Jopie Fourie
Josef Johannes (Jopie) Fourie is op 27 Augustus 1878 gebore in die Distrik Pretoria en
sterf in 1914 voor ‘n vuurpeloton. Hy word deur baie as ‘n held gesien wat tot die einde
gestaan het vir dit waarin hy glo.
Tydens die Jameson-inval het die sewentienjarige Jopie, saam met sy oom Japie, onder
Kommandant Piet Roos gedien. Hulle was dan ook betrokke by die laaste harde
skermutseling wat gelei het tot die opsteek van die wit vlag (na bewering ‘n voorskoot)
deur dr. Jameson se manne. Jopie word toe deur kommdt. Roos versoek om ‘n brief
op te stel en sommer ook belas om die brief aan die doktor te gaan oorhandig. Kort
daarna het dr. Jameson oorgegee.
Jopie was ‘n verkenner en rapportryer tydens die Tweede Vryheidsoorlog en is
gewond en gevang tydens ‘n skermutseling noord van Pretoria. Na dié oorlog bly
hy betrokke by die Burgermag en sluit in 1914 aan by die sogenaamde 1914-Rebellie
teen die toentertydse eerste minister, Louis Botha, se omstrede besluit om Duits-
Suidwes-Afrika binne te val as deel van die oorlogspoging van Brittanje en haar
bondgenote teen Duitsland.
Jopie Fourie is in die omgewing van Rustenburg gevange geneem op 16 Desember 1914,
het voor ‘n krygshof verskyn en is op 20 Desember tereggestel. Hy is die enigste
deelnemer aan dié Rebellie wat op hierdie wyse die hoogste prys betaal het.
Die volgende aanhalings kom uit die boek: Jopie Fourie, ‘n Lewenskets, deur J.M.De
Wet, 1940:
“Ek kan nie insien waarom ons jong Afrikaners vir Engeland se eer moet veg nie.
Wanneer ons die moord van Slagtersnek nagaan… en wanneer ek dink aan die
30,000 vroue en kinders wat vermoor is, sien ek nie waarom ek Engeland moet
help om sy eer omhoog te hou nie.”
“Ek weet dat die regering my as ‘n rebel beskou en in my teleurgesteld is. Ook is
ek teleurgestel in die regering wat ek gehelp op die been bring het en waarvoor
ek my bloed opgeoffer het…”
“Wat ek gedoen het, het ek met oop oë en uit eie vrye oortuiging gedoen. Selfs is ek
tot vandag toe nog oortuig dat God die onreg nie sal gedoë nie…”
“Ek kan nie vals wees nie! Nooit in my lewe het ek dit kon wees nie! En mag God my
bewaar om nooit ‘n valsaard te word nie! My dade het altyd my hart geopenbaar. Ek
is nie van plan om die hof om genade te vra nie. Die genade van my Skepper wat my
gelei het, is vir my genoeg…”
“Genade? Is dit nie opmerklik dat ek die seun moes wees wat met die witvlag na
Jameson ingery het met sy oorgawe? Hy is gevang en vry gelaat, en daarna word
hy sir Starr Jameson; maar ek moet sterwe, daartoe veroordeel deur my eie mense
wat twaalf jaar gelede saam met my gestry het vir ons land en volk se vryheid.”
“O, ek hoop tog hulle sal my nie in my gesig skiet nie,” en terwyl hy sy hand op sy
bors lê, laat hy hoor: “Hier is ‘n groot Afrikanerhart, groot genoeg om al hul koeëls
te ontvang.”
“…so seker as ek u hier voor my sien, is ek oortuig dat die Here met sy dierbare bloed
vir my sonde versoening gedoen het; en dat Hy nou kom om my by die hand te
neem en deur die dal der skaduwee des doods weg te lei. Hy is mos hier by ons,
ons kan Hom voel…”
Met vaste stem begin Josef Gesang 20:8 sing: “Als wy de doodsvallei betreën,
Laat ons elke aardse vriend alleen…” Aan die end van die tweede versreël klink die
order – die skote val en kommandant Josef Fourie stort neer.
Bron: http://kvbnuusblad.blogspot.co.za/2012/02/ons-kinderhelde-word-soms-vergeet.html