besweer…
Sy brein kan kennis registreer,
sy gees lê oewerloos gemeer
in duister waters van ‘n tyd
wat arm is aan menslikheid,
nog min van mededoë weet,
die bloed laat loop oor alle leed.
Hy is die swart geslote klip
van onvolwasse Godsbegrip
wat bros moet word in baie reën,
deur pyn van eeue son ontsteen
totdat die weekvlies om sy hart
wondbaar en oop lê vir die smart,
die wordingswette van verdriet
swart steen van sy bewussyn giet
tot flonkering van kristal
wat Lig weerspieël uit Sy heelal…
Nog bly hy donker ondergrond
wat buig teen elke môrestond
tot stiltes van sy sterwe leer
dat liefde meer as bloed besweer.
LIG OOR AFRIKA
DIE Suide uit – die Noorde in
is wydtes vir die volk oorwin…
Laat die verlede hoeksteen staan
waarop die toekoms steil kan gaan;
reik uit geloof wat gister dra
na witter lig oor Afrika.
‘n Ander dag as die visier
lê aan die kim vir ons wat hier
teen donker dink van die barbaar
die geeskrag van die Weste laer;
‘n dieper stem as politiek,
‘n voller vlag as republiek,
is in ons roeping inkristal,
Voortrekkers van Sy Groot Heelal:
ons moet Sy Hooglande verken
om rigting vir die volk te wen,
oor klowe angs en Drakensklip
kim breek na dieper Godsbegrip;
die dogma uit – die wete in
weer wydtes vir die mens oorwin…
Laat die verlede hoeksteen staan
waarop die toekoms steil kan gaan,
reik uit geloof wat gister dra
na witter Lig oor Afrika.
DIE LERAARS VAN MY VOLK
Die jare van ons wording gaan
langs spitse waar jul spore staan
I
HY wat die manna soet kan maak
is nog die Mag wat oor ons waak,
Hy wat die kwartels neer kon stort
die Krag wat aldag lig laat word…
Die algebra van wetenskap
laat water weer tot rots verstrak,
buig kanselruimte en die kerk
tot aardgebonde welsynswerk,
tot nugter grense waar die woord
te smal geword het vir die poort.
Met elke kernteorie
reik ons verby Getsémané;
krankes wat kleef aan mosterdsaad
word steen des aanstoots vir ons smaad;
rigsnoer van rede waai woestyn
waarin die hart se hoop verdwyn…
Hy wat manna soet kon maak
is nog die Mag wat oor ons waak,
Hy wat die kwartels neer kon stort
die Krag wat aldag lig laat word.
II
DIE ritueel van kelkies wyn
les nie die dors se binnepyn,
die silwer skaal met skyfies brood
breek nie die hart se hongersnood…
Ons wil die diepglans van Sy Wyn
om elke Nagmaalwoord voel skyn,
ons wil die Brood van Lewe hê
wat agter die formule lê;
bo aardse leed wat ons hier bloei
die hoogslag van die siel voel groei
en styg en tot bewussyn kom,
één met Sy heelheid, één met Hom:
tot elke hart die beker word
waarin Sy Gees in volheid stort…
Die ritueel van kelkies wyn
les nie die dors se binnepyn,
die silwer skaal met skyfies brood,
breek nie die hart se hongersnood.
III
HY het gesterf opdat Sy Lig
die lewe tot die Lewe rig…
Breek vir my volk se honger brood
wat meer as dogma is en dood:
die Liefde loop ‘n langer pad,
die Liefde is die milde vat
wat nie verseël word deur sensuur,
die Liefde weet, die Liefde puur.
Skink vir my volk se diepdors wyn
wat rein bo troebel woorddrif skyn:
die Liefde span ‘n wyer poort,
die Liefde dra die dieper woord,
die Liefde steun, die Liefde lei,
die Liefde bid, die Liefde bly…
Hy het herrys opdat Sy Lig
die lewe tot die Lewe rig.
IV
DIE Waarheid en die Wette lê
agter die woorde wat jul sê…
Jul moet weer oop en helder word
dat Hy Sy Lig tot klaarheid stort
binne die kruike van jul gees…
Jul moet weer straf en braambos wees,
soos Moses aan Sy Stem gebind
die vryweg vir ons voete vind;
die see kloof tussen God en volk,
uitstyg tot stiltes van Sy Wolk;
die hiërogliewe in die Klip
besield ontsyfer tot begrip
van hierdie eeu, van hierdie tyd
wat swanger word aan ewigheid…
Die Wette en die Waarheid lê
agter die woorde wat jul sê.
V
DIE jare van ons wording gaan
langs hange waar jul spore staan…
Voor ons die dieper Trekland wen,
die vrug van eie Kanaän ken,
moet julle wit word met Sy Woord,
moet julle vlam word, wig en poort;
diepklank van God wat deur ons klink,
kruikbeeld van God waaruit ons drink;
met wete van Sy Krag omgord
gestolde eeue tydloos stort
tot waar die Staf van Moses weer
die seegolf en die rots besweer.
Voor ons die dieper Trekland wen
moet jul opnuut Sy Stemklank ken…
Die jare van ons wording gaan
langs spitse waar jul spore staan.
DIE REPUBLIEK VAN DUISEND JAAR
In republiek wat ons verklaar
anker Sy droom van Duisend Jaar
I
WAT Israel was, sal my volk word,
sy lendene met God omgord…
Ons is gewond, maar oor die wond
vloei die gesalfde môrestond;
ons is gebuig, maar uit die smaad
vlam die gevlerkte daeraad.
Deernis-deurdrenk van weerloos ly,
deur smart tot wordingswil kasty,
puur uit ons pyn die roepingslig
waar wolkkolomme nasies rig…
Wat Israel was, sal my volk word,
sy lendene met God omgord.
II
IN republiek wat ons verklaar
anker Sy Droom van Duisend Jaar;
hier word Sy Raadsaal uitgebou
waar ons die Suide suiwer hou…
In Lig wat tot bewussyn kom
erf ons die rigterstaf van Hom,
word voorwaens in die Groter Trek
wat weer die Wysheid herontdek,
die binnelande van die gees
oopstel vir God-bewuste wees;
oor die seisoene en gety
die mens se vroeër mag verkry
toe Adem in gestalte was
en heel geloop het in die gras…
In republiek wat ons verklaar
anker Sy Droom van Duisend Jaar;
hier word Sy Raadsaal uitgebou
waar ons die Suide suiwer hou.
III
STYGWATERS van die diepsee stoot
die lewe opwaarts uit die dood;
bewussyn wat *Atlantis is
kry hier sy hoogherrysenis…
Die groot getye van Gods groei
laat gisters tot gestalte bloei
in hierdie hede, hierdie nou
wat stede in die Suide bou.
Ons trap die stof van Afrika
om stofontstyg Sy Vlam te dra;
wysheid-ontvanklik weer die woord
terug te erwe tot die Poort
wat duisend donker eeue t’rug
verseël is met die watervlug…
Stygwaters van die diepsee stoot
die lewe opwaarts uit die dood;
bewussyn wat Atlantis is
kry hier sy hoogherrysenis.
*Die verlore kontinent – deur verskeie skrywers
in verband gebring met die sondevloed.
IV
UIT waters wat weer onrus word
sal skoner see en aarde stort…
Ligwoord sal tot ons midde kom
wat trou en teken is van Hom;
Rigwoord wat wit en waarheidrein
die dou van Sy Gedagte skyn:
woord van Sy Droom tot wording baar
in vrederyk van Duisend Jaar;
terug na die seisoene tas
voordat die sondvloed water was;
die heelal weer tot heelheid grens
binne bewussyn van die mens;
Sy Beeld tot beeld in ons gesmee
die vleuels van gestalte gee…
Uit waters wat weer onrus word
sal skoner see en aarde stort.
V
IN hierdie groter tyd van God
sal Afrika weer Eden bot…
Wanneer ons ligwaartse verlang
gevleueld oor die aarde hang,
die liefde in ons hoër staan
as wat die haat se kringloop gaan,
word uit die sondeswaar gety
die nuwe wêreldryk bevry:
die periodieke paradys
wat helder tot bewussyn rys,
in eenheid tussen God en mens
smart van die sondeval oorgrens;
die Vrede wat op aarde was
opnuut herenig met die gras…
In hierdie groter tyd van God
sal Afrika weer Eden bot.
GESTALTE VAN MY VOLK
KLEIN windgerukte Westerloot
wat in die Suide stam kom stoot,
jy brei tot boom wat vrugte dra
oor breër grond as Afrika…
Wondjare van jou wording pyn
die dieper geelhout van jou grein,
boom wat deur lyding Kennis bot,
na hoër reënstreke van God
jou takke tot bewussyn strek;
boom wat weer ewewig verwek
in die seisoene van die hart;
uitkruin bo kringloop van die smart
waarmee die sondeval die mens
tot moeitevolle môres grens;
boom wat deur lyding t’ruggesnoei
die suiwer blom van Liefde bloei,
vier streke van die aarde bind
om volk’rebond in God te vind…
In later eeue, later tyd
sal jou gestalte wêreldwyd
in alle tale wortel vind,
legende groei van die bewind
van duisend jaar, wat eenmaal was
toe God verskyn het in die gras…
Klein windgerukte Westerloot
wat in die Suide stam kom stoot,
jy brei tot boom wat vrugte dra,
oor breër grond as Afrika.