Coenie Horak (MCH)
Lees meer oor Coenie Horak (MCH)
BRONSKLAS
AUGUSTUS 2024 – SKULDLAS PROJEK
1.Sinkretisme
die kousaliteit van afrikanerskap
se neksus neig van nature na negatiwiteit
na drie dekades van selfverwyt
oor ons nasionale idolatrie se nalatenskap
en van volkshelde wat met vuil vroetelvoete
onvas waggel in modder en klei
en ons met volksgodsdiens mislei
t’wyl sestienjarige snotkop seuns met sproete
hul enkelmammas boks en baklei
want pretorius en retief en theron
was dan onverbonde messelmanne van formaat
gereliëf in die sonstempel tot ligbron
o wie is dan tog ons heldedom
vereer op die sarkofaag van die afrikanerdom
so buig ons neer voor die son in hierdie land
teen die middaguur se kant
verkneg aan hierdie bousel van bokryery
geslagte lank reeds geketting aan slawerny
(C)MCH – Coenie Horak
Piet Retief se oorblyfsels was uitgeken aan stukkies van sy satyn onderbaadjie, waterbottel met
die Vrymesselaars simbool en ‘n verweerde sak.
3.Een duisend letter rangskikkings later
die lettersetter van al my dig
stap stil soos sonde tot buite my sig
verse wat so maklik kom nes het in my gees
oor my geleefdheid se knak en kneus
en die bangte van my vrees
en van my verkeerd se wees
is geperkament op my oopgroefsenuwees
drange en drifte het uitgewoed met swier
skerppunt ammunisie se potloodpunt snelvuur
uitgeskiet op ‘n melkweg van wit papier
by my stolspoor se kruiswisselsinjaal
moet ek weer terugklim
nog ‘n maal
vir myself en my taal …
(C)MCH – Coenie Horak
OKTOBER 2024 – AFRIKAANSE WOORD PROJEK
1.Verootmoediging
die jaar se geleefdheid sterf by my verby
in paaiemente wat dwarsdeur die pekel van pyn beur
verweerd deur seisoene se sny en skel en skeur
en my vol kwota tongstorms onbely
wat die volwolksnag se umbra laat gedy
en gedoende dade wat grense kartets in galgeur
persona non grata! staan jy voor ‘n geslote deur
in ‘n hede wat blywend aan grou gisters sterf en ly
in die lanfer van rou stap ek verby al my geraamtes
bewus dat my sawwe tong nou anders moet lê
vir my mensmedenes wat mank aan afrikaans is
want my nuwe gedig sal sy slot nooit ooit wis
en die bard sal nou net luister en niks skerp sê
my hart buig in my binneste, sag maar beslis
(C)MCH Coenie Horak
Neoligismes:
Tongstorms – konflik, bekgevegte, uitbarstings.
Mensmedenes – eie verbuiging van medemens, naaste.
3.Lankmoe( r)digheid
in onnederige onverdraagsaamheid glo ek opreg
aan proselitisme van die pendulum se swaai
eensydig het die waarheidswet my siel so swaar verkneg
dat die kommerkante van die karmawiel weemoedig draai
toe stort die katedraal van sekerhede in duie
ongespeen van die moedersmelk van Mammon se leed
en aweregse duld–geen-strooi inkarnasie tye
het langsaam opgewen tot outydse oumens swamskeet
serviele siekte het sintsekerhede ontmasker
hardnekkig bly ek skif tot toebedeelde vrugbaarheid
en my knorrige gewete karwei ou leuens verseker
nou stap ek maar stil soos straf stadig deur jou beksbeleid
onblind flanker my verligte hart om die belgsbitter
jou wette van hierdie spel word die nuwe helheid
(C)MCH
Voetnota:
Neoligismes:
Waarheidswet – alle dinge wat jou psige vorm en bepalend is van jou vertolking van integriteit.
Kommerkante – die veelheid van aspekte waaroor die mens hom dag na dag kwel.
Beksbeleid – ander se wyd gepropageerde rigtingwysers waarbinne individue moet wandel.
Woordverklarings:
Proselitisme – sterk bekeringsywer.
Karma – Boeddistiese filkosofie( What goes around, comes around)
Mammon – geldgod.
Inkarnasie – aanneming deur ‘n gees van ‘n vleeslike liggaam.
Serviel – slaafs, kruipend, gunswerwend.
Sint – heilige.
Skif – een van die ander afsonder.
Belg – kwaadmaak, vertoorn.
November 2024 – OOP projek
2.Die oudorpsmuseum
Die drie stigtersvaders verweer ononderbroke
en wees in hul ovaalbestek
gesuspendeer teen ‘n kleurlose
kalk kerkmuur
en gluur grimmig na die laaste
gas gangaf se geskil met gister
bewyse baklei bekkig oor feite en
saans as die maan soos
‘n bak, sy silwer water uitgooi
hoor jy hoe vervloeё dae deernisvol
huil soos ‘n ou hond
die dae van die dooies het
deemoedig deelgeword
van ons laaste verrotting
in verwaarloosde grafte
angstig Alzheimer die lewendes
oor gister in onkunde se marteljas
is dit waaragtig hoe tyd self uitdoof
tot die verleptheid van angeliere
wat onopgeteken verwyl
in gister se vererde vaas …
(C)MCH
SILWERKLAS
Januarie 2025 – OOP projek
1.Tjailatyd
Ode aan Theuns Jordaan
die jakarandas in duncanstraat
tooi ‘n taaitraan treur in pers
mcGillis en mcGintis in hatfield onthou steeds
hul skorstem seun se songs so salisiel
ek wou so graag nog gaan luister, een aand
waar jy die bekfluit vasknyp
tussen jou tande nes boerbeskuit
helaas, my stoel is leeg en my hart hoop
tevergeefs
op jou staanskaduwee se leë snars
die eelt het reeds van jou vinger gekwyn en
die plektrum het permanent tussen jou snare gaan plak
net op youtube reën jou malvas steeds sonoor
sodat ek langer kan onthou
nou is dit theunsie, sulke tyd
toe jou asem soos sout verslaan
het legio luisterlinge stom gaan staan
nee, nooit ooit weer sal jy ritmies in Afrikaans
rock en rasper
nog ‘n onvoltooide droom raak weg in die mis
van verre vergeteldheid
soos die pê plastiek van die
agterste sitplek van ‘n ford fairlane …
(C)MCH
Erkenning:
Tjailatyd – Theuns Jordaan
Beautiful in Beaufort Wes – Gert Vlok Nel
Maart 2025 – OOP projek
3.Skabreus
ek slaan my oë op na die halfgehapte witteberge
wat onverduurlik in grouheid gryns en gloei
en bokkerol bevestig en beaam van
wat ek geleer het van moederskoot reeds
waarvandaan sal daar hulp kom vir die swak sieligheid
van my beroerde binneste bekonkeldheid man
niemand en niks word meer heel nie
orals lê gebreekte glas en geld en geweld
my hulp is egter van die een wat alles grof en skerp
gemaak het uit die niks van nêrens
my desillusie in demagogie is dus deikties
en my weersin is volkome
nou sal my voet onwankelbaar trap
na daardie helder onhaalbare horison
wat weids en welig wag
sonder sigbare skuiwergat
(C)MCH
19/02/2025
Skabreus – gewaagd, onwelvoeglik
Desillusie – ontnugtering
Demagogie – volksmisleiding
Deikties – aanduidend, vooruitwysend
NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP PROJEK
1.Ter aarde bestelling
want eintlik maar net veronderstel is om
sombere samedrommngs van
familie en vriende en aangeweefdes te wees
maar met koek en tee en samoosas wordend
geleenthede van gemeenskaplike groetbrigades
van lofpsalms en hallelujas en amens
oor vervaldes wat ek hoegenaamd
nie eien aan die hordes hiperboliese himnes nie
wat my altoos bring by die vraag oor my
eie nalatenskap voor die groot vergetelheid
wat teisterend toesak oor die treurendes
ek, wat maar net vel en vlees van vele foute
is, onvergeefd deur vele binne en buite
my bloedskwadrant
ek, ek sal my flenter lettertjies
voortgebring deur my stukkie verleende verstand
inspan en rangskik tot letterlourier
en so help mooimaak aan Sy
groot-groot kunswerk
van alles wat daar is
en waar is
(C)MCH
2.repliek
gister se goed geankerde fondamente
van ons bronsbakens bonkig en blink
en klepels van kerkklokke
wat in afrikaans koorlik klink
dit is net artefakte nou wat doelloos
draal deur die droewe driwwe
van die vier en veertig dissidente
ja, die kopdoek korps van die kapsie kultuur
wat ons vasspyker teen hul presumasiemuur
ons betaal duur vir die wat ons hart verlaat
bloedsverwante wat hul slagare poog sny
sodat die as en stof
van ons verwante dooie familie
soos ’n gaasdoek wegwaai
die lewe het duur geword vir afrikaners
en daarmee saam kom die dood se
doemprofete se vloeke mos altoos uit
gister vandag se seker nog vir honderd jaar
die verdomde hensoppers maak hul
akademiese duimsuiery mos altyd waar
dat ek van jul gespeen is
dra ek met tierende trots
gedistingeerd
soos ‘n dubbelken
(C)MCH
3.Onthou
ek onthou deesdae maar sleg
seker maar oor my oorsaaklike verval
tydens hierdie taktlose tydsinterval
van veselverwering en verstandsbeleg
ek raak boonop ook gou boekbabelaas
met my yl woordweefsels wat skielik stop
dis ‘n gesukkel om rym en vers te laat klop
dus volg ek ‘n ongewone trant helaas
want my onthou is soos bybelse vergiffenis
so ver verwyderd as oos van wes
en die tien praatsplae bly my pes
verse word al meer van ‘n ergenis
wat hou my letters en verse dan uitmekaar
so stil en stom en angsvallig
dalk is ek maar net
god en bedelaar
tegelyk
(C)MCH
JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN PROJEK
2.te naby my
jou hande het te klein geword
om my vas te hou
my tentpenne moes ek verder inslaan
sodat my skadu steeds skuiling kon bied
aan die siele wie se dag sterf
soos ‘n rot op sy rug
ek het losgeraak van die pyn en seer
en van jou so teenaan my
ek verrys nou uit die deinserigheid
van nodelose nabyheid
vérder as jy fokus my vrede nou
en arseer die fondamente van
vaste vensterverdiepings
so hoog
ek het nou opgestaan
om my eie horisonne te breek
omdat ek moeg geword het
vir die onsiende gestaar na
wie ek eintlik is
want jy leef hopeloos blind en bot
te na aan
my
(C)MCH
(6)