Jongste aktiwiteit:

Besoek aan die nuwe basis en ons ry net bietjie rond.
vir

Besoek aan die nuwe basis en ons ry net bietjie rond.

My voertuie was gediens by Selby en daar was selfs nuwe bande op gesit en terwyl ons op die boot was het die boesmans my gewere baie netjies skoon gemaak en ek het so baie gehad dat ek die een bed moes uitskuif uit my kamer uit. Die nuwes wat ek van die VSA gebring het, het ek besluit om net die 6,5 te gebruik en te hou by die 416 en ek wou ook Jeannie se 404 gebruik, dit was n baie lekker geweer en n kaliber waarvan ek baie gedink het. Dit was van die groot kalibers waarmee ek die beste op die skietbaan gevaar het en ons het so veel ammunisie saam gebring as ook herlaai komponente dat hy maar so bietjie harder kon werk. Ben was n man wat gesweer het by sy 404 en ek het nog min met die kaliber gejag. Sy het nog steeds die staat se 270 baie geniet en aangesien ek die aanbouery wou gaan besoek het ons reg gemaak om vir twee aande uit te slaap.

Die boesmans moes saam gaan want ek moes die spesifieke slaap plekke ook aan hulle uitwys en het so n bietjie klein veranderings aan die basis wou aanbring. Grensdiens het my geleer dat n pad binne n basis baie gou tot snuif getrap word. Daar sou net twee hekke wees, een waar alle voertuie sou binne en uit gaan met n afdak vir alle voertuie by die hek. Geen voertuie sou binne die basis kon ry nie en moes dus by die ingangs hek parkeer.

Die ander hek was net n klein hekkie aan die suid westelike hoek en dit was net om die kragopwekkers te besoek en die nomadiese boesmans sou die hek gebruik en hulle kamp plek was af gekamp met n paar netjiese strooi hutte. Hulle was nie binne die basis toegelaat nie en die nonne kon hulle daar besoek. Dit mag wreed klink, die mense het die soort van nomadiese leefwyse verkies en wou dit nie anders he nie. Hulle kon ook baie gou bedelaars word en tipe van afhanklik word van westerlinge om net weer oornag te verdwyn. Dit was hoekom boere na wilde en mak boesmans verwys het. Die werklike geel !Kung boesman was nie mense wat onder westerse kultuur kon aanpas nie. Drank was te alle tye buite perke vir hulle solank hulle binne die basis sou wees. Dit was n basis binne n natuurpark waar alle gevaarlike diere vry rongeloop het en die groot hek sou te alle tye bewaak word, die kleiner een sou gesluit bly tot hy benodig sou word vir die boesmans of die kragopwekkers.

Ons het eers by ou Manwasi aan gery en ek wou van die pragtige meubels wat die mense uit dooie Kiaat gekerf het bestel want ek moes n huis gaan opsit met geen meubels nie. Ek het ook dat Kabous met die saagmeule op Katima kontak maak waar baie mooi hout gesaag was en ek het vir Spyker wat die plek hanteer het baie goed geken. Hy moes n klompie meubels maak en bring tot by Ngoma se brug. Ek wou n sterk dik tafel he om te begin herlaai en dan n horde ander klein goedjies.

Die opslaan huise sou met ingeboude kaste en alles moontlik daarin kom. Ek het twee blouwildebeeste geskiet op pad na Manwasi toe en daar was ook die arbeid situasie wat ek met hom moes uitklaar. Sy mense sou vir die basis se arbeid verantwoordelik wees en ek het die reels en wette uitgespel. Die padwerkers het al ver gevorder en hulle het sewe dae per week van donker tot donker gewerk. Die pad na ou Manwasi was klaar vanaf die grootpad noordwaarts, hulle was nou besig om suidwaarts te bou in die rigting van die heuwels waar Nyati sou verrys. Op die roete van waar die pad gebou sou word was reeds hordes spore van voertuie wat heen en weer moes ry want baie dinge sou tegelyk klaar moes kom.

Daar is rondom die groot bome gebou en dit was maar net n goeie grondpad en nie n teerpad nie, daar moes sementpype gele word vir die reen seisoen en die water moes uit die pad gehou word deur dit te lig bokant die normale oppervlak van die veld. Dit sou later ook n probleem word met vlakvarke wat die bruggies as n ideale huis gesien het. Ons het die swaar masjiene en padrollers langs die pad gekry en ek was werklik verbaas oor die min skade aan die natuur.

Ek en Jeannie het die planne saam gery en die heining was klaar met die twee hekke soos ek dit versoek het.Dit was n stewige heining en die mense het al in n horde natuurparke sulke heinigs gebou, hulle het ook nie n reguit heining gemaak nie maar ook met draaie om die bome in ag te neem. Die kragopwekkers was daar maar nie gekoppel nie en die maatskappy het hulle eie gehad wat die heining elektries gehou het.

Hulle was besig om die water aan te le vir die geboue en die wereld was vol slote gegrawe en oral tussen die bome kon ons sien waar die ingenieurs plekke begin plat en skoon maak het waar die geboue sou staan. Hulle sou my huis eerste bou want hulle wou my as deel van die werk daar he. Omdat die gebied afgekamp was kon almal in vrede werk en slaap binne die heining in tente en ander opslaan goed. Voor my huis en presies 2,2 hektaar groot was die kunsmatige watergat in aanbou. Omdat die fontein so sterk was, was daar ver te veel water en dit het Kabous se pa my gese gaan hulle nie voor tender nie maar as geskenk aan die staat gee.

Hulle het die grond laat sak en weer drie eilande laat bly waar bome op was en die res drie meter diep gemaak met n soort van sement vloer en ook n 300mm wegleipyp waarmee die gat kon leeg gemaak word sou dit dalk te vuil word of te veel modder opgaar. Daar was ook n oorloop want die gat sou uiteindelik vol word met die 100mm fontein wat dag en nag daarin sou loop. Die grond wat hier uitgehaal was het hulle die pad mee opgevul. Die watergat sou dertig meter van my huis af begin en dan in so n halfmaan onder die basis verby loop. Die oortollige water sou 500 meter weg in die natuurlike sand wegsyfer en kon selfs later vir n ekstra tuin of landjies aangewend word.

Dit het alles ongelooflik natuurlik gelyk en die vordering het my verbaas. Ons kon dit bykans by die uur meet en alles was sorgvuldig beplan. Elkeen wat daar gewerk het, het sy werk en die doel waarvoor hy daar was geken en dit het met n spoed gebeur wat ek nog laas in die Caprivi gesien het. Net die elektrisiens was meer as twintig en alle kabels sou onder die grond loop met ligte wat op die watergat kon skyn in die nag en ook binne die basis. Selfs die tien plastiek water tenks is met nagemaakte klippe toegebou en het net soos die heuwels agter hulle gelyk. Die fontein se oog is toegebou met n stewige staal deur en was dus onbereikbaar vir diere om in te mors.

Tussen die huise was sement paadjies met twee spore wat dit In reen tye net meer gemaklik sou maak, veral vir Kabous en ander gestremdes, ons kon tussen die huise ry per voertuig, ek het dit egter verbied. As daar noodsaaklike swaar vragte was of gereen het dan was dit reg, nie sommer net om te gemaklik te kon wees nie. Wat die mooiste was, was die feit dat jy met die pad sou aankom en niks sou sien van die plek voor jy by die hek sou kom nie. Die hek sou n wag he en ten alle tye toe wees. Daar was n spesiale span wat net die swembad kom installeer het en die is op die plek in die ses stukke wat hy was om te vervoer weer aan mekaar gesit en versink, tussen die groot Kremetarte.

Die is deur n landskap argitek en ingenieur ontwerp en selfs die nagemaakte klippe was uit ons land afkomstig. Die swembad het selfs ligte onder die water gehad. Ook hier was die ekstra grond gebruik vir pad opvulling. Die huise sou die kleur van die klip koppies wees en niks sou uitstaan asof die natuur versteur word nie. Die boumaatskappy het n ekstra huis gebou vir sy mense wat moes die waarborg eerbiedig en die sou daar woon as daar foute sou kom. Hulle sou vir ses maande personeel binne die basis he wat nog steeds moes omsien na klein foute en die inwoners moes touwys maak om probleme self op te los. Die huise was op n nuwe manier baie goed geisoleer, die natuur kon baie vinnig in Botswana verander en hulle moes daarvoor voorsiening maak.

Ek en Jeannie sou die aand sommer op die bakkie slaap op die presiese plek waar my huis sou staan en die bouspan en die ingenieurs het ons genooi om by hulle te kom braai. Ek kon net een van onthou en het nie name afgeskryf nie. Die man het het gewerk vir Langenegger raadgewende ingenieurs. Hulle was dit eens dat dit beslis die mooiste basis gewees het wat hulle nog gebou het in die wilde wereld van Afrika. Ek het my boesmans gaan wys waar hulle huise sou wees en hulle moes my se of hulle hier wou kom woon of terug gaan na Makuku. Hulle het baie uitgesien om hier te kom woon. Hulle kon hulle oe nie glo toe hulle die skaal model van die plek sien nie, dit was in n glaskas onder die grootste Kremetart. Selfs die bome was op skaal gemaak op die planne.

Ek was oorsee toe die eerste mense daar opgedaag het en hulle het my vertel hoe lastig die leeus was en van n paar noue ontkomings. Wat vir hulle nou was, was maar vir ons alledaags. Ons het tot bykans middernag gesels en die manne wou weet wat ek in die afgelee gedeelte van die wereld kom maak het. Ek was tog geleerd en kon in ons land gaan werk. Toe ons begin oor geld en inkomste praat het hulle gedink ons doen die werk net vir die lekker daarvan. Hulle het nie geweet dat die jag van trofee so winsgewend was nie en my totale inkomste per jaar het baie van die groot manne laat dink om ook in Botswana te kom werk. My uitgawes was bykans niks en ons het baie goed gedoen, maar dit was harde werk en ook gevaarlik. Toe ek my liefde vir die bos en jag en my groot liefde en soeke na Afrika se geheime begin verduidelik het dinge vir hulle in plek geval. Met so n mooi meisie saam met my net nog meer.

Die gedeelte waar die asgat sou kom was mooi weggesteek tussen bome en sy water was ook klaar aangele en Kabous het die oppervlak laat groter omhein met die doel dat meer werkers daar kon woon en tuin maak en probeer selfversorgend wees. Die oorspronklike beplanning het vir net een huisie voorsiening gemaak, hy het ses laat bou en ook groter huise en hulle krag was ook klaar aangele en van die manne wat die grondverskuiwings masjiene bestuur het, het daar gewoon. Dit was so negehonderd meter van die hoofbasis af. Dit was klaar behalwe vir die binne ruimtes van die huise. Kabous was n man wat werklik kon verder as ek sien in die toekoms en die paar huise sou later baie waardevol vir ons word.

Die manne het ons so goed ontvang dat ek hulle genooi het vir n vaart op die Lynyati en ek wou hulle graag die regte manier wys van hoe n egte safarie besigheid in mekaar steek en wat ons vir die bevolking doen. Hulle was egter baie besig en sou my laat weet as hulle sou kom oorslaap. Ek was jammer dat ek nie vir Katwindi saam gebring het nie, sy huis was so vyftien meter weg van myne en het ook op die watergat uitgekyk soos alle geboue in die basis. Dit sou n pragplek wees en met die regte mense wat die werk gedoen het sou dit vir jare kon bly staan, net jammer daar was nie n rivier nie. Met die opgradering van die paaie sou ons baie vinniger kon ry en ek sou minder as n uur van die Linyati af wees. Die pad suidwes waarts sou ook nou beter gemaak word en ek kon Selby baie gouer bereik, hy was nie baie lief vir ry nie, ek moes altyd na hom toe gaan. Ek wou nie nog paaie in die Chobe laat maak nie, dit sou net meer mense en ergernis meebring. Die basis sou nie vir die publiek oop wees nie, net vir die doel van die staat en vir ons en vir jagters.

Dit was al November en die reen het weggebly en dit het my bekommer. Dit het die konstruksie mense baie goed gepas en hulle sou elke dag hulle tempo verhoog. Die vorige jaar was n wonderlike reenjaar en dit het die gras laat groei tot ongekende hoogtes wat weer in die winter afgebrand het en die veld het op die gebrande dele reen nodig gehad. Daar was ook die ewige vrees van Miltsiekte wat net in die somer voorkom tydens droogtes en dan net met goeie reens die spore daarvan sou uitwis. Miltsiekte spore kan vir baie jare dormant in die grond bly en net n goeie reen kan die uitbrake stop sit. Dit was n siekte wat alle diere aangetas het en ek het al in die suide groot vrektes daarvan gesien. Dit was ook hoogs aansteeklik en het baie vinnig versprei.

Dan was daar ook die sg. Slapslurp siekte wat ook tydens droogtes voorkom en net olifantbulle aangetas het, die siekte is nog nooit tot vandag reg nagevors nie en geen verklaring kan daarvoor gegee word nie. Die bulle het net hulle hele beheer oor hulle slurpe verloor en dan het hulle gevrek van honger want hy eet en drink met sy slurp. Dit was skaars in Botswana en het meer in Rhodesie en die Caprivi voorgekom maar ons het dit al langs die Delta gesien. Met die migrasie van diere was enige siekte moontlik. Die normale reenseisoen was werklik baie nodig.

Ek het vir Kabous op die radio geroep en ek wou die staats veearts sien en die was gelukkig in die gedeelte van die Chobe en ons het by die nuwe basis baie indringende samesprekings oor die toestande gehad. Aasvoels was die groot verpreiders van Miltsiekte en by die eerste geval moes ons hom laat weet en die karkasse uitbrand. Diere wat gelyk het of hulle aangetas was moes geskiet word en vernietig word deur hulle uit te brand. Geen rou vlies moes gebruik word nie en hy het ons die volle reg gegee om onder sy opdrag voort te gaan sou ons iets opmerk.

Ook die slapslurp bulle moes verlos word. Ons het nog niks opgemerk nie en ek wou net reg ingelig en voorbereid wees. Die bevolking se mak diere was reeds in die winter gespuit teen siektes en my opdrag was dat geen perd of donkie teen enigiets ge-ent mag word nie, hulle was werklik beter af dood as lewendig. Die mishandeling van die diere het teen my hele menswees ingedruis. Alle honde is gespuit en gesteriliseer maar ek het geweet dat dit n verlore stryd sou wees. Ons sou later hondebelasting van die hoofmanne se salaris aftrek wat hulle ook baie verminder het. Steeds was die hordes maer honde n ergerlike bron van bekommernis en dit was een stryd wat ek nie ten volle kon wen nie.

Die grootste probleem was die vermenging met wildehonde wat hulle allerlei siektes en selfs kruisteling kon gee. Ek wonder hoeveel honde ek in my lewe in Botswana geskiet het, nie omdat ek honde haat nie, geensins, hulle was te veel en het gesteel en kleinwild op hulle eie gaan jag weens hongersnood. As ons n hond sonder n eienaar gekry het was hy dood. As n teef op hitte was het ons haar geskiet want die eienaar het haar weggesteek vir die manne wat hulle moes steriliseer, so ook ongesnyde reuns. Steeds het dit gelyk asof dit sommige dae honde gereen het. Die impak op die natuur was ongelooflik.

Ek moes by die Wankie konsessie uitkom en sou reg oos ry deur die Chobe in die rigting van Panda Matenga waar ek die grootste leeu geskiet het in my lewe en tot vandag niemand geweet het wie hom gekwes het nie. Ek moes by Rob en Pieter uit kom en myself net weereens vergewis van die toestande daar. Toe ek die laaste maal daar was het hulle olifante geoes en dit was nogal vir my ontstellend. Dit was gevaarlik om net met een voertuig deur die onherbergsame wereld te ry, as hy gebreek het was jy gestrand.

Ek het vir Kabous min of meer n roete verduidelik as ek sou teespoed kry en ons is die volgende more vroeg weg van Nyati af. Die sentrale Chobe het die tekens begin toon van te veel olifante en ek het geweet dat die volgende jagters by Wankie sou moes voortgaan met die uitskiet van olifante. Ons het baie wild gekry en baie mooi olifantbulle en n paar wat ek as honderdponders sou skat. Wild was volop en ek het vir Jeannie gese dat ons baie meer van die reservaat se wild moes gebruik maak vir kliente. Sy moes haar ouers asseblief nooi met hulle vriende en ons het n getal vasgestel wat hulle kon kom skiet. Dit was ook tyd om hulle terug te betaal. Jakkie kon selfs van die Linyati af kom en by my kom skiet.

Die pad was goed genoeg en hy kon vinnig by my kom. Ons het nie naasteby gekom by die kwota wat die staat my toegelaat het die afgelope twee jaar nie. Kwotas het nie verminder nie en die vorige jaar sn was net by die volgende jaar getel. Ons het dwars oor die toeriste pad gery en n bus vol mense gekry wat van ons land afkomstig was. Onder hulle was my voormalige skoolhoof en die weersiens was baie lekker. Hy kon nie glo dat ek in die bosse van Botswana rondloop met die mooiste vrou wat hy nog in sy lewe gesien het nie. Hulle sou die aand op Panda Matenge oorslaap en ek het afgespreek om ou Squicks daar te ontmoet en ek het nog wors en eland biefstuk gehad en sou sommer by Rob hout laai en dus nie by hulle slaap nie.

Aan Rob en Piet was daar nie salf te smeer nie. Ek kon verstaan dat Piet wou gaan swot en ook om sy rugby loopbaan gaan voortsit by Maties, hy was n baie goeie speler en het die vermoe gehad om te kon leer. Rob wou terug Bataljon toe. Hoe meer ek al die draaie wat ek kon maak met hom gemaak het, sy toekoms was in uniform en ek het die rondte verloor. Hy kon nie na aan die geld maak in die militere lewe wat hy by ons gemaak het nie. Hy was soos ek hom geken het, onverbiddelik. Hy was op pad terug en hy wou weer oorlog gaan speel. Ek het tot die jongste militere situasies verduidelik en hoe meer ek gepraat het, hoe meer het hy sy ore gespits en meer aandagtig geluister. Hy was n gebore soldaat en ek het geweet dat ons mekaar weer in uniform ook sou sien. Hy was werklik n baie onverskrokke man en ek het my bedenkinge gehad, hy sou nie lank in die bataljon wees nie en dan skuif na meer gespesialiseerde magte. Hy het ook later.

Ek en Kabous was saam in die klas en Piet en Jakkie was ons juniors by ver maar in dieselfde skool. Ons het mekaar by die Bataljon ingehaal toe ons eers gaan leer het en toe n ekstra jaar aangesluit het. Hulle was dus jonger as ek en Kabous. Ons het die aand om die vuur saam met ons skoolhoof gesit en Piet en Jeannie het al my geskiedenis vir die man vertel. Hy was n wonderlike onderwyser en hy het baie spesiaal vir my en Kabous met sy ongeluk n sagte plekkie gehad.

My boesmans het by Rob, wat nie saam met ons in die skool was nie geslaap en ons het selfs vir Kabous op die radio geroep om met die hoof te praat. Hy het gese dat hy altyd geweet het dat ek iewers in die natuur my lewe sou slyt, hy het my nie in Botswana verwag nie. Hulle was twaalf in die toergroep en ek het vir Kabous gevra of ons hulle kon nooi en hy sou baie bly wees om hulle weer te sien. Ek het die hele toergroep genooi om die volgende aand by ons te kom slaap en te kom kyk wat ons doen. Dit het laat in die aand geword en ek en Jeannie het van my staat aanstelling gebruik gemaak en in die toeriste plek by Panda Matenga geslaap.

Sy sou die volgende dag my bakkie terug ry en ek sou die mense op die bus inlig oor die noordelike deel van Botswana. Ons het by ons konsessie by Ingwe aan gery, dit was verbode vir toeriste en ek het vinnig met Johan Adriaanse en Noel Wood gepraat oor die Wankie konsessie. Johan het twee jagters gehad wat die werk daar sou kom doen en een was van ons land en die ander van sy land, Botswana. Dit was n enorme verligting en hy moes my kom sien sou gou as moontlik. Hulle was besig om met geskiete wild te werk en die trofee’s en velle en horings kon deur die toergroep besigtig word. Vir die eerste maal in baie van die mense se lewens het die jag van diere begin sin maak. Daar is verduidelik waaroor die jag gaan en watter diere gejag word en wat gedoen word vir die plaaslike mense en dat nie een stukkie vleis verlore gaan nie.

Ons het net na middag ete by die Linyati gekom en Kabous met sy grassnyer trekkertjie het ons ingewag. Die gaste is gul ontvang en ek het net een voorwaarde gehad. Hulle kon terug na enige land in die wereld gaan en gaan praat of skryf oor ons jagte. Hulle moes net die waarheid praat. Hulle was welkom om fotos te neem en ons sou op die boot gaan teen laatmiddag en dit het Kabous al klaar gereel gehad. Kabous het die hele toergroep gratis by ons laat slaap en ek was baie bly dat ons vir die hoof ook weer iets kon doen. Hy het werklik vir ons in ons matriekjaar na Kabous se ongeluk baie gedoen en ons sou hom vir ewig dankbaar wees.

Soos gewoonlik het die rivier en die wild nie teleurgestel nie, dit was heerlik op die boot en ons het van die meeste spesies gesien wat ek nog gesien het, selfs n situtunga bul. Daar was hordes olifante en seekoeie en groot krokke en die visarende het gekla oor ons hulle nie voer nie. Die mooie Linyati het sy beste vir die mense gewys en die sjef Ali het ook sy beste gegee. Hulle kon in die hok bykans tussen krokke en seekoeie swem en van Kabous se beste drank drink.

Ons het die aand by die vuur gaan sit na elkeen eers met die mak diere gespeel het en die nagape eers weer hulle kapejolles uitgehaal het en dit was heerlik. Hulle het ons gewere kom kyk en die hele safari besigheid saam kom besigtig. Ons het die hoof nou “Oom” genoem en Kabous wou iets se.

“Oom het so baie vir ons beteken op skool, ek nooi Oom na my troue toe en dan volgende jaar vir n twee weke jag. Ek betaal alles van dat Oom op Hartenbos by Oom se huis wegtrek tot terug.”

Die grote man het trane in sy oe gekry en Kabous en vir ons baie bedank, ook vir wat ons vir sy skool beteken het, hy was afgetree maar het nog baie daar gekom. Hy was n streng maar wonderlike hoof.

Ek het geweet dat die gesprek ook na my en Jakkie toe sou draai en Jakkie wat almal se liefling was het met sy Namakwalandse maniere die mense vermaak totdat hulle nie meer kon lag nie. Hy sou die volgende more ry om vir Naomi op Springbok te gaan haal. Die hoof wou weet hoe ek daar beland het en Jakkie het op sy snaakse manier my die skuld gegee dat ons almal in die verlate wereld was. Ek was selfs skuldig dat hy so ver na sy meisie moes ry.

Ons het meer ernstig geword en die hoof wou weet wat my na Afrika gebring het.

“ Oom dit was aanvanklik net twee redes. Die eerste was die soeke na die raaisels en die die natuur wat my van jongs af so geboei het, die plek is in my bloed, sy diere en sy mense fassineer my ongelooflik, elke dag is n nuwe avontuur en die uitdagings van die jong land is astronomies, die geleenthede is legio. Ons het meer hier gedoen en is op pad om nog meer te doen as wat al die generasies voor ons gedoen het. Tweedens en ek kan dit nie weg redeneer nie. Ek kraak nie my eie land af nie, maar die waarheid sal altyd die waarheid bly. Die politieke onstabiliteit het nie meer aangenaam geword nie. Ek het n ekstra jaar vrywillige militere diens gedoen en het vir ewig vryskelding van militere diens gekry, ek het met n jaar van my lewe en twee skote deur my lyf daarvoor betaal. Tog sien die staat hulle weg oop om my weer op te roep. As hulle dit doen sal ek gaan. Maar dan verbreek hulle n kontrak wat geteken is deur die hoof van die Weermag. Ek weet ek moet weer gaan en ek sal ook. Derdens en die het later bygekom, ek het die mooiste meisie in die wereld hier ontmoet en sy is net so gek na die land soos ek. Dit is hoekom ek in Botswana is en ek geniet elke dag daarvan terdee.”

“Pine, ek ken jou ook al baie jare en ook jou ouers en jou agtergrond, ek verstaan dit heeltemal.

Baie dankie Oom.”

18 November 1977




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Braam het n geregistreerde lid geword

  • Paul Kloppers het n geregistreerde lid geword

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak