Tom Dreyer
Kies lewe
Elke aspek van my lewe
moet ‘n draai maak by die kruis–
daar is die vir wat ek te bang is.
En dan die wat ek liewer wil vergeet…
MAAR,
Dit wat nie aan die kruis gespyker was nie
Wel dit word net te swaar
Dis dit wat my krag en tyd leeg tap.
Selfs my emosies en verhoudings
Als moet kruis toe.
Dan dra U dit saam met my…
Is Dit die Seer werd?
Dit is vyf voor vier.
Ek klim uit my motor
toe ‘n vuishou my diep binne tref;
soos vrees wat jou gryp en intrek,
maar waarom nou – is ek dan bang?
Hoe nader ek aan die voordeur kom…
soos iets wat binne in my opstaan.
Toe ek die deur binne stap –
‘n swaar donker atmosfeer verwelkom my.
Ek sien hoe haat en dood mekaar aangluur…
in die hoek sit seer, bene opgetrek
arms om die kop en bene vasgeklem
asom te sê “…dis nou genoeg…”
Ek probeer hul ignoreer,
maar kies koers na buite.
Ek druk die voordeur toe
met haat en dood kort op my hakke.
Met verligting verskuif hul blik weer na mekaar…
maar… seer, steeds inmekaar getrek in die hoek…
Ek wik-en-weeg om haar te gaan haal…
Ek besef sy sal self moet uitkom
ek stap ‘n ent verder
ek kniel by die venster en roep haar sag
niks gebeur, ek hoor net ‘n paar snikke…
Eina!
Ek voel hoe die trane van diep binne oor my wange rol
Seën Ons Land Suid Afrika
Hemelse Vader, seën ons land Suid Afrika,
seën ons, as ‘n nasie en volk.
Skenk geboorte in ons harte
aan vryheid en geregtigheid,
aan broederskap en liefde.
Bewaar ons teen oorlog,
teen vrees en ongeregtigheid,
teen moedeloosheid en nederlaag.
Seën ons president
en al die leiers van ons land
skenk aan hulle wysheid en moed,
visie en hoop in elke besluit t.o.v. ons Land.
Maak ons meer en meer bewus
van ons erfenis,
maak ons bewus van ons regte,
en ook ons verantwoordelikhede
as kinders van God
en as landsburgers.
Maak aan ons bekend u wil,
tot die vervulling van u woord
vir die restourasie en doel,
en die toekoms vir ons land
tot die verheerliking van Jesus Christus.
Kreef
Tussen rooi geleedpotige reste,
gebreekte dop, segment en stekel,
met elke poot en spriet oopgespleet,
hygend, gebuk oor ‘n tafel,
sit ‘n man wat nie vreet nie, maar vréét.
En uitgestal in water en glas,
lewend gehou vir die gril van die gas,
kyk ‘n ander kreef toe, onwillig, geboei
deur die klam pienk man
wat met sy maker stoei.
En dieper as die gewete
van die dikgevrete,
kyk dit déúr die spieëlende las:
Die man kyk moeg op,
vryf verskrik oor sy slape:
sy refleksie in die bak
is soos n boggelrug,
skeef en wangeskape.
Langebaan
Toe die nag swart word en die stilte
in die gang kom skuifel, toe die melk
in elkeen se kalbas reeds suurder brand
as die sang van korrelss in gekelkte glase,
bind die kroegman met die dun keel al die note af,
knip die veerbord se verlepte roos en skryf
als op teen al die ander aande.
Daar was hulle en hulle was al wat was:
die wind was deurentyd wyn, ‘n sagte plons
in ‘n groepie glase. Deur al die verbuigings
van sit en aanhou sit, het hulle bly sit,
tot hulle een vir een, bleekwit of witter,
moes swig voor die lot van vallende vrugte.