Jongste aktiwiteit:

John Gleeson gaan terug en ons maak die Siemens jag klaar
vir

John Gleeson gaan terug en ons maak die Siemens jag klaar

Ek het werklik nog min kliente so geniet soos vir John. Hy het na Botswana gekom om sy sterwens droom te kom verwesenlik en het baie langer gebly, hy het baie meer spesies geskiet en hy was bykans blakend gesond. Ons het baie baie goeie vriende geword maar daar is n tyd vir alles om te gebeur. Hy was bykans soos n gedeelte van die personeel en het gekom en gegaan soos hy wou. Ek sou hom mis en het vir oulaas iets saam probeer doen.

Ons het sommer met die bakkie gaan ry en gesels en ek wou he dat hy net nog iets sommer vir die boesmans moes skiet. Hy het vir ons twee rooibokke geskiet en n ou alleen loper buffelbul wat geen trofee was nie maar ek kon sien dat sy hart nie meer in die jagtery was nie. Hy wou terug en sy dinge by die huis gaan uitsorteer. Dis moeilik om goeie vriende te groet maar hy het n skelm fooi gelos in my slaapkamer wat meer as my jaarlikse salaris was en Jan Hugo het hulle die volgende more na Maun geneem en hy het bykans alles waarmee hy gekom het vir ons gelos. Ek het genoeg jagklere vir lank gehad en n mediese voorraad met alles sorgvuldig opgeskryf vir n lang tyd. “ I will be back before you run out of medical supplies Pine. There is no way to thank you enough, and forgive me for crying.” Die blootstellig wat Selby en Botswana uit sy verhale en films gekry het was fenomenaal en dit het die kantoor baie ure besig gehou. Hulle is daar weg en ek het n werklike leemte gevoel en so ook Jeannie. Ons het die bakkie geneem en vir die twee manne van Siemens na Manwasi se kamp geneem om in die egte Afrika styl te gaan slaap. Lothar was omtrent klaar met sy jagtog en hy wou baie graag n bosbok skiet waarvoor hy nie aansoek gedoen het nie. Die Chobe en veral ten noorde van Manwasi langs die rivier het baie mooi ramme gehad maar dit bly een van die skelmste bokke om te jag in die ruie gedeeltes. Dit was maar die rede dat ons die soutlekke bygehou het, alle diere ly maar aan n sout tekort en hulle sou almal kom lek. Ek het selfs leeus gesien sout lekke gebruik. My ma se varke het een maal gevrek van sout op die plaas, hier het vlakvarke en bosvarke gebruik gemaak van die lekke.

Soos die meeste jagters van oorsee het hulle ook baie fotos geneem en filmrolle opgebruik en ek het werklik my bes probeer om soos Herman my voorgese het die meeste van die onderhoude te maak. Baie male sou Jeannie wat baie meer vlot in die Engelse taal as ek was dit vir my doen en hulle was maar te genoe om met n mooi vrou te kon praat eerder as n lelike jagter. Ek het dat hy n zebra en n ou koedoe koei skiet langs die pad vir die mense en ek was ook net weer betyds om n klagte oor n krok by hulle water aan te hoor. Ek en Herman het n skuiling gaan bou en die binngoed eers in die water gesleep en toe aan n dooie Tambotie vasgemaak en ek wou he dat hy en Lothar die krok skiet want hy moes uitgehaal word. Die Chobe het baie krokodille gehad en ek het baie male gewonder wat die rede was dat hulle sou afdwaal na watergate, dit was mannetjies sowel as wyfies en gewoonlik baie groot krokke en baie maal was dit ver van die rivier af. Ek sou nooit n werklike antwoord kry nie, dit moes maar oor gebied en gevegte gegaan het. Ek het ook nooit werklik een in die dag ver van die rivier en nie naby water gekry nie. Dit was egter n konstante probleem en ons het ten minste meer as twintig per jaar ver van die rivier by waters geskiet. Moet hom ook nie onderskat nie, hy galop baie vinnig op droe grond en dit was waar Ben die Batonka se vrou gered het wat deur n krok ver van water af aangeval was, waar sy besig was om te plant in haar tuin. Hy kon die krok skiet en haar behandel en so het Bees sy selfaangestelde slaaf geword. Sy sou egter haar lewe lank baie kruppel loop en ook die een arm was effens misvorm. Baie mense laat die lewe elke jaar in en rondom die groot riviere van Afrika as gevolg van krokodille. Tog sou hulle dit as toordery of enigiets bo natuurlik aanvaar om maar net weer more met dieselfde roetine voort te gaan.

Krokodille is in riviere baie gebiedsgebonde en jy sal maar dieselfde getal kry op dieselfde sandbanke en hulle moet hul liggaamstemperatuur reguleer met die sonlig en sal dan vir so lank dit nodig is in die son bly le. Ek het nooit voels gesien wat hulle tande skoon pik soos so baie mense beweer nie. Hulle bly opppurtuniste en sal enigiets vreet en so n voel as hy bestaan sal nie lank lewe nie. Dit mag egter moontlik wees maar nie in Botswana in my tyd nie. Hulle vreet alles wat voor sy bek verby kom maar babers is maar volgens die ou krok jagters hulle hoofdis. Hulle het fyn sintuie as hulle op die sand le en bak en moet jy baie mooi bekruip of n skuiling bou en die beste was om maar lokaas uit te sit, byna soos by luiperds. Hulle mag nie n groot brein he nie maar hulle is intelligent en die een wat geleer het om mense te vang sal dit weer doen en al hoe meer doen en sy planne sal al hoe skelmer word. As jy hom op sy leplek skrik gemaak het gaan jy lank wag om hom weer rustig te kry en hy kan selfs n ander plek gaan soek. Ek het nooit daarvan gehou om probleem krokke in die water te skiet nie, hy sou sink en dan het ek geen bewyse gehad nie want die staat sou nie betaal sonder bewyse van n skedel nie. Sy vleis is baie gesog by die bevolking en hulle het dit bo baie ander goed verkies want die meeste was vet en hulle was maar geneig om vir die vet te gaan. Selby het net twee skote op hulle voorgestel. Die wat ek die meeste gebruik het was maar die kopskoot so na as moontlik bokant of tussen die oe en as hy met sy bek na jou toe oopgele het, die skoot reg in sy keelgat af. Ek wou dit nooit glo nie maar nadat Jeannie hare so n doodskoot gegee het moes ek dit glo. Ons het hulle altyd vas gemaak na die skoot want hy sou werklik terug water toe wou gaan en eers na die boesmans die hart uitgesny het was ek tevrede. Die neem van fotos het gewoonlik n ruk geneem en daarna sou ons hom oopsny of aan n boom optrek sodat die klient by n so lang as moontlike krok kon staan.

Ons het die binnegoed van die bokke deur die water gesleep en so ses meter van die kant van die water af aan die dooie Tambotie vasgemaak. Dit was oop en bloot en ons leplek was veertig meter weg agter die wortels van n Wildevy op matrasse en ek het werklik n lekker skootsvak gehad. Ek het by luiperds geleer dat jy die skuiling ook van bo af moes toemaak want die voels wat jou uit die lug uit gesien het sou nie kom sit nie en dit sou die prooidier, hetsy luiperd of krok onrustig laat. By luiperds het ek baie gesien dat hulle maar naby was maar as die aasvoels sou kom sit sou hulle die lokaas baie vinnig benader. Dit sou n mate van gerusstelling wees dat daar nie mense was nie. Bykans alle roofvoels vreet lokaas en daar sou visarende, breekoppe en valke ook kom eet en dan natuurlik kraaie. Die luiperd het nie gehou van opposisie by sy kos nie en sou baie vinnig in kom, dieselfde met skelm krokke. Dit was al redelik laat in die middag en ek het lui en sleg geword en wou net aan die slaap raak toe die krok uit die water kom en eers n entjie weg gaan le met sy kop reg weg van ons. Daar was kraaie by die derms en pens en die het nog vir oulaas probeer iets opraap en die krok het nader gewaggel en hulle het opgevlieg en n entjie verder op die grond gaan sit. Hy was by die binnegoed en ver uit die water uit en ek het dat Lothar hom tussen die twee horinkies reg van agter af skiet en ek kon die stukke kopbeen sien waai deur die lug. Hy het net so bly le en ek het gese dat hy nog n skoot moes gee bietjie verder agter toe. Die voels het opgevlieg toe die boesmans met die tang en draad nader hardloop maar ek het geweet dat die vasmakery onnodig was, tog is dit gedoen. Die krokodil het drie duim kort gemeet van vyftien voet wat n baie goeie grootte was. Jeannie het die onderhoud op kamera gedoen met die Duitser en hy was baie in sy noppies.

Ek wou dat Herman voor donker na van die soutlekke gaan en vir Lothar saam neem en weer gaan sout gooi en ook om te kyk vir n bosbok. Ek het die krok na Manwasi se kamp geneem en hulle is weg by ons en ek sou die slaap hutte gaan spuit vir muskiete en weeluise en reg maak vir die aand. Soos altyd was ou Manwasi baie dankbaar dat ons daar was en daar was net iets aan die ou hoofman wat sy adelikheid en eerlikheid bo die ander laat uistaan het. Hy was werklik n ordentlike man en leier van sy mense en in sy gebied was daar nooit n bevolkings probleem nie. Hy het met die seekoeisambok regeer en sou alles in sy gebied op sy eie manier oplos. Dit was nie altyd volgens wet reg nie maar sy woord was wet en dit het gewerk. Hy het my laat dink aan Jonas Savimbi wat op n dag vir my gese het toe ek kla oor hulle metodes van opleiding. “ My son, this is Africa, Jungle justice rules here, Leave it to us that were born here.” Dit was die taal wat almal verstaan het en dit het blykbaar gewerk, ek het dit laat begaan en was maar net dankbaar vir die min ergernis. Ons het so n mooi verhouding gehad dat ek die meeste bulle en ramme wat die staat in gekoop het na hom gestuur het want ek het geweet dat daar na hulle omgesien sou word. Sy veestapels was by drie plekke aangehou en die jong manne moes na hulle omsien en dan later opgradeer en na ons myne gaan voor hulle kon gaan trou. Hy was ook n Christen wat dit nie geadverteer het nie maar jy het dit baie gou agter gekom. Hy was ook nie bang om sy regering te kritiseer nie en het dit in die parlement gedoen en hy was reg en hulle het die foute reggestel. Hy was al n ou man van byna sewentig maar n baie imposante figuur. Die ander hoofmanne was bang vir hom meer uit respek en eerbied en het by hom kom raad vra. Hy was wys genoeg om die regte leiding te kon gee.

Ons het onder sy lapa gaan sit en Herman en Lothar was nog by die soutlekke en Jeannie tussen die kinders en die bevolking se vrouens besig om uit te deel en raad te gee en ek en hy kon lekker boerdery praat. Die beeste was mooi en die eerste Afrikaner kruisras kalwers was al mooi groot en ons het die bulle by twee beesstasies gehou om te kon vergelyk hoe dit met die inheemse beeste sou vergelyk. Hy het n groot boerdery gehad wat natuurlik almal sin was en baie van sy vee is by Gasankula bemark en vir die mark rondom Vic Falls bestem. Hy was net so n wyse boer wat sou raad aanvaar van n mede boer en ek wou sy vetstert tipe skaap ook sien uitbrei met Afrikaner ramme uit ons land en hy het al Boerbok ramme gehad wat uit Somerset Oos afkomstig was. My idee was om vir die staat n plek op te rig waar daar met suiwer rasse van goeie gehalte geboer kon word en die manlike diere wat die moeite werd was sou dan versprei word na die bevolking. Dit sou maar net beeste en boerbokke en vetstertskape gewees het. Telingsleer was een van my hoofvakke en ook een waarvan ek baie gehou het want dit was skeppend en uitvoerbaar, nie soos in X = Y waarin ek geen waarheid of sin kon sien nie. As die bevolking hulle eie vee kon opgradeer en veral vir diere wat daar gebore was en van kleins af aangepas was sou dit baie beteken vir die mense. As ek vandag na Botswana se beeste kyk kan ek amper skuldig voel teenoor die wildstapel dat ek ooit so iets aangepak het. Nietemin het ek dit gedoen en was ek deel van die opheffing van die mense en hulle boerderye en het ek nooit geweet dat dit so n impak sou he op die wildstapel nie, dan sou ek dit nooit begin het nie.

Herman en Lothar het terug gekom met n baie mooi bosbok wat hulle by n soutlek geskiet het en ook n situtunga wat hy geweet het hom baie geld sou kos, meer as n olifant. Daar was nog n bastergemsbok wat hy gelos het, maar ek glo hy het sy begroting oorskry hoewel Siemens n oop boek by ons gehad het. Dit het maar altyd begin by n kwota wat aangelas het tot by n punt waar die jagter self moes stop want van alle wild moes daar van rekenskap gegee word en alles was op kwota. Die situtunga is maar n stink affere en die bevolking het hulle geeet soos alles in die veld maar die bosbok was vir hulle baie werd en ou Manwasi se mense het geweet dat daar nie geraas en gedans sou word as ek daar was nie. Ek het hulle laat begaan en Herman het die slag die kamera werk gedoen en ek en Jeannie het styf langs mekaar die meester sit en dophou en hoe hy die jagter uitvra en en alles uit hom sou trek. Hy wou weet van die kwevoels tot die likkewaan waarvoor hy so bang was en ook die mamba wat vir hulle skeef gekyk het. Daar was n hardegat ratel met n kleintjie wat hy graag wou vashou, sy ma sou nie daarvan gehou het nie. Hulle is vreesloos en veral as dit n wyfie met n klientjie was. Tog het Jas saam met n wyfie bye uitgehaal een dag en hulle het bykans lywe teen mekaar geskuur, hy se hulle het met mekaar gepraat, en vrede belowe. Wonderlike nasie die boesmans met veld kennis en opsommings van diere waaroor baie westerlinge net kon droom. Dit het my so gelukkig laat voel soos baie lank laas in my jagters lewe. Ek het nie net gekom om te jag in Afrika nie, ek wou alles van sy diere weet en ook sy mense wat sulke ontsaglike eenvoudige kennis gehad het en wat so in harmonie kon leef met die diere. Ek wil vandag nog weet hoe jy met n hardegat ratel kan gesels, enige buurman se bullterrier was nie opgewasse vir die diertjie nie. My boesman was daar toe in staat en ek wou sy geheime weet. Jy moes maar deel van hulle wees om dit te kon doen. Afrika het so veel geheime gehad, so vele om te ontdek op so n eenvoudige manier, dit was n onuitputbare bron van kennis wat vir nie vir slim mense bedoel was nie maar wat my soos n handskoen gepas het. Die natuur en die diere en sy mense en almal se gedrag was in my bloed en in my wese en ek wou hierdie bron so ver as moontlik ontgin. Dit was my eintlike doel om te kom jag in Afrika, om te kom leer en om te kon raaisels wat my so lank gepla het te kom oplos. Ek was besig om my kanse te verspil.

Die vrede van die aarde het oor my gedaal en ons het gesels soos ou vriende, Lothar met die inboorling hoofman op kamera en ek en Jeannie wat vir Herman op sy beste gesien het as n nagemaakte joernalis wat saam met sy metgesel( ek het nooit sy naam opgeteken nie) en hulle het die wyse ou man ondervra en kon hom nie vasvra nie. Ek was meer as twee jaar Selby se hoofman en ek het eintlik niks geweet van wat werklik in die veld aangaan nie. Daar was net nie tyd nie om al die kennis in te neem en te ontdek nie. Hoe meer die mense oor die natuur gepraat het, hoe meer het ek besef dat ek myself in die voet geskiet het deur te veel te vinnig te wou bereik. Prof Fritz het vir my een aand gese dat al sou hy 300 jaar oud word sou hy net 10% kennis he van dit wat hy so graag van die veld wou he. As n mens werklik belang stel dan was jou brein te klein en jou bandopnemer te gou vol. Hulle het oor alles gepraat, van Mopanie bytjies tot luislange en die oornames van leeus wat ek darem al baie gesien het en die luiperd wat net soos n inboorling wat te sleg is net sy vrou swanger maak en dan gaan soek na n ander een. Hulle maak nie kinders saam met die ma,s groot nie. Manwasi het die mensdom met die diereryk vergelyk en dit was ongelooflik leersaam. Vrouens was die olifant koeie wat in troppe sou saam leef en die nageslag sou grootmaak. Leeus was die regte mense, dit was mannetjies wat kon baklei vir hulle plekke en hulle het gehelp kinders groot maak, tog het hulle ander leeus se kinders dood gemaak. Wildehonde was weer abnormaal, hulle het net een teef en een reun se kinders toegelaat, die res het of af gestig of is dood gebyt. Mens kon baie by die natuur leer en baie op n mens se eie lewe van toepassing maak, dan moes jy egter n kind van Afrika gewees het. Dit het laat geword en die kos en whisky was lekker en ek het in my hut gaan le met die bandopnemer en so veel van die dag vasgevang as wat ek kon. Dit was baie leersaam uit die mond van n boorling van Botswana. Ek het al geslaap toe Jeannie die bandopnemer aanskakel en haar gedeelte opneem. Ek het altyd baie vroeer as sy gaan slaap en moes haar elke more wakker soebat. Ek was egter terug waar ek wou wees en het gedoen wat ek wou doen en ek sou alles in my vermoe doen om dit so te kon behou. Ek wou net jag en leer en my eie raaisels oplos.

Die nagaap het nog sy bek geklap in die weste en die hele kamp was nog doodstil toe ek op gestaan het en by Jas se vuurtjie my ketel gaan neersit het. Hy het nog geslaap en ek kon sy diep asemteue hoor en ek het nog Hardekool opgegooi en die ligter Mopanies en binne minute was die vuur groot. Ons het koffie gedrink en dit was nog donker en ek het my pyp opgesteek en gesels. Ek was maar altyd die man wat die vroegste geroer het en en ook gaan slaap het, ek het vir ons beskuit gaan haal en ek en my boesmans kon lekker sonder mense gesels. Van al die minder gegoede nasies van Afrika sal ek vir hulle altyd die liefste wees. Hulle was kinders van die aarde gemaak en gebrei deur die natuur elemente. Hulle was vir my die beste gekleurde nasie wat ek ooit in Afrika sou ontmoet. Hulle was baie lojaal, te lojaal en hulle het almal vertrou tot hulle eie nadeel en hulle was vir eeue leierloos en het geen seggenskap gehad nie. Myne was Barakwena boesmans wat baie ver van die woestyn boesman verwyder was maar hulle het dieselfde probleme gehad en die het die selfde menslike behoeftes gehad. Ons het gepraat oor die ander soorte boesmans en omdat ons saam geskuif het vanaf die Linyati na waar ons nou gebly het en of hulle gelukkig was. Hulle het gekla, soos die eerlike mense maar was, ek was te min daar en hulle moes te veel tuin maak, ons moes terug na ons ou jagvelde gaan. Ek het geluister, dit was hulle beurt, met spek en eiers en wors op die vuur met die ligdag wat gebreek het in die ooste na die die Valle se kant toe, het ek besef dat ek my boesmans eintlik baie afskeep. Hulle was maar net altyd daar en ek het hulle aanvaar en betaal en gedoen wat ek moes, hulle was lojaal en my ander bedrywighede het my so besig gehou en die mense wat vir my so lief was, was afgeskeep. Ek het vir Jeannie gaan wakker sukkel met tee en n stukkie spek onder haar neus en sy moes kom luister, ons het n huislike probleem gehad en sy was deel daarvan. Sy het n rukkie later opgedaag en ons kon beloof dat ons meer daar sou wees vir ons werkers wat eintlik maar net die drie was. Ons sou ons beste probeer om ons belofte tot stand te hou. Sy het weer gaan slaap en ek het my geweer geneem en vir elke boesman een gegee en gese dat ons die spore om die bees slaaplek moes gaan deurkyk. Hulle was nie opgelei met gewere nie maar het geweet hoe dit werk en my eerste doel sou wees om hulle te leer skiet en so meer selfvertroue te gee. Ek het so baie staat gemaak op die jagters saam met my wat ek so vele dae nie eens geken het nie, ek het my verlaat op Katwindi en Luka wat gesweer het elke boesman absoluut onnosel was. Hulle was baie goeie jagters maar het ook maar baie dae staat gemaak op die vernuf van my boesmans. Daar sou n klem verskuiwing moes kom. Dit was tyd om hulle tot hulle werklike roeping te bring as natuurkenners by uitnemendheid. Dit was wat hulle was. Ek het besluit om Xolile aan te stel om hulle te leer skiet en te leer bestuur en so meer mens waardigheid in te probeer kweek. Ek het met Jakkie gereel en hy kon gebruik word so lank ek hom nodig gehad het. Hy het n baie aangename geaardheid gehad en was baie geduldig en ek was seker dat hy aan my vereistes sou kon voldoen. Daar was genoeg gewere en genoeg bakkies en die ruimte was genoeg dit was net die leerwerk waarvoor die natuurmense nie aangele was nie. Tog was hulle intelligent genoeg om dit te kon baasraak.

Elke leek sal vir homself kan in dink, as jy jou hele lewe lank afhanklik van die veld was en jy was bykans elke dag honger, dan sal jy wil oorleef. Dit is maar net wat die mense elke dag doen tot hulle kon dink dat dit vir hulle self sou beter gaan. Hulle bestaan en oorlewing het daarvan afgehang. As jy jou maag wou vol he vanaaand was net jy daarvoor verantwoordelik Ons het gaan stap en om die watergat gaan loop en ek wou die nag se spore lees en hulle moes my reg help. Dit was absoluut wonderlik hoe hulle kon spore lees van elke dier en selfs n geitjie, na n lang gestry kon identifiseer as n wyfie wat sou gaan broei en tot haar nes gekry het. Hulle het my die honger wildehond teef se spoor gewys en die haar hele verhaal vertel. Sy was basies n non wat swanger geraak het en sy het gevlug, sy was besig om sewe klein honde op haar eie groot te maak. Hier was kennis wat ek op baie groot uitgemis het en ek het ongelooflik skuldig gevoel daaroor. Hulle kon jakkalse uitwys met kleintjies en so vele ander diere tot n spinnekop. Die watergat was seker nie meer as driehonderd meter in omtrek nie, daar was n juweel van spore en verhale en opsommings en dit wat elke boesman sou verduidelik. Geen westerlike kennis was naasteby op die manne ingestel nie. Ek het besef dat ek baie meer moes doen met die kennis van die mense en sou dit graag saam met prof Fritz Ellof wou doen wat beloof het om te kom kuier. Die verborge verhale en stories rondom watergate was vir my altyd baie fassinerend en hier het ek die kans gehad om dit deur kenners aan my duidelik te kon maak. In hulle eenvoudige taal en maniere van verduidelik byna soos kinders het die legkaarte van Afrika se geheime perfek in mekaar begin pas. Hierdie mense was meesters, gebrei deur dure ondervinding en swaarkry en deur die natuur self opgelei. Hulle was konings op hulle gebied en ek het dit in twee jaar nie werklik raak gesien nie. Ek het van hulle vermoens geweet maar dit nooit werklik tot reg laat kom nie, hier was skatte opgesluit wat ontgin moes word.

Ek het met prof Fritz geskakel en gese dat ek die kennis van die mense wou boekstaaf en dat hy na my toe moes kom so gou dit hom sou pas. Dit sou later een van my beter tye word saam met hom.

13 April 1978




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed